Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS LESERS VRA . . .

Het Jesus die kwaaddoener lewe in die hemel belowe?

Het Jesus die kwaaddoener lewe in die hemel belowe?

Die vraag ontstaan omdat Jesus die misdadiger wat langs hom tereggestel is, ’n toekomstige lewe in die Paradys belowe het. Jesus het gesê: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Let daarop dat Jesus nie gesê het waar hierdie Paradys sou wees nie. Het Jesus dan bedoel dat die kwaaddoener saam met hom in die hemel sou wees?

Kom ons kyk eers of hierdie kwaaddoener aan die vereistes vir hemelse lewe voldoen het. Mense met die vooruitsig op hemelse lewe is in water en met heilige gees gedoop en is dus geesverwekte dissipels van Jesus (Johannes 3:3, 5). Nog ’n vereiste is dat hulle aan God se sedelike standaarde voldoen en eienskappe soos eerlikheid, onkreukbaarheid en medelye aan die dag lê (1 Korintiërs 6:9-11). Hulle moet ook tot die einde van hulle aardse lewe lojaal bly aan God en Christus (Lukas 22:28-30; 2 Timoteus 2:12). Slegs as hulle aan hierdie vereistes voldoen, toon hulle dat hulle ’n opstanding waardig is en kwalifiseer vir die gewigtige verantwoordelikheid wat in die hemel op hulle wag, naamlik om duisend jaar lank saam met Christus as priesters en konings vir die mensdom te dien.—Openbaring 20:6.

In teenstelling hiermee het die kwaaddoener wat langs Jesus gehang het, as ’n misdadiger gelewe en as ’n misdadiger gesterf (Lukas 23:32, 39-41). Hy het weliswaar ’n eerbiedige gesindheid getoon toe hy vir Jesus gesê het: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom” (Lukas 23:42). Maar hy het nie ’n gedoopte, geesverwekte dissipel van Jesus geword nie en hy het ook nie ’n rekord van onberispelike gedrag en getroue volharding opgebou nie. Is dit redelik om aan te neem dat Jesus hom hemelse koningskap belowe het saam met sy getroue volgelinge wat bewys gelewer het van hulle onkreukbaarheid?—Romeine 2:6, 7.

Ter toeligting: As ’n man jou vra om hom te vergewe omdat hy jou geld gesteel het, sal jy miskien besluit om hom nie te laat vervolg nie. Maar sal jy hom vertrou om jou besigheid te bestuur of om na jou gesin om te sien? Jy sal sulke verantwoordelikhede slegs toevertrou aan diegene in wie jy die volste vertroue het. Diegene wat die hoop op hemelse lewe ontvang, moet eweneens oortuigende bewys lewer dat hulle by God se regverdige standaarde sal bly wanneer hulle oor die mensdom regeer (Openbaring 2:10). Hoewel die kwaaddoener klaarblyklik opreg was toe hy net voor sy dood ’n pleidooi tot Jesus gerig het, het hy nie so ’n grondslag vir vertroue voorsien nie.

Maar het Jesus nie vir die kwaaddoener gesê dat hy daardie selfde dag saam met hom in die hemel sou wees nie? Dit is nie wat Jesus bedoel het nie, want Jesus self het nie daardie dag hemel toe gegaan nie. Hy was eerder drie dae lank “in die hart van die aarde”—die graf (Matteus 12:40; Markus 10:34). Selfs ná sy opstanding het hy 40 dae lank op die aarde gebly voordat hy na die hemel opgevaar het (Handelinge 1:3, 9). Die kwaaddoener kon dus nie daardie dag saam met Jesus in die hemel gewees het nie.

In watter Paradys sou die kwaaddoener dan wees? Ná sy opstanding sal hy in die aardse Paradys wees, waaroor Jesus sal heers (Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4). As jy meer wil leer oor hierdie Paradys en God se vereistes, kan jy met enigeen van Jehovah se Getuies praat.