Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly in afwagting!

Bly in afwagting!

“Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan.” —HABAKUK 2:3.

LIEDERE: 128, 45

1, 2. Watter gesindheid het Jehovah se knegte ten opsigte van Bybelprofesieë?

JEHOVAH se knegte het nog altyd geduldig gewag op die vervulling van profesieë. Byvoorbeeld, Jeremia het voorspel dat die Babiloniërs Juda sou vernietig, en dit is wat in 607 VHJ gebeur het (Jeremia 25:8-11). En Jesaja het voorspel dat Jehovah die Jode wat in ballingskap was, na Juda sou terugbring en het gesê: “Gelukkig is almal wat in afwagting van hom bly” (Jesaja 30:18). Miga het ook op die vervulling van Jehovah se beloftes gewag en gesê: “Na Jehovah sal ek op die uitkyk bly” (Miga 7:7). En God se knegte het honderde jare lank vol vertroue gewag op die koms van die beloofde Messias, of Christus.—Lukas 3:15; 1 Petrus 1:10-12. * (Sien voetnoot.)

2 Vandag wag ons ook op die vervulling van profesieë oor Jehovah se Koninkryk. Jesus, die Koning van hierdie Koninkryk, sal God se knegte binnekort van hierdie gevaarlike wêreld verlos. Hy sal goddelose mense vernietig en ’n einde maak aan alle lyding (1 Johannes 5:19). Ons moet dus aanhou verwag dat Jehovah se dag enige oomblik kan kom en alles in ons vermoë doen om gereed te wees daarvoor.

3. Waaroor sal ons dalk begin wonder as ons al jare lank wag vir die einde om te kom?

3 Ons sien baie uit na die tyd wanneer God se wil op die aarde sal geskied (Matteus 6:10). Maar as ons al jare lank wag vir die einde om te kom, sal ons dalk begin wonder: ‘Waarom moet ons aanhou verwag dat die einde binnekort sal kom?’

WAAROM MOET ONS AANHOU VERWAG DAT DIE EINDE BINNEKORT SAL KOM?

4. Waarom is dit belangrik om ‘aan te hou waak’?

4 Jesus het sy volgelinge beveel om ‘aan te hou waak’ en om ‘wakker te bly’. Daarom is dit belangrik dat ons aanhou verwag dat die einde binnekort sal kom (Matteus 24:42; Lukas 21:34-36). Jehovah se organisasie hou ook aan om ons te herinner om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah [te] verwag en goed in gedagte [te] hou” en om Jehovah se belofte van die nuwe wêreld helder voor oë te hou.—Lees 2 Petrus 3:11-13.

5. Om watter ander rede moet ons in afwagting bly van Jehovah se dag?

5 As Jesus se volgelinge in die eerste eeu in afwagting moes bly van Jehovah se dag, dan is dit vandag selfs belangriker vir ons. Waarom? Omdat die teken wat Jesus gegee het, bewys dat hy sedert 1914 Koning van God se Koninkryk is en dat ons in die laaste dae, of “die voleinding van die stelsel van dinge”, lewe. Wêreldtoestande vererger en die goeie nuus van die Koninkryk word regoor die aarde verkondig, net soos Jesus voorspel het (Matteus 24:3, 7-14). Jesus het nie gesê hoe lank die laaste dae sou duur nie, en daarom moet ons verwag dat die einde enige oomblik kan kom.

6. Hoe weet ons dat wêreldtoestande al hoe erger sal word namate die einde nader kom?

6 Verwys “die voleinding van die stelsel van dinge” dalk na ’n tydperk in die toekoms wanneer wêreldtoestande nog erger sal word as wat dit nou is? Die Bybel sê dat mense “in die laaste dae” al hoe goddeloser sal word (2 Timoteus 3:1, 13; Matteus 24:21; Openbaring 12:12). Hoewel toestande nou baie sleg is, weet ons dus dat dinge sal vererger.

7. Wat leer ons uit Matteus 24:37-39 oor wêreldtoestande gedurende die laaste dae?

7 Party mense dink dalk dat daar voor “die groot verdrukking” oorlog in elke land sal wees en dat die meeste mense siek sal wees of honger sal ly (Openbaring 7:14). Maar as dit sou gebeur, sou almal mos kon sien dat Bybelprofesieë vervul word. Dit sou selfs vir mense wat nie in die Bybel belangstel nie, duidelik wees. Onthou dat Jesus gesê het dat mense in laaste dae ‘nie sou ag slaan’ op die teken van sy teenwoordigheid nie. Hulle sou voortgaan met hulle normale, daaglikse bedrywighede en sou geskok wees wanneer Jehovah se dag kom. (Lees Matteus 24:37-39.) Dit is duidelik dat ons nie moet verwag dat wêreldtoestande voor “die groot verdrukking” so sleg sal word dat mense noodgedwonge sal moet besef dat die einde naby is nie.—Lukas 17:20; 2 Petrus 3:3, 4.

Ons is oortuig daarvan dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe

8. Waarvan is ons oortuig omdat ons ag slaan op Jesus se teken?

8 Die teken wat Jesus gegee het, was bedoel om sy volgelinge ’n duidelike waarskuwing te gee oor die tyd waarin hulle sou lewe. Jesus se volgelinge het waaksaam gebly (Matteus 24:27, 42). Sedert 1914 is die verskillende aspekte van Jesus se teken duidelik sigbaar. Ons is oortuig dat ons wel in die laaste dae, “die voleinding van die stelsel van dinge”, lewe. Jehovah het reeds besluit wanneer hy Satan se goddelose wêreld sal vernietig.

9. Waarom moet ons aanhou verwag dat die einde binnekort sal kom?

9 Waarom moet ons aanhou verwag dat die einde binnekort sal kom? Omdat ons gehoorsaam is aan Jesus Christus. Ons sien ook duidelik dat die teken wat Jesus oor die laaste dae gegee het, vervul word. Ons glo dat die einde naby is omdat ons daarvan oortuig is dat Bybelprofesieë vervul word en nie omdat ons alles glo wat ons hoor nie. Ons moet wakker bly en gereed wees vir die einde.

HOE LANK MOET ONS WAG?

10, 11. (a) Waarom het Jesus vir sy dissipels gesê om ‘aan te hou waak’? (b) Wat het Jesus gesê moet sy volgelinge doen as die einde nie so gou kom as wat hulle verwag het nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Baie van ons dien Jehovah al jare lank getrou en wag gretig vir sy dag om te kom. Ongeag hoe lank ons ook al wag, ons moet aanhou verwag dat daardie dag binnekort sal kom. Ons moet gereed wees wanneer Jesus kom om Satan se wêreld te vernietig. Onthou wat Jesus vir sy volgelinge gesê het om te doen: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. Dit is soos ’n man wat, toe hy na die buiteland gereis het, sy huis verlaat het en die gesag aan sy slawe gegee het, aan elkeen sy werk, en die deurwagter beveel het om aan te hou waak. Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie, hetsy laat in die dag of middernag of met hanekraai of vroeg in die oggend; sodat hy, wanneer hy skielik kom, julle nie aan die slaap vind nie. Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”—Markus 13:33-37.

Die aanval op valse godsdiens kan vinnig en enige oomblik plaasvind

11 Toe Jesus se volgelinge besef het dat hy in 1914 begin regeer het, het hulle geweet dat die einde enige oomblik kan kom. Daarom het hulle daarvoor voorberei deur meer in die predikingswerk te doen. Jesus het gesê dat hy dalk later sou kom, “met hanekraai of vroeg in die oggend”. Wat moes sy volgelinge doen as dit gebeur? Jesus het gesê: ‘Hou aan waak.’ Al voel dit of ons al lank wag, beteken dit nie dat die einde nog ver is of dat dit nie in ons leeftyd sal kom nie.

12. Wat het Habakuk Jehovah gevra, en hoe het God hom geantwoord?

12 Die profeet Habakuk het geduldig gewag terwyl hy verkondig het dat Jerusalem vernietig sou word. Ander profete voor hom het daardie boodskap ook jare lank verkondig. Habakuk kon sien dat daar meer goddeloosheid en ongeregtigheid was as ooit tevore. Hy het Jehovah om hulp gesmeek en gevra: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep?” Hoewel Jehovah nie vir Habakuk gesê het wanneer die einde sou kom nie, het hy hom belowe: “Dit sal nie laat wees nie.” Jehovah het ook vir Habakuk gesê: “Bly in afwagting daarvan.”—Lees Habakuk 1:1-4; 2:3.

13. Hoe kon Habakuk geredeneer het, en waarom sou dit gevaarlik gewees het?

13 Sê nou Habakuk het moeg geword om vir die einde te wag en gesê: ‘Ek wag al jare lank dat Jerusalem vernietig moet word. Die einde is nog ver. Ek hoef nie aan te hou preek nie. Ander kan dit doen.’ Wat sou gebeur het as hy so geredeneer het? Hy sou Jehovah se goedkeuring verloor het. En as hy nie gereed was toe die einde gekom het nie, sou hy moontlik sy lewe verloor het.

14. Waarom sal ons dankbaar wees dat Jehovah ons aangespoor het om in afwagting te bly van die einde?

14 Stel jou voor dat jy in die nuwe wêreld is. Alles wat omtrent die laaste dae voorspel is, het plaasgevind net soos Jehovah gesê het. Jou vertroue in Jehovah is sterker as ooit tevore, en jy is vas oortuig daarvan dat hy al sy ander beloftes sal nakom. (Lees Josua 23:14.) Jy is so dankbaar dat Jehovah die einde op die regte tyd laat kom het en dat hy sy volk aangespoor het om in afwagting daarvan te bly.—Handelinge 1:7; 1 Petrus 4:7.

ONS HOU AAN PREEK TERWYL ONS WAG

Verkondig jy die goeie nuus ywerig? (Sien paragraaf 15)

15, 16. Waarom moet ons ons bes doen in die predikingswerk in hierdie tyd van die einde?

15 Jehovah se organisasie sal ons daaraan bly herinner dat ons ons diens aan Jehovah die middelpunt van ons lewe moet maak. Hierdie herinneringe help ons nie net om besig te bly in God se diens nie, maar ook om te besef dat ons boodskap dringend is. Ons is daarvan oortuig dat die teken wat Jesus gegee het, nou vervul word en dat die einde binnekort sal kom. Daarom stel ons Jehovah eerste in ons lewe en hou ons aan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—Matteus 6:33; Markus 13:10.

16 Wanneer ons die goeie nuus aan ander bekend maak, kan ons hulle help om die naderende vernietiging van Satan se wêreld te oorleef. Een van die ergste seerampe het in 1945 plaasgevind toe die Wilhelm Gustloff gesink het. Duisende mense het hulle lewe verloor. ’n Suster en haar man het hierdie ramp oorleef. Sy onthou hoe ’n vrou, terwyl die skip gesink het, heeltyd uitgeroep het: “My tasse! My tasse! My juwele! Al my juwele is daar onder in die kajuit. Ek het alles verloor!” Maar ander passasiers het besef wat die belangrikste is en het hard gewerk om mense se lewens te red. Vandag is lewens ook op die spel. Ons wil soos daardie onselfsugtige passasiers wees en altyd in gedagte hou hoe dringend ons predikingswerk is. Ons moet alles in ons vermoë doen om mense te help om die einde van hierdie stelsel te oorleef.

Neem wyse besluite en hou altyd in gedagte hoe dringend die predikingswerk is (Sien paragraaf 17)

17. Waarom moet ons glo dat die einde enige oomblik kan kom?

17 Ons kan duidelik sien dat Bybelprofesieë vervul word en dat die einde van hierdie goddelose stelsel baie naby is. Ons wag vir die tyd wanneer “die tien horings” en “die wilde dier” valse godsdiens, Babilon die Grote, sal aanval (Openbaring 17:16). Ons moenie dink dat daar nog baie tyd is voordat dit gebeur nie. Moenie vergeet dat God ‘dit in hulle harte sal sit’ om valse godsdiens aan te val en dat dit skielik en enige oomblik kan gebeur nie! (Openbaring 17:17). Satan se goddelose wêreld sal binnekort vernietig word. Daarom moet ons ag slaan op Jesus se waarskuwing: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie” (Lukas 21:34, 35; Openbaring 16:15). Mag ons altyd waaksaam wees en besig bly in Jehovah se diens, vol vertroue dat hy “optree vir die een wat in afwagting van hom bly”.—Jesaja 64:4.

18. Watter vraag sal in die volgende artikel beantwoord word?

18 Terwyl ons wag vir die einde van hierdie goddelose wêreld, moet ons op die raad van die dissipel Judas ag slaan: “Geliefdes, [julle] moet julle op julle allerheiligste geloof opbou en met heilige gees bid en julle sodoende in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 20, 21). Maar hoe kan ons toon dat ons verwag dat God se nuwe wêreld binnekort sal kom en dat ons daarna uitsien? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

^ par. 1 Sien bladsy 200 van die boek Wat leer die Bybel werklik? vir ’n lys van party Bybelprofesieë oor die Messias en hoe dit vervul is.