Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Sleutels tot ’n gelukkige lewe

Sleutels tot ’n gelukkige lewe

“Ek sal gelukkig wees wanneer ek trou en kinders het.”

“Ek sal gelukkig wees wanneer ek my eie huis besit.”

“Ek sal gelukkig wees wanneer ek daardie werk kry.”

“Ek sal gelukkig wees wanneer . . . ”

HET jy al ooit so gevoel? En het jou geluk voortgeduur toe jy jou doelwit bereik het of die gewenste item verkry het? Of het dit begin verflou? As ons ’n doelwit bereik of iets verkry wat ons graag wou hê, kan dit ons wel gelukkig maak, maar hierdie soort geluk is kortstondig. Blywende geluk is nie net op prestasies of materiële dinge gebaseer nie. Soos goeie fisiese gesondheid, hang ware geluk eerder van ’n verskeidenheid faktore af.

Elkeen van ons is uniek. Wat jou gelukkig maak, maak iemand anders dalk nie gelukkig nie. Wat meer is, ons verander wanneer ons ouer word. Nogtans is daar bewyse dat daar dinge is wat gewoonlik geluk bevorder. Om tevrede te wees, afguns te vermy, liefde vir ander aan te kweek en verstandelike en emosionele veerkragtigheid te ontwikkel, dra byvoorbeeld tot ware geluk by. Kom ons kyk waarom.

 1. LEER OM TEVREDE TE WEES

‘Geld dien as ’n beskerming’, het ’n wyse waarnemer van mensegedrag gesê. Maar hy het ook geskryf: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie. Ook dit is nietigheid” (Prediker 5:10; 7:12). Wat was sy punt? Ons het wel geld nodig om aan die lewe te bly, maar ons moet gierigheid vermy, want dit is onversadigbaar! Die skrywer, koning Salomo van eertydse Israel, wou sien of rykdom en ’n weelderige lewenstyl tot ware geluk sou lei. “Niks wat my oë gevra het, het ek hulle ontsê nie”, het hy geskryf. “Ek het my hart nie teruggehou van enige soort blydskap nie.”—Prediker 1:13; 2:10.

Salomo het baie rykdom vergaar en het weelderige huise gebou, pragtige parke met poele aangelê en baie diensknegte verkry. Wat hy ook al wou hê, het hy verkry. Wat het hy uit sy eksperiment geleer? Dit het hom ’n mate van geluk gebring, maar nie vir lank nie. “Kyk! alles was nietigheid”, het hy gesê. “Daar was niks voordeligs . . . nie.” Hy het selfs die lewe gehaat! (Prediker 2:11, 17, 18). Ja, Salomo het geleer dat ’n lewe van selfbevrediging ’n mens uiteindelik leeg en onvervuld laat voel. *

Stem hedendaagse studies met hierdie eeue oue wysheid ooreen? ’n Artikel wat in die Journal of Happiness Studies verskyn het, het gesê: “Nadat ’n persoon se basiese behoeftes bevredig is, maak ekstra inkomste hom nie juis gelukkiger . . . nie.” Ja, daar is bevind dat meer materiële dinge, veral ten koste van sedelike en geestelike waardes, ’n persoon ongelukkig kan maak.

BYBELBEGINSEL: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge.”Hebreërs 13:5.

2. VERMY AFGUNS

Afguns word gedefinieer as: “’n Sterk gevoel van ongelukkigheid of gegriefdheid oor ’n voordeel wat deur ’n ander persoon geniet word tesame met ’n begeerte om dieselfde voordeel te geniet.” Soos ’n kwaadaardige gewas, kan afguns jou lewe oorneem en jou geluk vernietig. Hoe kan afguns in ons wortelskiet? Hoe kan ons hierdie eienskap identifiseer? En hoe kan ons daarteen stry?

Die Encyclopedia of Social Psychology sê dat mense geneig is om afgunstig te wees op mense wat hulle gelyke is, moontlik wat ouderdom, agtergrond of ondervinding betref. Byvoorbeeld, ’n verkoopsman sal waarskynlik nie afgunstig wees op ’n bekende filmster nie. Maar hy sal dalk afgunstig wees op ’n ander verkoopsman wat suksesvoller is as hy.

Ter toeligting: Party hoë amptenare in eertydse Persië was nie afgunstig op die koning nie, maar op ’n briljante mede-amptenaar met die naam Daniël. Hulle was so ongelukkig dat hulle selfs planne beraam het om Daniël dood te maak! Maar die planne het misluk (Daniël 6:1-24). “Dit is belangrik om te besef dat afguns ’n persoon  vyandig maak”, sê die bogenoemde ensiklopedie. “Hierdie vyandigheid verklaar waarom afguns met soveel geskiedkundige gevalle van geweld verbind word.” *

Afguns kan ’n persoon se vermoë om die goeie dinge in die lewe te geniet, vergiftig

Hoe kan jy afguns identifiseer? Vra jou af: ‘Is ek bly wanneer iemand anders suksesvol is, of haal dit die wind uit my seile? Is ek ongelukkig as ’n broer of suster, talentvolle klasmaat of medewerker op die een of ander manier misluk, of is ek bly?’ As jy geantwoord het: “Dit haal die wind uit my seile” en “Ek is bly”, is jy moontlik besig om toe te laat dat afguns in jou wortelskiet (Genesis 26:12-14). Die Encyclopedia of Social Psychology sê: “Afguns kan ’n persoon se vermoë om die goeie dinge in die lewe te geniet, vergiftig en gevoelens van waardering vir al die gawes in die lewe smoor. . . . Sulke neigings dra beslis nie tot geluk by nie.”

Ons stry teen afguns deur ware nederigheid en beskeidenheid aan te kweek, wat ons in staat stel om die vermoëns en goeie eienskappe van ander te waardeer. Die Bybel sê dat ons “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [moet] doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as [onsself moet] ag”.—Filippense 2:3.

BYBELBEGINSEL: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie.”Galasiërs 5:26.

3. KWEEK LIEFDE VIR MENSE AAN

“Hoe mense oor hulle verhoudings voel, het ’n groter uitwerking op hoe tevrede hulle met hulle lewe is, as hulle werk, inkomste, gemeenskap of selfs hulle fisiese gesondheid”, sê die boek Social Psychology. Eenvoudig gestel, om waarlik gelukkig te wees, moet mense liefde gee en ontvang. “As ek . .  geen liefde het nie, is ek niks”, het ’n Bybelskrywer gesê.—1 Korintiërs 13:2.

Dit is nooit te laat om liefde aan te kweek nie. Kyk na die voorbeeld van Vanessa, wie se pa ’n alkoholis was en haar mishandel het. Toe sy 14 jaar oud was, het sy van die huis af weggehardloop en in pleeghuise gewoon, en een keer ook in ’n baie onaangename nagskuiling waar sy God om hulp gesmeek het. Dalk as ’n antwoord op haar gebede is sy toe in die sorg van ’n gesin geplaas wat gelewe het volgens die Bybelbeginsel: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig” (1 Korintiërs 13:4). Hierdie omgewing, asook die dinge wat sy uit haar persoonlike studie van die Bybel geleer het, het Vanessa gehelp om emosioneel te genees en verstandelik te vorder. “Op skool het my punte van D’s en F’s na A’s en B’s verbeter”, het sy gesê.

Vanessa het nog steeds emosionele letsels, maar nou is sy gelukkig getroud en het sy twee dogters.

BYBELBEGINSEL: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.” Kolossense 3:14.

 4. ONTWIKKEL VEERKRAGTIGHEID

Wie het ’n probleemvrye lewe? Soos die Bybel sê, is daar “’n tyd om te huil” en “’n tyd om te weeklaag” (Prediker 3:4). Veerkragtigheid, of herstelvermoë, help ons om sulke tye die hoof te bied, om ná teëspoed te herstel. Neem byvoorbeeld Carol en Mildred.

Carol ly aan ’n aftakelende ruggraatsiekte, suikersiekte, slaapapnee en makulêre degenerasie wat haar linkeroog blind gelaat het. Nogtans sê sy: “Ek probeer om nie te lank mismoedig te voel nie. Ek voel ’n rukkie lank jammer vir myself. Maar dan skuif ek my gevoelens opsy en dank ek God vir wat ek nog kan doen, veral vir ander mense.”

Mildred het ook ’n hele paar gesondheidsprobleme, insluitende artritis, borskanker en suikersiekte. Maar soos Carol, probeer sy om nie op haar probleme te konsentreer nie. “Ek het geleer om vir mense lief te wees en om ander te vertroos wanneer hulle siek is, en dit help my ook”, skryf sy. “Om die waarheid te sê, wanneer ek ander vertroos, vind ek dat ek my nie oor myself bekommer nie.”

Carol en Mildred put vreugde daaruit om ander te vertroos

Hoewel albei vroue graag goeie mediese sorg wil hê, konsentreer hulle nie op hulle fisiese gesondheid nie, maar op hulle gesindheid en hoe hulle hulle tyd gebruik. Gevolglik het hulle innerlike vreugde wat niemand van hulle kan wegneem nie. Hulle is ook baie geliefd by ander en ’n inspirasie vir mense wat verskeie beproewinge deurmaak.

BYBELBEGINSEL: “Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang.”Jakobus 1:12.

Wanneer die Bybel se wysheid toegepas word, is dit “’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word” (Spreuke 3:13-18). Beproef gerus self die waarheid van hierdie woorde deur die Bybel se wysheid in jou lewe toe te pas. Die Outeur van hierdie heilige boek, wat “die gelukkige God” genoem word, wil immers hê dat jy ook gelukkig moet wees.—1 Timoteus 1:11.

^ par. 11 Die verslag van Salomo se eksperiment kan in Prediker 2:1-11 gevind word.

^ par. 17 ’n Goeie voorbeeld hiervan in die geskiedenis is die geval van Jesus Christus. Markus 15:10 sê dat “die hoofpriesters [Jesus] uit afguns oorgelewer het” om tereggestel te word.