Spring na inhoud

Wie of wat is “die Alfa en die Omega”?

Wie of wat is “die Alfa en die Omega”?

Die Bybel se antwoord

 “Die Alfa en die Omega” verwys na Jehovah God, die Almagtige. Hierdie term kom drie keer in die Bybel voor. — Openbaring 1:8; 21:6; 22:13. a

Hoekom noem God homself “die Alfa en die Omega”?

 Alfa en omega is die eerste en die laaste letters van die alfabet in Grieks, die taal waarin ’n deel van die Bybel geskryf is. Hierdie deel staan oor die algemeen bekend as die Nuwe Testament, wat die boek Openbaring insluit. Die posisie van elkeen van hierdie letters in die Griekse alfabet word gebruik om te wys dat Jehovah alleen die begin en die einde is (Openbaring 21:6). Hy is God die Almagtige in die oneindige verlede, en hy sal aanhou om God die Almagtige vir ewig te wees. Hy is die enigste een wat “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd” bestaan. — Psalm 90:2.

Wie is ‘die eerste en die laaste’?

 Die Bybel gebruik hierdie term wanneer dit na Jehovah God sowel as sy Seun, Jesus, verwys, maar met verskillende betekenisse. Kyk na twee voorbeelde.

  •   In Jesaja 44:6 sê Jehovah: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie.” Jehovah beklemtoon hier dat hy die ewige ware God is. Buiten hom is daar geen ander nie (Deuteronomium 4:35, 39). In hierdie geval het die uitdrukking ‘die eerste en die laaste’ dieselfde betekenis as “die Alfa en die Omega”.

  •   Die term “die Eerste [pro’tos, nie alfa nie] en die Laaste [e’skha·tos, nie omega nie]” kom voor in Openbaring 1:17, 18 en 2:8. In hierdie verse wys die konteks dat die persoon waarna hier verwys word, gesterf het en later weer lewend geword het. Hierdie verse kan definitief nie na God verwys nie, want hy het nog nooit gesterf nie (Habakuk 1:12). Maar Jesus het gesterf en is uit die dood opgewek (Handelinge 3:13-15). Hy is die eerste mens wat opgewek is en wat onsterflike geeslewe in die hemel ontvang het, waar hy nou “vir ewig en altyd” lewe (Openbaring 1:18; Kolossense 1:18). Jesus is die een wat alle opstandings daarna doen (Johannes 6:40, 44). Daarom is hy die laaste een wat direk deur Jehovah uit die dood opgewek is (Handelinge 10:40). Op hierdie manier kan Jesus met reg “die Eerste en die Laaste” genoem word.

Bewys Openbaring 22:13 dat Jesus “die Alfa en die Omega” is?

 Nee. Die spreker in Openbaring 22:13 word nie spesifiek geïdentifiseer nie, en daar is verskillende sprekers in hierdie hoofstuk. Professor William Barclay het oor hierdie deel van Openbaring geskryf: “Dinge verskyn nie in ’n spesifieke volgorde nie; . . . en dit is dikwels baie moeilik om seker te wees wie die eintlike spreker is” (The Revelation of John, deel 2, hersiene uitgawe, bladsy 223). Daarom kan “die Alfa en die Omega” in Openbaring 22:13 geïdentifiseer word as dieselfde Persoon wat hierdie titel in ander dele van Openbaring gegee word — Jehovah God.

a Dit kom ’n vierde keer in Openbaring 1:11 voor in die King James Version van die Bybel. Maar die meeste moderne vertalings het nie hierdie term in hierdie teks nie omdat dit nie in die oudste Griekse manuskripte voorkom nie. Dit was blykbaar later in kopieë van die Skrif bygevoeg.