Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons Lesers Vra . . . 

Wat is die feite oor Kersfees?

Wat is die feite oor Kersfees?

Miljoene mense regoor die wêreld vier Kersfees om verskeie redes. Party geniet feestelike geleenthede saam met vriende en familie. Ander dink aan God of wy tyd daaraan om die behoeftiges te help. Dit is beslis prysenswaardige dade. Maar dit hou verband met die donker kant van hierdie viering.

Eerstens, baie mense wat Kersfees vier, glo dat dit ’n viering is van Jesus se geboortedag. Maar baie geskiedkundiges is dit eens dat die datum van sy geboorte nie bekend is nie. The Christian Book of Why sê dat “die vroeë Christene geweier het om ’n datum vir Jesus se geboortedag aan te wys” omdat hulle “hulle van alle heidense gebruike wou losmaak”. Dit is interessant dat daar geen aanduiding in die Bybel is dat Jesus ooit sy eie verjaarsdag of enigiemand anders s’n gevier het nie. Maar hy het sy volgelinge beveel om wel sy dood te herdenk.—Lukas 22:19.

Tweedens, baie geleerdes stem saam dat die meeste Kerstradisies hulle oorsprong in nie-Christelike en heidense gebruike het. Dit sluit Kersvader in, asook die gebruik van misteltakkies en die Kersboom, om geskenke uit te ruil, kerse en Joelblokke te brand, sierkranse op te hang en Kersliedere te sing. Aangaande party van hierdie gebruike het die boek The Externals of the Catholic Church gesê: “Hoeveel van ons besef dat ons, wanneer ons Kersgeskenke gee of ontvang en groen kranse in ons huise en kerke ophang, waarskynlik heidense gebruike onderhou?”

“Hoeveel van ons besef dat ons, wanneer ons Kersgeskenke gee of ontvang en groen kranse in ons huise en kerke ophang, waarskynlik heidense gebruike onderhou?” —The Externals of the Catholic Church

Maar jy wonder dalk waarom dit verkeerd sou wees om hierdie skynbaar onskuldige gebruike te volg. Kyk na hierdie derde punt. God keur nie die vermenging van heidense gebruike met rein aanbidding goed nie. Jehovah God het deur sy profeet Amos aan sy eiesinnige aanbidders in eertydse Israel gesê: “Ek het julle feeste gehaat, dit verwerp . . . Verwyder van my die rumoer van [julle] liedere.”—Amos 5:21, 23.

Waarom sulke sterk woorde? Dink aan wat die mense van die noordelike koninkryk van eertydse Israel gedoen het. Hulle eerste koning, Jerobeam, het goue kalwe in die stede Dan en Bet-El opgerig en die volk oorreed om dit te aanbid eerder as om Jehovah God by die tempel in Jerusalem te aanbid, soos hulle veronderstel was om te doen. Die koning het ook feeste ingestel en priesters aangestel om die volk te help om hierdie feeste te vier.—1 Konings 12:26-33.

Wat daardie Israeliete gedoen het, was skynbaar vir ’n goeie doel. Het hulle immers nie al hierdie dinge gedoen om God te aanbid en hom te behaag nie? God se kragtige woorde deur Amos en ander profete toon duidelik hoe God oor hierdie gebruike gevoel het. God het deur die profeet Maleagi gesê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Is dit nie ’n aanduiding van hoe God oor al die hedendaagse Kersvieringe voel nie?

Nadat hulle die bogenoemde feite ondersoek het, het miljoene mense besluit om nie Kersfees te vier nie. Hulle put eerder vreugde en ware bevrediging daaruit om dwarsdeur die jaar tyd saam met vriende en familie deur te bring en die behoeftiges te help.