Spring na inhoud

Wat is die groot verdrukking?

Wat is die groot verdrukking?

Die Bybel se antwoord

 Die mensdom sal tydens die groot verdrukking die ergste tydperk van probleme ondervind. Volgens Bybelprofesieë sal dit gedurende “die laaste dae”, of “die tyd van die einde”, plaasvind (2 Timoteus 3:1; Daniël 12:4). Dit sal “’n verdrukking wees soos daar sedert die begin van die skepping wat God geskep het tot op daardie tyd nie plaasgevind het nie en nie weer sal plaasvind nie.”—Markus 13:19; Daniël 12:1; Matteus 24:21, 22.

Wat gedurende die groot verdrukking sal gebeur

  •   Valse godsdiens sal vernietig word. Valse godsdiens sal baie vinnig vernietig word (Openbaring 17:1, 5; 18:9, 10, 21). Die politieke magte wat deur die Verenigde Nasies verteenwoordig word, sal God se wil uitvoer deur valse godsdiens te vernietig.—Openbaring 17:3, 15-18. a

  •   Ware godsdiens sal aangeval word. ’n Bondgenootskap van nasies, waarna Esegiël se visioen verwys as “Gog van die land Magog”, sal diegene wat ware aanbidding beoefen, probeer vernietig. Maar God sal sy aanbidders teen vernietiging beskerm.—Esegiël 38:1, 2, 9-12, 18-23.

  •   Die aarde se bewoners sal geoordeel word. Jesus sal die mensdom oordeel, en “hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei” (Matteus 25:31-33). Sy oordeel sal gegrond wees op die mate waarin elke persoon Jesus se “broers”, diegene wat saam met hom in die hemel sal regeer, ondersteun het.—Matteus 25:34-46.

  •   Koninkryksheersers sal ingesamel word. Getroues wat gekies is om saam met Christus te regeer, sal hulle aardse loopbaan voltooi en sal tot lewe in die hemel opgewek word.—Matteus 24:31; 1 Korintiërs 15:50-53; 1 Tessalonisense 4:15-17.

  •   Armageddon. Hierdie “oorlog van die groot dag van God die Almagtige” word ook “die dag van Jehovah” genoem (Openbaring 16:14, 16; Jesaja 13:9; 2 Petrus 3:12). Diegene wat ongunstig deur Christus geoordeel word, sal vernietig word (Sefanja 1:18; 2 Tessalonisense 1:6-10). Dit sal die vernietiging van die wêreldwye politieke stelsel insluit, wat in die Bybel deur ’n wilde dier met sewe koppe uitgebeeld word.—Openbaring 19:19-21.

Wat ná die groot verdrukking sal gebeur

  •   Satan en die demone sal opgesluit word. ’n Magtige engel sal Satan en die demone in “die afgrond” gooi. Dit is ’n simbool van ’n onbedrywige toestand soortgelyk aan die dood (Openbaring 20:1-3). Satan se toestand in die afgrond kan vergelyk word met iemand wat in die tronk is; hy kan nie sake op enige ander plek beïnvloed nie.—Openbaring 20:7.

  •   Die Millennium sal begin. God se Koninkryk sal sy 1 000-jarige heerskappy begin, wat groot seëninge vir die mensdom sal bring (Openbaring 5:9, 10; 20:4, 6). ’n Ongetelde “groot menigte” sal oorleef en “uit die groot verdrukking kom” en die begin van die Millennium op die aarde sien.—Openbaring 7:9, 14; Psalm 37:9-11.

a In die boek Openbaring word valse godsdiens gesimboliseer as Babilon die Grote, “die groot hoer” (Openbaring 17:1, 5). Die skarlakenkleurige dier, wat Babilon die Grote vernietig, is ’n simbool van die organisasie wie se doelwit dit is om die nasies van die wêreld te verenig en te verteenwoordig. Dit was eers die Volkebond en is nou die Verenigde Nasies.