Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 65

Ester red haar volk

Ester red haar volk

Ester was ’n Joodse meisie wat in die stad Susan in Persië gebly het. Haar familie was onder die mense wat jare tevore deur Nebukadnesar uit Jerusalem weggeneem is. Sy is grootgemaak deur haar neef Mordegai, wat ’n kneg was van koning Ahasveros, die koning van Persië.

Koning Ahasveros wou ’n nuwe koningin hê. Sy knegte het die mooiste vrouens in die land na hom toe gebring, insluitende Ester. Uit al die vroue het die koning Ester gekies om koningin te word. Mordegai het vir Ester gesê om nie vir mense te vertel dat sy ’n Jood is nie.

’n Trotse man met die naam Haman was hoof oor al die leiers. Hy wou hê dat almal voor hom moes neerbuig. Mordegai het geweier om dit te doen, en dit het Haman so kwaad gemaak dat hy Mordegai wou doodmaak. Toe Haman uitvind dat Mordegai ’n Jood is, het hy ’n plan gemaak om al die Jode in die hele land dood te maak. Hy het vir die koning gesê: ‘Die Jode is gevaarlik. Jy moet van hulle ontslae raak.’ Ahasveros het gesê: ‘Doen wat ook al nodig is.’ Die koning het toe vir Haman die mag gegee om ’n wet te maak. Volgens hierdie wet moes die volk al die Jode op die 13de dag van die maand Adar doodmaak. Jehovah het dit alles raakgesien.

Ester het nie van die wet geweet nie. Daarom het Mordegai haar van die wet laat weet en vir haar gesê: ‘Gaan praat met die koning.’ Ester het gesê: ‘Enigiemand wat na die koning toe gaan sonder dat hy genooi is, sal doodgemaak word. Die koning het my 30 dae laas genooi om na hom toe te kom! Maar ek sal gaan. As hy sy septer na my toe uithou, sal ek lewe. As hy dit nie doen nie, sal ek sterf.’

Ester het na die koning se voorhof gegaan. Toe die koning haar sien, het hy sy septer na haar toe uitgehou. Sy het na hom toe gegaan, en hy het gevra: ‘Wat kan ek vir jou doen, Ester?’ Sy het gesê: ‘Ek wil graag vir jou en Haman uitnooi om ’n lekker ete te kom geniet.’ By die ete het Ester hulle weer uitgenooi na nog ’n lekker ete. By hierdie tweede ete het die koning weer gevra: ‘Wat kan ek vir jou doen?’ Sy het gesê: ‘Iemand gaan my en my hele volk doodmaak. Red ons asseblief.’ Die koning het gevra: ‘Wie wil jou doodmaak?’ Sy het gesê: ‘Hierdie slegte man Haman.’ Ahasveros was so kwaad dat hy Haman onmiddellik laat doodmaak het.

Maar niemand kon die wet verander wat Haman gemaak het nie, nie eers die koning nie. Daarom het die koning Mordegai hoof van al die leiers gemaak en hom die mag gegee om ’n nuwe wet te maak. Mordegai het ’n wet gemaak wat die Jode toegelaat het om terug te baklei wanneer iemand hulle aanval. Op die 13de dag van Adar het die Jode teen hulle vyande baklei en gewen. Van toe af het hulle elke jaar hierdie dag gevier.

“Julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies.”—Matteus 10:18