Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

KOM NADER AAN GOD

“Wat is die heel eerste gebod?”

“Wat is die heel eerste gebod?”

Wat moet ons doen om God te behaag? Is daar ’n eindelose lys reëls wat ons moet volg? Gelukkig is die antwoord nee. Volgens God se Seun, Jesus Christus, kan ons in een woord opsom wat God van ons vereis.—Lees Markus 12:28-31.

Kom ons kyk eers na die situasie wat tot Jesus se woorde aanleiding gegee het. Hy het op 11 Nisan, ’n paar dae voor sy dood, in die tempel onderrig. Sy vyande het hom met omstrede vrae probeer vasvra. Hy het hulle elke keer met sy antwoorde stilgemaak. Toe is Jesus hierdie vraag gevra: “Wat is die heel eerste gebod?”—Vers 28.

Dit was ’n moeilike vraag. Party Jode het gedebatteer oor watter een van die meer as 600 wette van die Mosaïese Wet die eerste, of die belangrikste, gebod is. Ander het blykbaar aangevoer dat al die wette ewe belangrik is en dat dit verkeerd is om party wette as gewigtiger as die res te beskou. Hoe het Jesus op die vraag gereageer?

Jesus het geantwoord deur nie net een nie maar twee gebooie te meld. Hy het eerstens gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (vers 30; Deuteronomium 6:5). Die betekenis van die woorde “hart”, “verstand”, “siel” en “krag” oorvleuel. * Jesus het bedoel: Wanneer dit by liefde vir Jehovah kom, moet die hele persoon betrokke wees, al sy vermoëns en middele. ’n Bybelnaslaanwerk stel dit so: “’n Mens moet God ten volle en volkome liefhê.” As jy God so liefhet, sal jy jou bes doen om elke dag te lewe op ’n manier wat sy goedkeuring wegdra.—1 Johannes 5:3.

Jesus het tweedens gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (vers 31; Levitikus 19:18). Liefde vir God en liefde vir naaste is onafskeidbaar aan mekaar verbonde. Die tweede is ’n gevolg van die eerste (1 Johannes 4:20, 21). As ons ons naaste liefhet soos onsself, sal ons ander behandel soos ons graag behandel wil word (Matteus 7:12). Sodoende toon ons dat ons die God liefhet wat ons—en hulle—na sy beeld geskep het.—Genesis 1:26.

Alles wat Jehovah van sy aanbidders vereis, kan opgesom word in ’n enkele woord: liefde

Hoe belangrik is die gebooie om God en ons naaste lief te hê? “Daar is geen ander gebod groter as dié nie”, het Jesus gesê (vers 31). In die parallelle verslag het Jesus gesê dat al die ander gebooie aan hierdie twee gebooie hang.—Matteus 22:40.

Dit is nie moeilik om God te behaag nie. Alles wat hy van ons vereis, kan opgesom word in ’n enkele woord: liefde. Dit was nog altyd die kern van ware aanbidding—en dit sal altyd die kern van ware aanbidding wees. Maar liefde is nie net ’n saak van woorde of gevoelens nie; dit word deur dade bewys (1 Johannes 3:18). Sal jy nie graag wil leer hoe jy liefde vir Jehovah, die God wat ‘liefde is’, kan aankweek en toon nie?—1 Johannes 4:8.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Maart

Markus 9-16Lukas 1-6

^ par. 4 In die Bybel verwys die woord “siel” na die hele persoon. “Siel” kan dus “hart”, “verstand” en “krag” insluit.