Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Egbreuk

Egbreuk

Al sê baie mense dat getrouheid noodsaaklik is vir ’n gelukkige huwelik, skeur egbreuk nog steeds talle gesinne uitmekaar.

Wat is egbreuk?

WAT MENSE SÊ

In party kulture beskou mense buite-egtelike seks nie as iets verkeerds nie, veral as die man daaraan skuldig is. En party mense beskou die huwelik nie as ’n permanente verbintenis nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

In die Bybel verwys egbreuk oor die algemeen na wanneer ’n getroude persoon—’n man of ’n vrou—vrywilliglik geslagsomgang het met iemand wat nie sy of haar huweliksmaat is nie (Job 24:15; Spreuke 30:20). Egbreuk is vir God verfoeilik. In eertydse Israel het dit tot die doodstraf gelei (Levitikus 18:20, 22, 29). Jesus het sy volgelinge geleer dat hulle nie egbreuk moet pleeg nie.—Matteus 5:27, 28; Lukas 18:18-20.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Egbrekers verbreek die plegtige gelofte wat hulle aan hulle huweliksmaat gemaak het toe hulle getrou het. Dit is ook ’n ‘sonde teen God’ (Genesis 39:7-9). Egbreuk kan kinders op hartverskeurende wyse van hulle ouers skei. Verder waarsku die Bybel: “God sal . . . egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.

“Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging.”Hebreërs 13:4.

Beëindig egbreuk die huweliksverbintenis?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel laat ’n getroude persoon toe om sy of haar huwelik te beëindig op grond van ’n huweliksmaat se seksuele onsedelikheid (Matteus 19:9). Ná ’n daad van ontrouheid het die onskuldige maat dus die reg om te besluit om by die ontroue maat te bly of om ’n egskeiding te verkry. Dit is ’n persoonlike besluit.—Galasiërs 6:5.

Aan die ander kant is die huwelik ’n heilige, lewenslange verbintenis in God se oë (1 Korintiërs 7:39). God haat dit wanneer iemand weens onbenullige redes wil skei, soos omdat hy of sy bloot ontevrede met sy of haar maat is. Egskeiding is dus nie ’n besluit wat ligtelik opgeneem moet word nie.—Maleagi 2:16; Matteus 19:3-6.

“Ek sê . . . vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens hoerery, haar aan egbreuk blootstel.”Matteus 5:32.

Is egbreuk ’n onvergeeflike sonde?

WAT DIE BYBEL SÊ

Nee. Die Bybel sê dat God barmhartigheid bewys aan diegene wat berou toon en hulle van hulle sonde bekeer—insluitende egbreuk (Handelinge 3:19; Galasiërs 5:19-21). Trouens, die Bybel praat van mans en vroue wat opgehou het om egbreuk te pleeg en later God se vriende geword het.—1 Korintiërs 6:9-11.

God se barmhartigheid kan gesien word in die geval van koning Dawid van eertydse Israel. Dawid het egbreuk gepleeg met die vrou van een van sy leëroffisiere (2 Samuel 11:2-4). Die Bybel sê duidelik: “Wat Dawid gedoen het, was sleg in die oë van Jehovah” (2 Samuel 11:27). Nadat hy tereggewys is, het Dawid berou getoon en het God hom vergewe. Dawid moes nietemin die hartseer gevolge van sy dade dra (2 Samuel 12:13, 14). Wyse koning Salomo het later gesê: “Iemand wat . . . egbreuk pleeg, het nie ’n verstandige hart nie.”—Spreuke 6:32.

WAT JY KAN DOEN

As jy egbreuk gepleeg het, moet jy God en jou huweliksmaat om vergifnis vra (Psalm 51:1-5). Leer om egbreuk te haat net soos God dit haat (Psalm 97:10). Wees vasbeslote om pornografie, seksuele fantasieë, flankeerdery of enigiets anders te vermy wat seksuele belangstelling in jou kan wek vir iemand wat nie jou huweliksmaat is nie.—Matteus 5:27, 28; Jakobus 1:14, 15.

As jou huweliksmaat egbreuk gepleeg het, kan jy seker wees dat God jou gevoelens verstaan (Maleagi 2:13, 14). Vra hom vir sy tere vertroosting en leiding, en “hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). As jy besluit om jou huweliksmaat te vergewe en nie julle huwelik te beëindig nie, sal julle albei hard moet werk om julle huweliksband weer te versterk.—Efesiërs 4:32.

Nadat Dawid egbreuk gepleeg en berou getoon het, het die profeet Natan vir hom gesê: “En Jehovah sien u sonde oor.”2 Samuel 12:13.