Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lewe in Bybeltye—Die herder

Die lewe in Bybeltye—Die herder

“Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra.”—JESAJA 40:11.

HERDERS word tientalle kere in die Bybel gemeld, van die eerste boek, Genesis, tot die laaste boek, Openbaring (Genesis 4:2; Openbaring 12:5). Vername manne, soos Abraham, Moses en koning Dawid, was herders. Die psalmis Dawid het die verantwoordelikhede en bekommernisse van ’n goeie herder pragtig beskryf. En ’n psalm wat waarskynlik deur Asaf geskryf is, sê dat Dawid ’n herder oor God se eertydse volk was.—Psalm 78:70-72.

Later, in Jesus se dag, was die werk van ’n herder nog steeds belangrik. Jesus het homself “die goeie herder” genoem en het dikwels na die eienskappe van ’n goeie herder verwys om belangrike lesse te leer (Johannes 10:2-4, 11). Selfs die Almagtige, Jehovah God, word met “’n herder” vergelyk.—Jesaja 40:10, 11; Psalm 23:1-4.

Watter soort diere is deur ’n herder opgepas? Wat het sy werk behels? En wat kan ons by daardie harde werkers leer?

Skape en bokke

Een van die skaaprasse wat in eertydse Israel deur herders opgepas is, was waarskynlik die Siriese vetstertskaap, wat ’n groot, vet stert en dik wol het. Die ramme van hierdie skaapras het horings, maar die ooie het nie. Dit is nie moeilik om hierdie mak diere te lei nie, en  hulle het beskerming teen die elemente en roofdiere nodig.

Herders het ook bokke opgepas. Die bokke was heeltemal swart of bruin van kleur. Hulle lang, flappende ore is maklik deur dorings en doringbossies geskeur terwyl hulle rotsagtige heuwelhange geklim en aan bossies gevreet het.

Die herder het nooit opgehou om die skape en bokke te leer om sy bevele te gehoorsaam nie. Nogtans het goeie herders die diere onder hulle toesig met teerheid versorg en hulle selfs name gegee waarop hulle gereageer het.—Johannes 10:14, 16.

Die seisoene en die herder

’n Herder het moontlik elke dag in die lente sy kudde uit ’n kraal naby sy huis na die nabygeleë dorpsweiveld gelei waar hulle jong, sappige plante kon vreet. Gedurende hierdie seisoen het die skape en bokke gelam en het die grootte van die kudde toegeneem. Werkers het ook in die lente die skape se winterwol geskeer, wat ’n vreugdevolle geleentheid was.

’n Dorpenaar het moontlik net ’n paar skape besit. Daarom het hy ’n herder gehuur wat sy klein kudde by ’n ander kudde sou voeg. Gehuurde herders het ’n reputasie gehad dat hulle minder besorg was oor ander se diere as hulle eie.—Johannes 10:12, 13.

Nadat die landerye naby die dorp geoes is, het die herder sy skape nuwe lootjies laat vreet sowel as graan wat tussen die stoppels agtergelaat is. Wanneer dit in die somer warm geword het, het herders hulle kuddes na hoërliggende, koeler weivelde geneem. Herders het dae lank buite gewerk en geslaap en die kudde op die steil groen hellings laat wei en snags oor die skape in die oop veld wag gehou. Soms het die herder sy kudde in ’n grot laat oornag, waar hulle veilig sou wees teen jakkalse en hiënas. As die gehuil van ’n hiëna die kudde skape in die middel van die nag laat skrik het, het die herder se kalm stem hulle gerusgestel.

Elke aand het die herder die skape getel en gekyk of hulle gesond is. In die oggend het hy die kudde geroep en dan het hulle hom na die weiveld gevolg (Johannes 10:3, 4). In die middel van die dag het herders die diere na koel waterpoele gelei om te drink. Wanneer die poele opgedroog het, het die herder hulle na ’n put gelei en vir hulle water geskep.

Na aan die einde van die droë seisoen het ’n herder moontlik sy kudde na die kusvlaktes en -valleie geneem. Wanneer die koue reëns  begin val het, het hy hulle huis toe gelei om die winter binne deur te bring, anders sou die diere dalk buite in die gietende reën, haelstorms en sneeu omkom. Herders het hulle kuddes eers weer in die lente buite laat wei.

Toegerus om te werk

Die herder se klere was eenvoudig maar duursaam. Vir beskerming teen die reën en die yskoue naglug het hy moontlik ’n mantel van skaapvel gedra, met die wol aan die binnekant. Teen sy vel het hy ’n tuniek gedra. Sandale het sy voete teen skerp rotse en dorings beskerm, en hy het ’n geweefde stuk wolmateriaal om sy kop gedraai.

Die herder se toerusting het gewoonlik die volgende ingesluit: ’n Leersak met kos, soos brood, olywe, droëvrugte en kaas (1); ’n knuppel, ’n gevaarlike wapen, wat gewoonlik een meter lank was, met skerp stukke leiklip aan die ronde punt daarvan (2); ’n mes (3); ’n staf, wat die herder as ’n kruk gebruik het terwyl hy geloop en geklim het (4); ’n waterhouer (5); ’n opvoubare leeremmer om water uit diep putte te skep (6); ’n slinger, waarmee hy klippe gegooi het tot naby skape of bokke wat begin afdwaal het om hulle na die kudde terug te jaag of waarmee hy roofdiere verdryf het (7); en ’n rietfluit, wat hy vir sy eie vermaak gespeel het en waarmee hy die kudde gepaai het (8).

Die herder is vir sy werk beloon deurdat die diere in sy lewensbenodigdhede voorsien het—produkte soos melk en vleis vir die tafel. Die wol en vel is as ruilmiddels gebruik, en klere en bottels is daarvan gemaak. Bokhaar is in stukke materiaal geweef, en skape sowel as bokke is as offerandes gebruik.

’n Navolgenswaardige voorbeeld

Goeie herders was pligsgetrou, betroubaar en dapper. Hulle het selfs hulle lewe in gevaar gestel om die kudde te beskerm.—1 Samuel 17:34-36.

Ons kan dus verstaan waarom Jesus en sy dissipels die herder as ’n voorbeeld vir Christenopsieners voorgehou het (Johannes 21:15-17; Handelinge 20:28). Soos ’n goeie herder in Bybeltye, probeer hedendaagse gemeentelike opsieners om ‘as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig’.—1 Petrus 5:2.