Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

“Ek het gesien, maar ek kon nie verstaan nie”

“Ek het gesien, maar ek kon nie verstaan nie”

In 1975, toe ek twee jaar oud was, het my ma die eerste keer vermoed dat daar iets fout is met my. Terwyl my ma my in haar arms gehou het, het ’n vriendin ’n swaar voorwerp met ’n harde slag op die vloer laat val. My ma het opgemerk dat ek nie eens ’n ooglid verroer het nie. Op driejarige ouderdom kon ek nog nie praat nie. Toe het my gesin die skokkende nuus gehoor—spesialiste het bevestig dat ek heeltemal doof is!

My ouers is geskei toe ek nog ’n baba was, en my ma moes my, my twee ouer broers en my ouer suster alleen grootmaak. Destyds is dowe kinders in Frankryk nie op dieselfde manier onderrig as vandag nie, en die metodes wat gebruik is, het soms baie lyding veroorsaak. Ek het nogtans van kleins af ’n voordeel gehad wat baie ander dowe mense nie het nie. Kom ek verduidelik.

Toe ek omtrent vyf jaar oud was

Baie opvoeders het jare lank gemeen dat dowe kinders moet leer praat en liplees. Trouens, in Frankryk, waar ek grootgeword het, was gebaretaal heeltemal verbode by skole. Party dowe kinders se hande is selfs gedurende periodes agter hulle rug vasgebind.

Die eerste paar jaar van my lewe het ek elke week etlike ure by ’n spraakterapeut deurgebring. Sy het my kakebeen of kop vasgehou en my gedwing om klanke wat ek nie kon hoor nie, oor en oor voort te bring. Ek kon nie met ander kinders kommunikeer nie. Dit was baie moeilike jare vir my.

Toe ek ses was, is ek na ’n spesiale kosskool gestuur. Ek het vir die eerste keer met ander dowe kinders in aanraking gekom. Gebaretaal was ook daar verbode. As ons in die klas gebare gemaak het, is ons oor die kneukels geslaan of is ons hare getrek. Maar ons het gebare wat ons uitgedink het, in die geheim gebruik. Uiteindelik kon ek met ander kinders kommunikeer. Dit was die begin van vier gelukkige jare.

Maar toe ek tien was, is ek na ’n laerskool met horende kinders gestuur. Ek was verpletter! Ek het gedink dat al die ander dowe kinders dood is en dat ek die enigste een is wat in die wêreld oorgebly het. Op die aanbeveling van dokters, wat bang was dat ek die voordele van spraakterapie sou verloor, het my gesin nie gebaretaal geleer nie en is ek nie toegelaat om met dowe kinders te assosieer nie. Ek onthou nog ’n besoek aan ’n gehoorspesialis. ’n Gebaretaalboek het op sy lessenaar gelê. Toe ek die prente op die buiteblad sien, het ek daarna gewys en gesê: “Ek wil dit hê!” Die dokter het die boek gou weggesteek. *

 MY GEESTELIKE OPVOEDING

My ma het ons volgens Christelike beginsels probeer grootmaak. Sy het ons na vergaderinge van die Mérignac-gemeente van Jehovah se Getuies, naby Bordeaux, geneem. As ’n kind het ek baie min by die vergaderinge verstaan. Maar verskillende gemeentelede het beurte gemaak om langs my te sit en neer te skryf wat gesê word. Ek is diep getref deur hulle liefde en besorgdheid. By die huis het my ma die Bybel met my gestudeer, maar ek het nooit ten volle verstaan wat ek geleer word nie. Ek het ’n bietjie soos die profeet Daniël gevoel, wat, nadat hy ’n profesie van ’n engel ontvang het, gesê het: “Ek het gehoor, maar ek kon nie verstaan nie” (Daniël 12:8). In my geval was dit: “Ek het gesien, maar ek kon nie verstaan nie.”

Nietemin het basiese Bybelwaarhede stadig maar seker in my hart wortelgeskiet. Ek het die dinge wat ek goed verstaan het, gekoester en dit in my lewe probeer toepas. Ek het ook geleer uit die gedrag van ander. Byvoorbeeld, die Bybel sê vir ons om geduldig te wees (Jakobus 5:7, 8). Dit het vir my nie baie beteken nie. Maar toe ek sien hoe my medegelowiges hierdie eienskap aan die dag lê, het ek verstaan wat geduld is. Ja, die Christengemeente het my baie gehelp.

’N BITTERE TELEURSTELLING EN ’N WONDERLIKE VERRASSING

Stéphane het my die Bybel help verstaan

Toe ek ’n tiener was, het ek eendag gesien hoe ’n paar dowe jongmense in die straat gebaretaal gebruik om te kommunikeer. Ek het in die geheim met hulle begin assosieer en Franse Gebaretaal (FSL) begin leer. Ek het voortgegaan om Christelike vergaderinge by te woon, waar ’n jong Getuie, Stéphane, my onder sy vlerk geneem het. Hy het baie moeite gedoen om met my te kommunikeer, en ek het baie geheg geraak aan hom. Maar ’n bittere teleurstelling het op my gewag. Stéphane is in die tronk opgesluit omdat hy sy Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Ek was verpletter! Terwyl Stéphane in die tronk was, het ek baie mismoedig gevoel en feitlik opgehou om vergaderinge by te woon.

Elf maande later is Stéphane vrygelaat en het hy teruggekeer huis toe. Stel jou voor hoe verbaas ek was toe Stéphane met my in gebaretaal begin kommunikeer. Ek kon my oë nie glo nie! Wat het gebeur? Stéphane het FSL in die tronk geleer. Ek het Stéphane se gebare en gesigsuitdrukkings dopgehou, en my opgewondenheid het toegeneem toe ek gedink het aan alles wat dit vir my sou beteken.

EK VERSTAAN BYBELWAARHEID UITEINDELIK

Stéphane het die Bybel met my begin studeer. Dit is toe dat ek al die stukkies Bybelwaarheid wat ek al geleer het, begin bymekaarsit het. As kind het ek baie daarvan gehou om na die pragtige prente in ons Bybelpublikasies te kyk, om die karakters met mekaar te vergelyk en elke besonderheid te ondersoek sodat ek die verhale in my geheue kon inprent. Ek het geweet van Abraham, sy “saad” en die “groot menigte”, maar eers toe hierdie begrippe in gebaretaal aan my verduidelik is, het ek dit werklik verstaan (Genesis 22:15-18; Openbaring 7:9). Dit was duidelik dat ek my natuurlike taal, die taal van my hart, gevind het.

Omdat ek nou kon verstaan wat by die vergaderinge gesê word, het dit my hart geraak en het my begeerte na kennis toegeneem. Met Stéphane se hulp het ek die Bybel al hoe beter verstaan, en in 1992 het ek my lewe aan Jehovah God toegewy en is ek gedoop. Maar ten spyte van die vordering wat ek gemaak het, was ek in myself gekeer en bang vir mense omdat ek gedurende my vroeë jare nie kon kommunikeer nie.

MY STRYD TEEN SKUGTERHEID

Die groepie dowes waarin ek was, het uiteindelik saamgesmelt met ’n gemeente in Pessac, ’n voorstad van Bordeaux. Dit het my baie gehelp,  en ek het aangehou om geestelike vordering te maak. Hoewel my vermoë om te kommunikeer nog steeds beperk was, het my horende vriende altyd seker gemaak dat ek alles verstaan. ’n Egpaar, Gilles en Elodie, het baie moeite gedoen om met my te kommunikeer. Hulle het my dikwels oorgenooi vir ’n ete of ’n koppie koffie ná die vergadering, en so het ’n wonderlike vriendskap begin. Wat ’n vreugde is dit tog om deel te wees van ’n groep mense wat God se liefdevolle weë volg!

My vrou, Vanessa, is vir my ’n ware steunpilaar

In hierdie gemeente het ek die innemende Vanessa ontmoet. Ek het tot haar aangetrokke gevoel omdat sy ’n sensitiewe mens is en weens haar sin vir geregtigheid. Sy het my doofheid nooit as ’n hindernis beskou nie, maar eerder as ’n verrykende ondervinding. Sy het my hart verower, en ons is in 2005 getroud. Hoewel kommunikasie nie my sterk punt is nie, het Vanessa my gehelp om teen my skugterheid te stry en om openhartiger te kommunikeer. Ek het groot waardering vir haar ondersteuning terwyl ek na my verantwoordelikhede omsien.

NOG ’N GAWE VAN JEHOVAH

Die jaar toe ons getrou het, is ek na die Franse takkantoor van Jehovah se Getuies in Louviers genooi om ’n maand lank vertaalopleiding te ontvang. In onlangse jare het die tak baie hard gewerk om etlike publikasies in FSL op DVD vry te stel. Maar weens hulle groot werklas het die vertaalspan meer vertalers nodig gehad.

Ek hou ’n Bybeltoespraak in Franse Gebaretaal

Ek en Vanessa het gevoel dat dit vir my ’n baie groot voorreg en ’n gawe van Jehovah God sal wees om by die tak te dien, maar ek moet erken dat ons bedenkinge gehad het. Wat sou gebeur met ons gebaretaalgroep? Wat sou ons met ons huis doen? Sou Vanessa werk in die omgewing vind? Jehovah het op ’n wonderlike manier ’n oplossing vir elke probleem voorsien. Ek kon werklik Jehovah se liefde vir ons en vir dowe mense voel.

ONDERSTEUN DEUR ’N VERENIGDE VOLK

As gevolg van my betrokkenheid by vertaalwerk het ek ’n beter begrip van alles wat gedoen word om geestelike hulp aan die dowes te voorsien. En hoe wonderlik is dit tog om te sien hoe baie medewerkers met my probeer kommunikeer! Die paar gebare wat hulle leer en probeer gebruik, is vir my ’n riem onder die hart. Ek voel glad nie soos ’n buitestander nie. Inteendeel, al hierdie blyke van liefde is ’n bewys van die uitsonderlike eenheid onder Jehovah se volk.—Psalm 133:1.

In die Vertaalafdeling by die takkantoor

Ek is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy deur middel van die Christengemeente altyd seker gemaak het dat daar iemand is om my te help. Ek waardeer ook die klein aandeel wat ek daaraan gehad het om ander dowes te help om ons liefdevolle Skepper beter te leer ken en nader aan hom te kom. Ek sien uit na die dag wanneer alle kommunikasiehindernisse uit die weg geruim sal word en almal as deel van ’n verenigde mensegesin die “suiwer taal” sal praat—die waarheid omtrent Jehovah God en sy voornemens.—Sefanja 3:9.

^ par. 9 Die Franse regering het eers in 1991 amptelike toestemming gegee dat gebaretaal in die opvoeding van dowe kinders gebruik mag word.