Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 10

Dink aan Lot se vrou

Dink aan Lot se vrou

Lot het saam met sy oom, Abraham, in die land Kanaän gebly. Op die ou end het Abraham en Lot so baie diere gehad dat daar nie genoeg land vir hulle almal was nie. Abraham het vir Lot gesê: ‘Ons kan nie meer saam op dieselfde plek bly nie. Kies asseblief na watter kant toe jy wil gaan, dan sal ek na die ander kant toe gaan.’ Dink jy nie dat dit onselfsugtig was van Abraham nie?

Lot het ’n baie mooi deel van die land naby ’n stad met die naam Sodom gesien. Daar was meer as genoeg water en groen gras. Daarom het hy hierdie plek gekies en saam met sy gesin daar gaan bly.

Die mense van Sodom en van ’n stad daar naby, Gomorra, was baie sleg. Hulle was so sleg dat Jehovah besluit het om hierdie stede te vernietig. Maar God wou Lot en sy gesin red, en daarom het hy twee engele gestuur om hulle te waarsku. Die engele het gesê: ‘Maak gou! Gaan uit hierdie stad uit! Jehovah gaan dit vernietig.’

Lot het nie dadelik gegaan nie. Hy het bly uitstel. Daarom het die engele Lot, sy vrou en sy twee dogters aan die hand gevat en hulle haastig uit die stad gelei. Hulle het gesê: ‘Hardloop! Vlug vir julle lewe en moenie omkyk nie. As julle omkyk, sal julle doodgaan!’

Toe hulle by die stad Soar kom, het Jehovah vuur en swael op Sodom en Gomorra laat reën. Daardie twee stede is heeltemal vernietig. Lot se vrou was ongehoorsaam aan Jehovah en het omgekyk. Sy het in ’n soutpilaar verander! Maar Lot en sy dogters was veilig omdat hulle gehoorsaam was aan Jehovah. Hulle was seker baie hartseer omdat Lot se vrou ongehoorsaam was. Maar hulle was bly dat hulle gedoen het wat Jehovah gesê het.

“Dink aan die vrou van Lot.”—Lukas 17:32