Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 38

Jehovah het Simson sterk gemaak

Jehovah het Simson sterk gemaak

Baie Israeliete het weer begin om afgode te aanbid, en daarom het Jehovah toegelaat dat die Filistyne die Israeliete se land oorheers. Maar daar was nog ’n paar Israeliete wat vir Jehovah lief was. Een van hulle was Manoag. Hy en sy vrou het nie kinders gehad nie. Eendag het Jehovah ’n engel na Manoag se vrou toe gestuur. Die engel het vir haar gesê: ‘Jy gaan ’n seun hê. Hy sal Israel red, want hy sal teen die Filistyne veg. Hy sal ’n Nasireër wees.’ Weet jy wie die Nasireërs was? Hulle was spesiale knegte van Jehovah. Nasireërs mag nooit hulle hare gesny het nie.

’n Ruk later is Manoag se seun gebore, en hy het hom Simson genoem. Toe Simson groot geword het, het Jehovah hom baie sterk gemaak. Hy kon ’n leeu met sy kaal hande doodmaak. Eenkeer het Simson 30 Filistyne op sy eie doodgemaak. Die Filistyne het hom gehaat en het die hele tyd probeer om hom dood te maak. Terwyl Simson een nag in Gasa geslaap het, het die Filistyne na die hek van die stad toe gegaan en daar gewag sodat hulle hom in die oggend kon doodmaak. Maar in die middel van die nag het Simson opgestaan, na die stad se hek toe gegaan en die hek uit die muur geruk. Toe het hy die hek op sy skouer gesit en dit tot op die top van ’n berg naby Hebron gedra!

Later het die Filistyne na Simson se meisie, Delila, toe gegaan en gesê: ‘Ons sal jou duisende silwerstukke betaal as jy uitvind hoekom Simson so sterk is. Ons wil hom vang en hom in die tronk sit.’ Delila wou die geld hê, en daarom het sy gesê dat sy dit sal doen. Simson wou haar eers nie vertel hoekom hy so sterk is nie. Maar sy het hom oor en oor gevra totdat hy moeg geword het, en toe het hy haar vertel wat sy geheim is. ‘My hare is nog nooit gesny nie, want ek is ’n Nasireër,’ het hy gesê. ‘As my hare afgesny word, sal ek my krag verloor.’ Dink jy ook dat Simson ’n groot fout gemaak het toe hy dit vir haar vertel het?

Delila het onmiddellik vir die Filistyne gesê: ‘Ek weet wat sy geheim is!’ Sy het Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en toe sy hare laat afsny. Delila het geskree: ‘Simson, die Filistyne is hier!’ Simson het wakker geword, en sy krag was weg. Die Filistyne het hom gegryp, hom blind gemaak en hom in die tronk gesit.

Eendag het duisende Filistyne in die tempel van hulle god Dagon bymekaargekom en geskree: ‘Ons god het Simson aan ons gegee! Bring Simson uit! Laat ons ’n bietjie vir hom kan lag.’ Hulle het hom tussen twee pilare laat staan en hom gespot. Simson het uitgeroep: ‘O Jehovah, gee my asseblief nog een keer krag.’ Teen hierdie tyd was Simson se hare weer lank. Hy het met al sy krag teen die pilare van die tempel gestoot. Die hele gebou het inmekaargeval, en al die mense wat in die tempel was, is dood. Simson het ook gesterf.

“Ek is tot alles in staat deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13