Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Nou voel ek dat ek ander kan help

Nou voel ek dat ek ander kan help
  • GEBORE: 1981

  • GEBOORTELAND: GUATEMALA

  • GESKIEDENIS: TRAGIESE KINDERJARE

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Acul, ’n afgesonderde dorp in die westelike hooglande van Guatemala. My gesin is deel van ’n volk wat die Ixil genoem word, ’n etniese groep wat van die Majas afstam. Ek het Spaans asook ons inheemse taal gepraat. Toe ek klein was, het ’n bloedige burgeroorlog in Guatemala gewoed. Die oorlog het altesaam 36 jaar lank geduur. Gedurende hierdie tyd is baie Ixil doodgemaak.

Toe ek vier jaar oud was, het my sewejarige broer met ’n handgranaat gespeel wat per ongeluk ontplof het. Ek het my sig verloor, maar my broer het sy lewe verloor. Daarna het ek my kinderjare deurgebring in ’n inrigting vir blinde kinders in Guatemalastad, waar ek braille geleer het. Om redes wat ek nie heeltemal verstaan het nie, het die personeel my verbied om met die ander kinders te praat, en die ander leerders het my vermy. Ek was heeltyd eensaam en het uitgesien na die twee maande elke jaar wanneer ek by die huis kon wees saam met my ma, want sy was altyd liefdevol en medelydend. Ongelukkig het sy gesterf toe ek tien jaar oud was. Ek het gevoel asof ek die enigste persoon wat my liefgehad het, verloor het, en ek was verpletter.

Toe ek 11 was, het ek na my tuisdorp teruggekeer en by my halfbroer en sy gesin gaan woon. Hulle het na my fisiese behoeftes omgesien, maar niemand kon my emosioneel help nie. Soms het ek tot God uitgeroep: “Waarom het my ma gesterf? Waarom is ek blind?” Mense het vir my gesê dat hierdie tragedies God se wil is. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat God ongevoelig en onregverdig is. Die enigste rede waarom ek nie selfmoord gepleeg het nie, is omdat dit nie vir my moontlik was nie.

Omdat ek blind is, was ek fisies en emosioneel weerloos. As ’n kind is ek meer as een keer gemolesteer. Ek het daardie misdade nooit gerapporteer nie omdat ek nie gedink het dat enigiemand sou omgee nie. Mense het selde met my gepraat, en ek het met niemand gepraat nie. Ek het my afgesonder, was depressief en het niemand vertrou nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In my vroeë tienerjare het twee van Jehovah se Getuies (’n egpaar) gedurende ’n pouse by die skool met my kom praat. ’n Onderwyseres by my skool, wat simpatie met my situasie gehad het, het hulle gevra om  my te besoek. Hulle het my vertel van die Bybel se belofte dat die dooies opgewek sal word en dat die blindes eendag weer sal sien (Jesaja 35:5; Johannes 5:28, 29). Ek het gehou van die dinge wat hulle my geleer het, maar dit was vir my moeilik om met hulle te gesels omdat ek nie daaraan gewoond was om te praat nie. Maar al was ek baie teruggetrokke, het hulle liefdevol en geduldig aangehou om my te besoek en my oor die Bybel te leer. Hierdie egpaar het meer as tien kilometer ver en oor ’n berg gestap om by my tuisdorp uit te kom.

My halfbroer het hulle aan my beskryf as netjies geklee, maar beslis nie ryk nie. Nogtans het hulle altyd persoonlike belangstelling in my getoon en vir my klein geskenkies gebring. Ek het tot die slotsom gekom dat net ware Christene sulke selfopoffering sou toon.

Hulle het die Bybel met behulp van braillepublikasies met my studeer. Hoewel ek verstaan het wat ek geleer het, was party dinge vir my moeilik om te aanvaar op emosionele vlak. Ek het byvoorbeeld gesukkel om te glo dat God werklik vir my as ’n persoon omgee en dat ander ook so teenoor my kon voel. Ek het verstaan waarom Jehovah goddeloosheid tydelik toelaat, maar dit was vir my moeilik om hom werklik as ’n liefdevolle Vader te beskou. *

Wat ek uit die Bybel geleer het, het my gehelp om my beskouing geleidelik te verander. Ek het byvoorbeeld geleer dat God baie medelye het met diegene wat ly. God het aangaande sy aanbidders wat sleg behandel is, gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk . . . ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Toe ek Jehovah se tere eienskappe leer ken het, is ek beweeg om my lewe aan hom toe te wy. In 1998 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Saam met die broer wat my in sy huis ingeneem het

Ongeveer ’n jaar nadat ek gedoop is, het ek ’n kursus vir die blindes naby die stad Escuintla bygewoon. ’n Ouer man in een van die gemeentes daar het uitgevind dat ek sukkel om die vergaderinge by te woon. Die naaste gemeente aan my tuisdorp was aan die anderkant van dieselfde bergreeks waaroor die Getuie-egpaar gestap het om met my te studeer, en dit was vir my moeilik om daar uit te kom. Om my te help, het die ouer man ’n Getuiegesin in Escuintla gevind wat bereid was om my in hulle huis in te neem en my te help om gemeentelike vergaderinge by te woon. Hulle sorg tot vandag toe vir my asof ek deel is van hulle gesin.

Ek kan nog baie ander voorbeelde noem van die opregte liefde wat lede van die gemeente aan my betoon het. Al hierdie ondervindinge oortuig my daarvan dat ek, as een van Jehovah se Getuies, onder ware Christene is.—Johannes 13:34, 35.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek voel nie meer waardeloos en dat ek geen hoop het nie. My lewe is nou betekenisvol. As ’n voltydse bedienaar in die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies konsentreer ek daarop om kosbare Bybelwaarhede aan ander te leer en nie op my gestremdheid nie. Ek het ook die voorreg om as ’n gemeentelike ouer man te dien en openbare Bybeltoesprake in plaaslike gemeentes te hou. Ek het al selfs die voorreg gehad om Bybeltoesprake by streekbyeenkomste te hou wat deur duisende bygewoon is.

Ek hou ’n toespraak en gebruik my braillebybel

In 2010 het ek gegradueer by die Bedieningsopleidingskool (nou die Skool vir Koninkrykspredikers) wat in El Salvador gehou is. Hierdie skool het my voorberei om beter na my verantwoordelikhede in die gemeente om te sien. Hierdie opleiding het my laat voel dat Jehovah God, wat enigiemand bekwaam kan maak om sy werk te doen, my waardeer en vir my lief is.

Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Vandag kan ek werklik sê dat ek gelukkig is, en hoewel ek nooit voorheen gedink het dat dit moontlik sou wees nie, voel ek nou dat ek ander kan help.

^ par. 13 Vir meer inligting oor waarom God goddeloosheid toelaat, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.