Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONS LESERS VRA . . .

Waarom is Kersfeesgebruike verkeerd?

Waarom is Kersfeesgebruike verkeerd?

Kersfees is al lank beskryf as ’n tradisionele Christelike viering om die geboorte van Jesus te vier. Maar baie van die gebruike wat met hierdie viering gepaardgaan, laat ons wonder hoe dit in die eerste plek met die geboorte van Jesus verbind is.

Daar is byvoorbeeld die mite van Kersvader. Ons weet dat vandag se Kersvader met sy wit baard, rooi wange en rooi pak geskep is vir ’n baie suksesvolle Kersfeesadvertensie wat in 1931 vir ’n Noord-Amerikaanse koeldrankmaatskappy gemaak is. Gedurende die 1950’s het party Brasiliane Kersvader met ’n plaaslike legende probeer vervang‘Vovô Índio’, of Oupa Indiaan. Wat het gebeur? Kersvader het nie net gewilder geword as Oupa Indiaan nie. Hy het selfs gewilder geword as “die kindjie Jesus . . . en het die amptelike verteenwoordiger van die fees van 25 Desember geword”, sê professor Carlos E. Fantinati. Maar is mites soos Kersvader die enigste probleem met Kersfees? Om die antwoord te kry, kan ons kyk na die vroeë Christelike godsdiens.

“Gedurende die eerste twee eeue van die Christelike godsdiens was die viering van die verjaarsdag van ’n martelaar, of selfs van Jesus, sterk teëgestaan”, sê die Encyclopedia Britannica. Waarom? Christene het die viering van verjaarsdae as ’n heidense gebruik beskou, iets wat heeltemal vermy moes word. Trouens, die Bybel sê glad nie vir ons wat Jesus se geboortedatum is nie.

In die vierde eeu ná Christus is Kersfees deur die Katolieke Kerk ingestel, ondanks die feit dat die vroeë Christene die viering van verjaarsdae teëgestaan het. Die kerk wou sy posisie versterk deur een van die grootste struikelblokke in sy pad te verwyder—die gewildheid van die heidense Romeinse godsdienste en die feit dat hulle die wintersonstilstand gevier het. Elke jaar, vanaf 17 Desember tot 1 Januarie, het “die meeste Romeine fees gevier, aan spele deelgeneem, oordadig geëet en gedrink, parades gehou en aan ander feesverrigtinge deelgeneem terwyl hulle hulle gode vereer het”, sê Christmas in America, deur Penne L. Restad. En op 25 Desember het die Romeine die geboorte van die Onoorwinlike Son gevier. Deur Kersfees op hierdie dag in te stel, het die kerk baie Romeine gekry om Jesus se geboorte te vier, eerder as die geboorte van die son. Die Romeine “kon nog steeds die viering geniet van hierdie feeste wat in die middel van die winter gehou is”, sê Santa Claus, a Biography, deur Gerry Bowler. In werklikheid “het [hulle] voortgegaan om die nuwe dae met ou gebruike te vier”.

Dit is dus duidelik dat Kersfeesvieringe ’n heidense oorsprong het. In sy boek The Battle for Christmas het Stephen Nissenbaum gesê dat Kersfees “niks anders [is] nie as ’n heidense fees met ’n Christelike voorkoms”. Dit is waarom Kersfees God en sy Seun, Jesus Christus, oneer aandoen. Maak dit saak? Die Bybel vra: “Watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). Soos die stam van ’n boom wat skeef gegroei het, is Kersfees so verdraaid dat dit “nie reguit gemaak [kan] word nie”.Prediker 1:15.