Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | VERBETER JOU GESONDHEID—5 DINGE WAT JY VANDAG KAN DOEN

Maniere om jou gesondheid te verbeter

Maniere om jou gesondheid te verbeter

WIE wil siek wees? Siekte is ’n ongerief en ’n uitgawe, om die minste te sê. Jy voel nie net sleg wanneer jy siek is nie, maar jy sal dalk ook nie werk of skool toe kan gaan, geld kan verdien of vir jou gesin kan sorg nie. Miskien sal jy selfs iemand nodig hê om jou te versorg en sal jy vir duur medisyne en behandeling moet betaal.

Daar is al tereg gesê: “Voorkoming is beter as genesing.” Party siektes is onvermydelik. Maar daar is baie wat jy kan doen om so lank as moontlik gesond te bly of selfs te verhoed dat jy siek word. Kyk na vyf dinge wat jy vandag kan doen om jou gesondheid te verbeter.

1 HANDHAAF GOEIE HIGIËNE

Om jou hande te was, is volgens die Mayo Clinic “een van die beste maniere om te voorkom dat jy siek word en dat siekte versprei”. Een van die maklikste maniere om verkoue of griep te kry, is om jou neus of jou oë te vryf as jou hande met kieme besmet is. Jou beste verdediging teen sulke besmetting is om jou hande gereeld te was. Goeie higiëne kan ook die verspreiding van ernstiger siektes voorkom, soos longontsteking en diarreale siektes, wat elke jaar die lewe eis van meer as tweemiljoen kinders onder die ouderdom van vyf. Selfs die verspreiding van die dodelike siekte Ebola kan beperk word deur die eenvoudige gewoonte om hande te was.

Daar is sekere tye wanneer dit veral belangrik is om jou hande te was om jou gesondheid en dié van ander te beskerm. Jy moet jou hande was:

  • Nadat jy die toilet gebruik het.

  • Nadat jy ’n kind se doek omgeruil het of ’n kind gehelp het om die toilet te gebruik.

  • Voordat en nadat jy ’n wond of ’n sny behandel het.

  • Voordat en nadat jy ’n siek persoon besoek het.

  • Voordat jy kos voorberei, bedien of eet.

  • Nadat jy genies, gehoes of jou neus gesnuit het.

  • Nadat jy aan ’n dier of ’n dier se ontlasting geraak het.

  • Nadat jy vullis hanteer het.

En moenie net aanneem dat jy jou hande behoorlik was nie. Studies het getoon dat baie mense nie hulle hande was nadat hulle ’n openbare toilet gebruik het nie of dit nie behoorlik was nie. Hoe moet jy jou hande was?

  • Maak jou hande nat in skoon, lopende water en smeer seep aan.

  • Vryf jou hande totdat skuim vorm en moenie vergeet om jou naels, jou duime, die agterkant van jou hande en tussen jou vingers skoon te maak nie.

  • Vryf jou hande ten minste 20 sekondes lank.

  • Spoel dit in skoon, lopende water af.

  • Maak dit met ’n skoon handdoek of papierhanddoek droog.

Sulke maatreëls is eenvoudig, maar kan siekte voorkom en lewens red.

2 GEBRUIK SKOON WATER

Om genoeg skoon water vir jou gesin te kry, is in party lande ’n daaglikse taak. Maar toegang tot skoon water kan in enige deel van die wêreld ’n probleem word wanneer die gewone watertoevoer wat normaalweg veilig is om te drink, besoedel word as gevolg van ’n oorstroming, ’n storm, ’n gebarste pyp of iets anders. As water nie van ’n veilige bron af kom of reg geberg word nie, kan dit parasietbesmetting veroorsaak, asook cholera, lewensgevaarlike diarree, ingewandskoors, hepatitis en ander infeksies. Onveilige drinkwater is een van die oorsake van ongeveer 1,7 miljard gevalle van diarreale siektes per jaar.

Daar is baie wat jy kan doen om so lank as moontlik gesond te bly of selfs te verhoed dat jy siek word

Cholera word in die meeste gevalle veroorsaak wanneer mense water of kos inneem wat besmet is met ontlasting van mense wat die siekte het. Wat kan jy doen, selfs onmiddellik ná ’n ramp, om te verseker dat jy nie besoedelde water inneem nie?

  • Verseker dat al jou drinkwater—insluitende die water waarmee jy tande borsel, ys maak, voedsel en skottelgoed was of kook—van ’n veilige bron af kom, soos munisipale water wat voldoende gesuiwer is of verseëlde bottels water van ’n maatskappy met ’n goeie naam.

  • As daar ’n moontlikheid bestaan dat jou kraanwater besmet is, moet jy jou water kook of dit met die gepaste chemikalieë behandel voordat jy dit gebruik.

  • As jy chemikalieë gebruik, soos chloor of watersuiweringstablette, moet jy die vervaardiger se instruksies sorgvuldig volg.

  • Gebruik waterfilters van ’n goeie gehalte, as dit beskikbaar en bekostigbaar is.

  • As geen watersuiweringsmiddels beskikbaar is nie, kan jy gewone bleikmiddel gebruik. Voeg twee druppels bleikmiddel vir elke liter water by, meng goed en laat die water dan 30 minute lank staan voordat jy dit gebruik.

  • Hou gesuiwerde water altyd in skoon, bedekte houers om te verhoed dat dit weer besmet word.

  • Maak seker dat enige voorwerp wat jy gebruik om water uit hierdie houers te skep, soos ’n beker, skoon is.

  • Maak seker dat jou hande skoon is wanneer jy waterhouers hanteer, en moenie jou hande of vingers in die drinkwater sit nie.

3 LET OP WAT JY EET

Dit is nie moontlik om goeie gesondheid te geniet sonder goeie voeding nie, en goeie voeding behels ’n gesonde, gebalanseerde dieet. Jy moet dalk let op hoeveel sout, vet en suiker jy inneem, en jy moet jou nie ooreet nie. Sluit vrugte en groente by jou dieet in, en eet ’n verskeidenheid voedselsoorte. As jy die inligting op die verpakking lees, sal dit jou help om volgraanprodukte te kies wanneer jy brood, ontbytgraan, pasta of rys koop. Dit is ryker aan voedingstowwe en vesel as produkte wat van verfynde graan gemaak is. Wat proteïene betref, moet jy klein porsies vleis en hoender eet, en probeer om ’n paar keer per week vis te eet, as dit moontlik is. In party lande is dit ook moontlik om proteïenryke voedselsoorte te kry wat van plante afkomstig is.

As jy te veel suiker en hardevet eet, loop jy die risiko dat jy oorgewig sal word. Om hierdie risiko te verminder, moet jy eerder water as koeldrank drink. Eet eerder vrugte as nageregte wat baie suiker bevat. Beperk jou inname van die soort hardevet wat in kosse soos wors, vleis, botter, koek, kaas en koekies voorkom. Dit is beter om gesonder olies eerder as hardevet te gebruik wanneer jy kook.

Te veel sout kan veroorsaak dat jou bloeddruk te hoog word. As jy hierdie probleem het, moet jy die inligting op die verpakking van produkte lees om te verseker dat jy nie te veel sout inneem nie. Gebruik kruie en speserye eerder as sout om jou disse te geur.

Hoeveel jy eet, kan net so belangrik wees soos wat jy eet. Geniet dus jou kos, maar moenie aanhou eet wanneer jy nie meer honger is nie.

Nog iets wat met voeding verband hou, is die gevaar van voedselvergiftiging. Enige kos kan jou vergiftig as dit nie reg voorberei of geberg word nie. Een uit ses Amerikaners raak elke jaar siek as gevolg van voedselvergiftiging. Die meeste herstel sonder enige blywende negatiewe gevolge, maar party gaan daarvan dood. Wat kan jy doen om die gevaar te verminder?

  • Groente groei in grond wat moontlik met mis bemes is, en daarom moet dit deeglik gewas word voordat dit voorberei word.

  • Was jou hande, snyplank, kombuisgereedskap, bakke en werksoppervlak met warm, seperige water voordat jy elke item voorberei.

  • Maak altyd ’n oppervlak of bord skoon waarop daar rou eiers, hoender, vleis of vis was voordat jy ander voedsel daarop sit. Dit sal verhoed dat een voedselitem deur ’n ander besmet word.

  • Wanneer jy voedsel gaarmaak, moet jy seker maak dat dit die regte temperatuur bereik. Sit enige bederfbare items wat nie onmiddellik geëet gaan word nie, so gou moontlik in die yskas.

  • Gooi enige bederfbare items weg wat meer as twee uur lank by kamertemperatuur gelaat is of meer as een uur lank by ’n lugtemperatuur van meer as 32 grade Celsius gelaat is.

4 BLY AKTIEF

Ongeag hou oud jy is, jy het gereelde oefening nodig om gesond te bly. Vandag oefen baie mense nie genoeg nie. Waarom is oefening belangrik? Om aktief te bly, kan jou help om:

  • Goed te slaap.

  • Jou beweeglikheid te behou.

  • Sterk bene en spiere te hê.

  • ’n Gesonde gewig te bereik of dit te handhaaf.

  • Die risiko te verminder dat jy depressie sal kry.

  • Die gevaar van vroegtydige dood te verminder.

As jy nie aktief bly nie, is die gevaar groter dat jy:

  • Aan hartsiekte sal ly.

  • Tipe 2-diabetes sal kry.

  • Hoë bloeddruk sal ontwikkel.

  • Hoë cholesterolvlakke sal ontwikkel.

  • ’n Beroerte sal kry.

Die soort oefening wat reg is vir jou, hang af van jou ouderdom en gesondheid. Daarom is dit verstandig om ’n dokter te raadpleeg voordat jy met enige nuwe oefenprogram begin. Volgens verskeie aanbevelings moet kinders en adolessente ten minste 60 minute matige tot strawwe oefening per dag kry. Volwassenes moet 150 minute matige oefening of 75 minute strawwe oefening per week kry.

Kies iets wat vir jou pret is. Dit kan basketbal, tennis, sokker, vinnige stap, fietsry, tuinmaak, houtkap, swem, kanovaart, draf of ander aërobiese oefening insluit. Hoe sal jy weet of ’n aktiwiteit matige of strawwe oefening is? ’n Algemene riglyn is dat matige oefening jou laat sweet, maar dat strawwe oefening dit vir jou moeilik maak om ’n gesprek te voer terwyl jy dit doen.

5 KRY GENOEG SLAAP

Die hoeveelheid slaap wat ’n mens nodig het, verskil van persoon tot persoon. Die meeste pasgebore babas slaap 16 tot 18 uur per dag, kleuters ongeveer 14 uur en voorskoolse kinders omtrent 11 of 12 uur. Skoolgaande kinders het ten minste 10 uur slaap nodig, adolessente dalk 9 of 10 uur en volwassenes 7 tot 8 uur.

Om die regte hoeveelheid rus te kry, moenie as opsioneel beskou word nie. Volgens deskundiges is genoeg slaap belangrik:

  • Vir die groei en ontwikkeling van kinders en tieners.

  • Om nuwe inligting te leer en te onthou.

  • Om die regte hormoonbalans te handhaaf wat ’n uitwerking op jou metabolisme en gewig het.

  • Vir die gesondheid van jou hart en bloedvatstelsel.

  • Om te voorkom dat jy siek word.

Te min slaap word verbind met vetsug, depressie, hartsiekte, diabetes en tragiese ongelukke. Dit gee ons beslis goeie rede om genoeg rus te probeer kry.

Maar wat kan jy doen as jy besef dat jy te min slaap kry?

  • Probeer om elke dag op dieselfde tyd te gaan slaap en op te staan.

  • Sorg dat jou slaapkamer stil, donker, ontspannend en nie te warm of te koud is nie.

  • Moenie TV kyk of elektroniese toestelle gebruik terwyl jy in die bed is nie.

  • Sorg dat jou bed so gemaklik as moontlik is.

  • Moenie ’n groot maaltyd eet of kafeïen of alkohol drink voordat jy gaan slaap nie.

  • As jy al hierdie wenke toegepas het en nog steeds ly aan slapeloosheid of ’n ander slaapversteuring—soos om uitermate lomerig te voel gedurende die dag of na jou asem te snak terwyl jy slaap—sal dit verstandig wees om ’n professionele gesondheidswerker te raadpleeg.