Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  Ons lesers vra . . .

Is godsdienstige geloof ’n emosionele kruk?

Is godsdienstige geloof ’n emosionele kruk?

’n Emosionele kruk is ’n vorm van selfbedrog wat veroorsaak dat iemand die werklikheid ignoreer en nie logies redeneer nie. Sommige mense gebruik byvoorbeeld alkohol as ’n kruk. In die begin laat alkohol hulle dalk meer selfversekerd voel en beter in staat om die lewe se uitdagings die hoof te bied. Maar op die lange duur benadeel diegene wat op alkohol steun hulleself. Kan dit ook van godsdienstige geloof gesê word?

Party stel geloof aan liggelowigheid gelyk. Hulle sê dat mense wat hulle tot geloof wend, nie vir hulleself wil dink of wil toelaat dat grondige bewyse hulle oortuigings beïnvloed nie. Sulke skeptici gee te kenne dat diegene met sterk godsdienstige geloof die werklikheid ignoreer.

Die Bybel het baie oor geloof te sê. Maar dit sê nêrens dat ons liggelowig of naïef moet wees nie. En dit praat ook nie verstandelike luiheid goed nie. Inteendeel, dit noem mense wat elke woord glo wat hulle hoor, onervare, selfs dwaas (Spreuke 14:15, 18). Ja, hoe dwaas is dit tog om ’n idee te aanvaar sonder om die feite na te gaan! Dit is soos om ons oë toe te maak en oor ’n besige straat te loop net omdat iemand vir ons sê om dit te doen.

Die Bybel is nie ten gunste van blinde geloof nie, maar moedig ons eerder aan om ons figuurlike oë oop te hou sodat ons nie bedrieg word nie (Matteus 16:6). Ons hou ons oë oop deur ons “denkvermoë” te gebruik (Romeine 12:1). Die Bybel leer ons om oor bewyse te redeneer en op grond van die feite tot die regte gevolgtrekkings te kom. Kyk na ’n paar voorbeelde uit die geskrifte van die apostel Paulus.

Toe Paulus aan diegene in die gemeente in Rome geskryf het, wou hy nie hê dat hulle in God moes glo net omdat hy so gesê het nie. Hy het hulle eerder aangespoor om na die bewyse te kyk dat God wel bestaan. Hy het geskryf: “Sy [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle [diegene wat God se gesag verwerp] onverskoonbaar is” (Romeine 1:20). Paulus het ’n soortgelyke redenasie gebruik toe hy sy brief aan die Hebreërs geskryf het. “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou,” het hy gesê, “maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). In ’n brief aan Christene wat in die stad Tessalonika gewoon het, het Paulus hulle aangemoedig om selektief te wees in wat hulle glo. Hy wou hê dat hulle ‘van alles moes seker maak’.—1 Tessalonisense 5:21.

Geloof kan ’n skild wees wat ons beskerm

Godsdienstige geloof wat nie op betroubare bewyse gegrond is nie, kan ’n kruk word, iets wat daartoe kan lei dat ’n mens mislei en benadeel word. Paulus het aangaande party godsdienstige mense van sy dag geskryf: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Hoe belangrik is dit dus dat ons ag slaan op Paulus se raad aan die gemeente in Rome! Hy het geskryf: “Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Geloof wat op juiste kennis van God gegrond is, is nie ’n kruk nie, maar ’n “groot skild” wat ons teen emosionele en geestelike skade beskerm.—Efesiërs 6:16.