Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LES 54

Jehovah was geduldig met Jona

Jehovah was geduldig met Jona

In die Assiriese stad Nineve was die mense goddeloos. Jehovah het vir sy profeet Jona gesê om na Nineve toe te gaan en die mense te waarsku dat hulle moet verander. Maar Jona het in die teenoorgestelde rigting weggehardloop. Hy het op ’n skip geklim wat op pad was na Tarsis toe.

Terwyl die skip op die see gevaar het, het ’n verskriklike storm opgekom, en die matrose was baie bang. Hulle het tot hulle gode gebid en gevra: ‘Hoekom gebeur hierdie dinge?’ Uiteindelik het Jona vir hulle gesê: ‘Dis my skuld. Ek hardloop weg omdat ek nie wil doen wat Jehovah gesê het nie. Gooi my in die see, en dan sal die storm bedaar.’ Die matrose wou Jona nie in die see gooi nie, maar hy het aangehou sê dat hulle moet. En toe hulle dit doen, het die storm opgehou.

Jona het gedink dat hy gaan sterf. Terwyl hy dieper en dieper in die see afgesink het, het hy tot Jehovah gebid. Toe het Jehovah ’n baie groot vis gestuur. Die vis het Jona ingesluk sonder om hom dood te maak. Binne-in die vis het Jona gebid: ‘Ek belowe dat ek altyd aan u gehoorsaam sal wees.’ Jehovah het Jona drie dae lank veilig in die vis gehou. Toe het Jehovah seker gemaak dat die vis Jona op droë grond uitspoeg.

Jehovah het Jona gered. Het dit beteken dat dit nou nie meer nodig  was vir Jona om na Nineve toe te gaan nie? Nee. Jehovah het weer vir Jona gesê om soontoe te gaan. Hierdie keer was Jona gehoorsaam. Hy het vir die goddelose mense daar gesê: ‘Oor 40 dae sal Nineve vernietig word.’ Toe het iets onverwags gebeur—die Nineviete het geluister en hulle het verander. Die koning van Nineve het vir sy mense gesê: ‘Bid tot God en wys dat julle jammer is. Dalk sal hy ons nie vernietig nie.’ Toe Jehovah sien dat die volk regtig jammer is, het hy Nineve nie vernietig nie.

Jona was kwaad omdat die stad nie vernietig is nie. Dink net: Jehovah was genadig en geduldig met Jona, maar Jona het nie genade vir die mense van Nineve gehad nie. Hy het eerder dikmond buite die stad in die skaduwee van ’n kalbasplant gaan sit. Toe het die plant gevrek, en Jona het weer kwaad geword. Jehovah het vir hom gesê: ‘Jy gee meer vir hierdie plant om as vir die mense van Nineve. Ek was genadig teenoor hulle, en hulle het oorleef.’ Wat was die punt? Die mense van Nineve was belangriker as ’n plant.

“Jehovah . . . is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar hy wil hê dat almal berou moet toon.”—2 Petrus 3:9