Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

“God het ’n blymoedige gewer lief”

“God het ’n blymoedige gewer lief”

Watter soort geskenk sal jy baie waardeer? Die meeste van ons sal ongetwyfeld bly wees om ’n geskenk te ontvang van iemand wat dit uit liefde gee en nie omdat hy verplig voel om dit te doen nie. Wanneer ’n mens gee, is jou beweegrede belangrik. Dit is vir óns belangrik. En wat meer is, dit is vir God belangrik. Kyk na die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus in 2 Korintiërs 9:7.

Waarom het Paulus hierdie woorde geskryf? Hy wou die Christene in Korinte aanspoor om die noodlenigingswerk vir hulle behoeftige medegelowiges in Judea te ondersteun. Het hy die Korintiërs probeer dwing om te gee? Nee, hy het geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Kom ons ondersoek hierdie vermaning van naderby.

“Net soos hy hom in sy hart voorgeneem het.” ’n Opregte Christen gee omdat hy “in sy hart” besluit het om dit te doen, sê Paulus. Terselfdertyd skenk ’n Christen noukeurig aandag aan die behoeftes van sy medeaanbidders. Die woord in die oorspronklike taal wat met “voorgeneem” weergegee word, “dra die gedagte oor van ’n besluit wat vooraf gemaak is”, sê ’n geleerde. ’n Christen dink dus na oor die behoeftes van medegelowiges en vra hom af wat hy kan doen om in daardie behoeftes te voorsien.—1 Johannes 3:17.

“Nie teësinnig of onder dwang nie.” Paulus meld twee maniere waarop ’n mens kan gee wat geen plek onder ware Christene het nie—onwillig en gedwonge. Die Griekse uitdrukking wat met “teësinnig” weergegee word, beteken letterlik “met swaarmoedigheid (of droefheid)”. ’n Teësinnige, of onwillige, gewer gee “uit ’n hart wat bedroef word deur die gedagte om van sy geld afskeid te neem”, verduidelik ’n naslaanwerk. Iemand wat onder dwang gee, gee omdat hy voel dat hy geen ander keuse het nie. Wie van ons wil nou eintlik ’n geskenk ontvang van iemand wat teësinnig of onder dwang gee?

“God het ’n blymoedige gewer lief.” Wanneer ’n Christen besluit om te gee, moet hy dit blymoedig, of met vreugde, doen, sê Paulus. Ja, dit bring geluk mee as ’n mens met die regte beweegrede gee (Handelinge 20:35). Die blymoedige gewer kan skaars sy vreugde wegsteek. Trouens, die woord ‘blymoedig’ is ’n baie goeie beskrywing van die innerlike gevoel wat die gewer ervaar sowel as die uiterlike vreugde wat vir ander sigbaar is. Iemand wat blymoedig gee, raak ons hart. Hy verbly ook God se hart. ’n Ander vertaling sê: “God is lief vir mense wat daarvoor lief is om te gee.”—Contemporary English Version.

“God is lief vir mense wat daarvoor lief is om te gee”

Die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus voorsien ’n riglyn vir Christene wanneer hulle gee. Hetsy ons van ons tyd, energie of materiële besittings gee, ons moet dit vrywillig doen en omdat dit ons werklik bly maak om vrygewig te wees teenoor ander, veral dié wat behoeftig is. As ons op hierdie wyse gee, sal dit ons nie net gelukkig maak nie, maar ons ook geliefd maak by God, want hy “het ’n blymoedige gewer lief”.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir September

1 en 2 Korintiërs