Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 78

Jesus verkondig die boodskap van die Koninkryk

Jesus verkondig die boodskap van die Koninkryk

Kort ná sy doop het Jesus begin preek en gesê: ‘Die Koninkryk van God is naby.’ Dissipels het hom gevolg terwyl hy in Galilea en Judea van die een plek na die ander gegaan het. Toe Jesus na sy tuisdorp Nasaret teruggaan, het hy na die sinagoge toe gegaan. Daar het hy die boekrol van Jesaja oopgemaak en hardop daaruit begin lees: ‘Jehovah het aan my heilige gees gegee sodat ek die goeie nuus kan verkondig.’ Wat het dit beteken? Al wou mense sien hoe Jesus wonderwerke doen, was die belangrikste rede waarom hy heilige gees ontvang het sodat hy die goeie nuus kon verkondig. Toe het hy vir die mense wat na hom geluister het, gesê: ‘Vandag het hierdie profesie waar geword.’

Daarna het Jesus na die See van Galilea toe gegaan. Daar het hy vier vissermanne ontmoet wat sy dissipels geword het. Hy het vir hulle gesê: ‘Kom saam met my, en ek sal julle vissers van mense maak.’ Hulle name was Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Hulle het dadelik hulle werk as vissermanne gelos en hom gevolg. Hulle het in die hele Galilea oor Jehovah se Koninkryk gepreek. Hulle het in die sinagoges, by markte en op straat gepreek. ’n Groot groep mense het hulle gevolg waar hulle ook al gegaan het. Die nuus omtrent Jesus het oral versprei, selfs tot by Sirië.

Later het Jesus aan party van sy volgelinge die krag gegee om mense gesond te maak en om demone uit te dryf. Ander mense het saam met hom gegaan terwyl hy van stad tot stad en van dorp tot dorp gepreek het. ’n Hele paar getroue vroue insluitende Maria Magdalena, Johanna, Susanna en ander het vir Jesus en sy volgelinge gesorg.

Nadat Jesus sy dissipels goed opgelei het, het hy hulle uitgestuur om te gaan preek. Terwyl hulle regoor Galilea gepreek het, het baie ander mense dissipels geword en is hulle gedoop. Daar was so baie mense wat dissipels wou word dat Jesus gesê het dat hulle soos ’n landery is wat reg is om geoes te word. Hy het gesê: ‘Bid vir Jehovah en vra hom om meer werkers te stuur om die oes in te samel.’ Later het hy 70 van sy dissipels gekies om twee-twee oral in Judea te gaan preek. Hulle het alle soorte mense oor die Koninkryk geleer. Toe die dissipels terugkom, was hulle baie opgewonde om Jesus te vertel wat gebeur het. Daar was niks wat die Duiwel kon doen om die predikingswerk te keer nie.

Jesus het seker gemaak dat selfs nadat hy teruggegaan het hemel toe, sy dissipels met hierdie belangrike werk sou aanhou. Hy het vir hulle gesê: ‘Preek die goeie nuus regoor die wêreld. Leer God se Woord vir mense, en doop hulle.’

“Ek moet die goeie nuus van die Koninkryk van God ook aan ander stede bekend maak, want hiervoor is ek gestuur.”—Lukas 4:43