Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Los geskille in ’n gees van liefde op

Los geskille in ’n gees van liefde op

“Julle moet . . . vrede onder mekaar bewaar.”—MARKUS 9:50.

LIEDERE: 39, 77

1, 2. Watter persoonlike geskille word in Genesis genoem, en wat kan ons daaruit leer?

HET jy al ooit gedink aan die persoonlike geskille wat in die Bybel genoem word? In net die eerste paar hoofstukke van Genesis lees ons van ’n hele paar geskille: Kain het Abel doodgemaak (Genesis 4:3-8); Lameg het ’n jong man doodgemaak wat hom geslaan het (Genesis 4:23); Abraham se veewagters en Lot se veewagters het gestry (Genesis 13:5-7); Hagar het neergesien op Sara, en Sara het kwaad geword vir Abraham (Genesis 16:3-6); Ismael was teen almal en almal was teen hom.—Genesis 16:12.

2 Waarom word hierdie geskille in die Bybel genoem? Omdat ons kan leer uit hierdie voorbeelde van onvolmaakte mense met werklike probleme. Ons is ook onvolmaak en wanneer ons soortgelyke probleme ondervind, kan ons die goeie voorbeelde in die Bybel navolg en die slegte voorbeelde vermy (Romeine 15:4). Dit kan ons leer hoe om die vrede met ander te bewaar.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons bespreek waarom ons geskille moet oplos en hoe ons dit kan doen. Ons sal ook basiese Bybelbeginsels bespreek wat ons kan help om probleme op te los en om ’n goeie verhouding met Jehovah en met ander te geniet.

WAAROM GOD SE KNEGTE GESKILLE MOET OPLOS

4. Watter gesindheid het regoor die wêreld versprei, en wat was die gevolg?

4 Satan is die hoofoorsaak van verdeeldheid en die talle geskille onder mense. Waarom sê ons so? In Eden het Satan te kenne gegee dat almal sonder God se hulp kan en moet besluit wat goed en wat sleg is (Genesis 3:1-5). Maar wanneer ons vandag na die wêreld kyk, kan ons sien dat so ’n gesindheid net probleme veroorsaak. Baie mense voel dat hulle die reg het om self te besluit wat goed en wat sleg is. Hulle is trots, selfsugtig en mededingend, en hulle gee nie om as hulle besluite ander benadeel nie. So ’n gesindheid lei tot geskille. Die Bybel sê dat iemand wat gou kwaad word, dikwels meningsverskille met ander sal hê en baie oortredings sal begaan.—Spreuke 29:22.

5. Watter raad oor meningsverskille het Jesus aan sy dissipels gegee?

5 In die Bergpredikasie het Jesus sy dissipels geleer om vrede te maak en meningsverskille te vermy, selfs as dit skynbaar tot hulle nadeel sou wees. Hy het byvoorbeeld vir hulle gesê om goedhartig te wees, om vrede met ander te maak, om negatiewe gevoelens soos woede te oorkom, om meningsverskille gou op te los en om hulle vyande lief te hê.—Matteus 5:5, 9, 22, 25, 44.

6, 7. (a) Waarom is dit belangrik dat ons geskille so gou as moontlik oplos? (b) Oor watter vrae moet al Jehovah se knegte nadink?

6 Ons pogings om Jehovah te aanbid—ons gebede, ons predikingswerk en ons bywoning van vergaderinge—sal nutteloos wees as ons weier om vrede met ons broers te maak (Markus 11:25). As ons Jehovah se vriende wil wees, moet ons ander vergewe wanneer hulle foute maak.—Lees Lukas 11:4; Efesiërs 4:32.

Is jy gou om jou broers te vergewe?

7 Jehovah vereis dat al sy knegte vergewensgesind en vredeliewend moet wees. Ons kan ons afvra: ‘Is ek gou om my broers te vergewe? Geniet ek dit om saam met hulle te wees?’ As jy besef dat jy meer vergewensgesind moet wees, bid tot Jehovah en vra hom om jou te help om te verbeter. Ons hemelse Vader sal na sulke nederige gebede luister en dit verhoor.—1 Johannes 5:14, 15.

KAN JY ’N OORTREDING OORSIEN?

8, 9. Wat moet ons doen wanneer iemand ons aanstoot gee?

8 Ons is almal onvolmaak, en daarom kan ons verwag dat mense dinge sal sê of doen wat ons sal ontstel (Prediker 7:20; Matteus 18:7). Hoe sal jy reageer? Ons kan ’n belangrike les uit die volgende ondervinding leer: ’n Suster het twee broers by ’n geselligheid gegroet. Maar een van die broers het aanstoot geneem oor die manier waarop sy hom gegroet het. Toe die twee broers alleen was, het hierdie broer oor die suster begin kla. Die ander broer het hom toe daaraan herinner dat die suster Jehovah al 40 jaar lank lojaal dien ten spyte van baie probleme. Hy was seker dat die suster niks slegs bedoel het nie. Hoe het die eerste broer gereageer? Hy het gesê: “Jy is reg.” Hy het toe besluit om van die saak te vergeet.

9 Wat leer ons uit hierdie ondervinding? Wanneer iemand ons aanstoot gee, kan ons kies hoe ons gaan reageer. ’n Liefdevolle persoon is vergewensgesind. (Lees Spreuke 10:12; 1 Petrus 4:8.) As ons ’n ‘oortreding oorsien’, is dit iets moois in Jehovah se oë (Spreuke 19:11; Prediker 7:9). Wanneer iemand iets sê of doen wat jou ontstel, moet jy jou dus afvra: ‘Kan ek hierdie oortreding oorsien? Is dit werklik nodig dat ek daaroor bly tob?’

10. (a) Hoe het ’n suster gereageer toe sy hoor dat ander negatiewe kommentare oor haar maak? (b) Watter teksgedeelte het hierdie suster gehelp?

10 Wanneer ander iets negatiefs oor ons sê, kan dit moeilik wees om hulle woorde te ignoreer. Kyk wat gebeur het met ’n pioniersuster wat ons Lucy sal noem. Party in die gemeente het negatiewe kommentare gemaak oor haar bediening en hoe sy haar tyd gebruik. Dit het haar baie seergemaak, en sy het geestelik volwasse broers om raad gevra. Watter raad het hulle haar gegee? Sy sê dat hulle die Bybel gebruik het om haar te help besef dat sy haar nie te veel moet steur aan wat ander oor haar sê nie, want wat werklik saak maak, is hoe Jehovah ons beskou. Die woorde in Matteus 6:1-4 (lees) was vir haar baie aanmoedigend. Hierdie verse het haar daaraan herinner dat haar doelwit moet wees om Jehovah se hart bly te maak. Daarom het sy besluit om die negatiewe kommentare maar net te ignoreer. Wanneer ander nou negatiewe kommentare oor haar bediening maak, verloor sy nie haar vreugde nie, want sy weet dat sy haar bes doen om Jehovah te behaag.

WANNEER JY NIE ’N OORTREDING KAN OORSIEN NIE

11, 12. (a) Wat moet ’n Christen doen as hy meen dat sy broer ‘iets teen hom het’? (b) Wat kan ons leer uit die manier waarop Abraham ’n geskil hanteer het? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Sê nou jy hoor dat ’n broer aanstoot geneem het weens iets wat jy gesê of gedoen het? Wat moet jy doen? Jesus het gesê: “As jy . . . jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). Gaan praat dus met jou broer. Jou doelwit moet wees om vrede te maak met jou broer. Jy moet erken dat jy ’n fout gemaak het en nie jou broer die skuld probeer gee nie. Vrede met ons broers is uiters belangrik.

Ons doelwit moet wees om vrede te maak met ons broers

12 Die Bybel toon hoe God se knegte die vrede kan bewaar wanneer daar geskille is. Byvoorbeeld, Abraham en sy broerskind Lot het albei baie vee gehad, en daar het ’n rusie tussen hulle veewagters ontstaan omdat daar blykbaar nie genoeg weiveld vir hulle almal was nie. Omdat vrede vir Abraham belangrik was, het hy Lot toegelaat om die beste deel van die land te kies (Genesis 13:1, 2, 5-9). Wat ’n goeie voorbeeld vir ons! Het Abraham ’n permanente verlies gely omdat hy so vrygewig was? Glad nie. Onmiddellik ná hierdie voorval het Jehovah belowe om Abraham ryklik te seën (Genesis 13:14-17). Wat leer ons? Wanneer ons geskille in ’n gees van liefde oplos, selfs as dit beteken dat ons die een of ander verlies sal ly, kan ons seker wees dat Jehovah ons sal seën. [1]—Sien eindnota.

13. Hoe het ’n opsiener gereageer toe ’n broer onvriendelike dinge vir hom gesê het, en wat kan ons uit sy voorbeeld leer?

13 Beskou ’n hedendaagse voorbeeld. Die nuwe opsiener van ’n afdeling by die streekbyeenkoms het ’n broer gebel om hom te vra of hy in hierdie afdeling kan help. Die broer het onvriendelike dinge gesê en die telefoon neergesit omdat hy nog kwaad was vir die vorige opsiener van die afdeling. Die nuwe opsiener het nie aanstoot geneem nie, maar hy kon nie die voorval ignoreer nie. Ná ’n uur het hy die broer weer gebel en gevra of hulle êrens kan ontmoet. Die volgende week het die twee broers by die Koninkryksaal ontmoet, en nadat hulle tot Jehovah gebid het, het hulle ’n uur lank gesels. Die broer het verduidelik wat gebeur het toe die vorige opsiener toesig gehou het oor die afdeling. Die nuwe opsiener het liefdevol geluister en ’n paar nuttige tekste met die broer bespreek. Gevolglik het die broers vrede gemaak en saam by die byeenkoms gewerk. Die broer is dankbaar dat die opsiener op ’n liefdevolle en sagmoedige manier met hom gepraat het.

MOET JY NA DIE OUER MANNE GAAN?

14, 15. (a) Wanneer moet ons die raad in Matteus 18:15-17 toepas? (b) Watter drie stappe het Jesus uiteengesit, en met watter doel moet jy Jesus se raad toepas?

14 Die meeste probleme tussen twee Christene kan en moet privaat opgelos word. Maar soms is dit nie moontlik nie. In party situasies moet ’n mens ander se hulp inroep volgens Matteus 18:15-17. (Lees.) Die “sonde” wat Jesus hier genoem het, was nie ’n klein meningsverskil tussen twee Christene nie. Hoe weet ons dit? Jesus het gesê dat ’n oortreder wat weier om berou te toon nadat sy broer, getuies en verantwoordelike broers met hom gepraat het, “net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder” behandel moet word. Vandag beteken dit dat hy uit die gemeente gesit moet word. Die “sonde” kan dinge soos bedrog of laster insluit, maar dit sluit nie sondes soos egbreuk, homoseksualiteit, afvalligheid of afgodediens in nie. Sulke sondes moet beslis onder die ouer manne se aandag gebring word.

Soms moet ’n mens ’n paar keer met jou broer praat om vrede te maak (Sien paragraaf 15)

15 Jesus het hierdie raad gegee om vir ons te wys hoe ons ’n broer in ’n gees van liefde kan help (Matteus 18:12-14). Hoe kan ons hierdie raad toepas? (1) Ons moet vrede met ons broer probeer maak sonder om ander te betrek. Ons sal dalk ’n paar keer met hom moet gaan praat. Maar wat moet ons doen as die vrede nog nie herstel is nie? (2) Ons moet weer met ons broer gaan praat, maar dié keer moet ons iemand saamneem wat bewus is van die situasie of wat kan bepaal of ’n oortreding begaan is. As die probleem opgelos word, het jy “jou broer gewen”. Maar slegs nadat jy ’n paar keer met jou broer gepraat het en jy nie daarin kon slaag om die vrede met hom te herstel nie, moet jy (3) die probleem onder die ouer manne se aandag bring.

16. Wat toon dat dit prakties en liefdevol is om Jesus se raad te volg?

16 In die meeste gevalle is dit nie nodig om al drie stappe in Matteus 18:15-17 te volg nie. Dit is aanmoedigend, want dit beteken dat die oortreder meestal sy fout erken, sake regstel en nie uitgesit hoef te word nie. Die persoon teen wie daar oortree is, moet sy broer dan vergewe en sal weer vrede kan geniet. Jesus se raad toon dus duidelik dat ons nie te gou na die ouer manne moet gaan nie. Ons moet die saak slegs onder hulle aandag bring nadat ons die eerste twee stappe gevolg het en as daar besliste bewyse is dat ’n oortreding begaan is.

17. Watter seëninge sal ons geniet as ons vrede met mekaar nastreef?

17 So lank as wat ons onvolmaak is, sal ons ander aanstoot gee. Die dissipel Jakobus het geskryf: “As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). As ons meningsverskille wil oplos, moet ons ons bes doen om ‘vrede te soek en dit na te streef’ (Psalm 34:14). As ons altyd vrede nastreef met ander, sal ons goeie vriendskappe met ons broers en susters geniet, en dit sal ons help om verenig te bly (Psalm 133:1-3). Maar ons sal bowenal ’n hegte vriendskap geniet met Jehovah, “die God wat vrede gee” (Romeine 15:33). Ons sal al hierdie seëninge geniet as ons geskille in ’n gees van liefde oplos.

^ [1] (paragraaf 12) Ander knegte van God wat probleme op ’n vreedsame wyse opgelos het, was Jakob, met Esau (Genesis 27:41-45; 33:1-11); Josef, met sy broers (Genesis 45:1-15); en Gideon, met die Efraimiete (Rigters 8:1-3). Dalk kan jy aan soortgelyke voorbeelde in die Bybel dink.