Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS LESERS VRA . . .

Is Paasfees werklik ’n Christelike viering?

Is Paasfees werklik ’n Christelike viering?

Die Encyclopædia Britannica beskryf Paasfees as die “vernaamste fees van die Christelike kerk wat die Opstanding van Jesus Christus vier”. Maar is dit ’n Christelike viering?

Om te bepaal of ’n artefak eg is, is dit noodsaaklik om aan die besonderhede aandag te skenk. As ons dus wil bepaal of Paasfees ’n Christelike viering is, moet ons kyk na die besonderhede wat daarmee verband hou.

In die eerste plek het Jesus sy volgelinge gevra om sy dood te herdenk, nie sy opstanding nie. Die apostel Paulus het hierdie geleentheid “die Here se aandmaal” genoem.—1 Korintiërs 11:20; Lukas 22:19, 20.

In die tweede plek het baie van die Paastradisies “min te doen” met Jesus se opstanding en “is [dit] van volksgebruike afkomstig”, sê die Britannica. Aangaande die gewilde Paassimbole, die eier en die haas, sê The Encyclopedia of Religion byvoorbeeld: “Die eier simboliseer nuwe lewe wat deur die skynbare dood (hardheid) van die eierdop breek.” Dit voeg by: “Die haas was bekend as ’n buitengewoon vrugbare dier, en daarom het dit die koms die lente gesimboliseer.”

Philippe Walter, ’n professor in Middeleeuse literatuur, verduidelik hoe sulke gebruike deel van Paasfees geword het. “Toe heidense godsdienste verchristelik is”, het hy geskryf, was dit maklik om die heidense fees wat “die oorgang van die dood van winter na die lewe van lentetyd” gevier het, met Jesus se opstanding te verbind. Volgens Walter was dit ’n belangrike stap in die samesmelting van “Christelike vieringe” en heidense vieringe, en dit het massabekering maklik gemaak.

Hierdie proses van “verchristeliking” het nie plaasgevind terwyl die apostels gelewe het nie, want hulle het as ’n “teëhouer” teen die heidendom opgetree (2 Tessalonisense 2:7). Die apostel Paulus het gewaarsku dat manne ná sy “vertrek” sou “opstaan en verdraaide dinge [sou] spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). En laat in die eerste eeu het die apostel Johannes geskryf dat daar alreeds manne was wat Christene probeer mislei het (1 Johannes 2:18, 26). Dit sou dus later makliker wees om heidense gebruike aan te neem.

“Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.”—2 Korintiërs 6:14

Maar party voel dalk dat dit nie verkeerd was om party van die Paasgebruike toe te laat nie—dat dit “heidene” ’n beter begrip gegee het van die betekenis van Jesus se opstanding. Paulus sou egter nooit hiermee saamgestem het nie. Hoewel hy blootgestel is aan baie heidense gebruike terwyl hy deur die Romeinse Ryk gereis het, het hy nooit enige van die gebruike aangeneem om mense ’n beter begrip van Jesus te gee nie. Hy het die Christene eerder gewaarsku: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? ‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak.’”—2 Korintiërs 6:14, 17.

Tot watter gevolgtrekking laat hierdie kort ondersoek van die besonderhede ons kom? Dit toon duidelik dat Paasfees nie ’n Christelike viering is nie.