Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het hervormers die oplossing?

Het hervormers die oplossing?

Het hervormers die oplossing?

ONEERLIKE sakepraktyke, partydige wetstoepassing, maatskaplike ongeregtigheid, onvoldoende gesondheidsorg, ’n minderwaardige onderwysstelsel, uitbuitery in die naam van godsdiens en die vernietiging van die omgewing—dit is kwessies wat die meeste van ons laat sug van teleurstelling. Dit is ook kwessies wat hervormers tot optrede aanspoor.

Hervormers word in feitlik elke gemeenskap gevind, waar hulle veranderinge op ’n ordelike, wettige manier aanmoedig. Gewoonlik is hulle nie anargiste of revolusioniste nie omdat die meeste hervormers binne die grense van die wet bly en hulle nie tot geweld wend nie. ’n Paar hervormers beklee invloedryke posisies in die gemeenskap en neem die inisiatief om veranderinge in te voer. Ander oefen druk op mense in gesagsposisies uit om stappe te doen.

Hervormers probeer die samelewing kry om hulle benadering tot sekere kwessies te heroorweeg. Hulle maak nie net beswaar nie; hulle het idees oor hoe om sake te verbeter. Hervormers vestig moontlik die aandag op sake wat vir hulle belangrik is deur beroepe op die publiek te doen, in die strate te betoog of publisiteit in die media te probeer kry. Een van die ergste dinge wat met ’n hervormer kan gebeur, is dat die samelewing hom ignoreer.

Hervormers deur die geskiedenis heen

Hervormings is ’n integrale deel van die geskiedenis. Die Bybel sê vir ons dat ’n openbare spreker sowat 2 000 jaar gelede vir Feliks, die prokurator van die Romeinse provinsie Judea, met hierdie woorde geprys het: ‘Hervormings vind in hierdie nasie deur u voorsorg plaas’ (Handelinge 24:2). Omtrent 500 jaar voor Feliks het die Griekse wetgewer Solon hervormings deurgevoer om die omstandighede van die armes te verbeter. Solon “het ’n einde gemaak aan die ergste ellendes van armoede” in antieke Atene, verduidelik The Encyclopædia Britannica.

Die geskiedenis van godsdiens is vol voorbeelde van hervormers. Martin Luther het byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk probeer hervorm, en sy pogings het gehelp om die weg vir Protestantisme te baan.

Die omvang van hervorming

Hervormers probeer ook dalk om gewone, alledaagse dinge te verander. Party hervormers bevorder ’n fundamentele verandering in lewenstyl. Dit was vroeg in die 20ste eeu die geval met die Lebensreform-beweging (lewenstylhervormingsbeweging) in Duitsland. Weens die toenemende industrialisasie van die samelewing het baie mense gevoel dat die lewe meganies en onpersoonlik geraak het. Die hervormers het ’n terug-na-die-natuur-benadering tot die lewe voorgestaan. Hulle het fiksheid, buitemuurse bedrywighede, natuurgeneeskunde en vegetarisme bevorder.

Ander hervormers stel ongeregtigheid aan die kaak en oefen druk op die regering uit om die situasie reg te stel. Sedert die vroeë 1970’s betoog groepe omgewingsaktiviste teen die misbruik en agteruitgang van die omgewing. Party van hierdie groepe het sedertdien internasionale organisasies geword. Die aktiviste doen meer as om te betoog en te protesteer teen omgewingsgevare. Hulle maak ook voorstelle oor hoe om die situasie reg te stel. Hulle het gehelp om die wette te verander oor onder meer die storting van giftige afval in die see en die jag op walvisse.

In die 1960’s het die Tweede Vatikaanse Konsilie die Rooms-Katolieke Kerk probeer hervorm. In die 1990’s was daar ook voornemende hervormers onder die lekedom van die Katolieke Kerk. Hulle het byvoorbeeld ’n verandering voorgestel wat die selibaat betref. Hervormers in die Anglikaanse Kerk het ’n verandering deurgevoer wat vroue toelaat om priesters te word.

Nie gewild by almal nie

Party hervormings het betekenisvolle verbeteringe meegebring. In die Bybel vind ons byvoorbeeld talle voorbeelde van staatshoofde en ander wat prysenswaardige hervormings bevorder het. Sulke pogings het geestelike herlewing, maatskaplike vernuwing en God se goedkeuring tot gevolg gehad (2 Konings 22:3-20; 2 Kronieke 33:14-17; Nehemia, hoofstukke 8 en 9). In onlangser tye het die groter klem wat op basiese vryhede sowel as burger- en menseregte geplaas word, grootliks bygedra tot die beskerming en verdediging van onderbevoorregte minderheidsgroepe en vervolgde individue.

Maar wanneer hervormings ingevoer word, is daar dikwels verrassings. John W. Gardner, ’n 20ste-eeuse staatsamptenaar, het gesê: “’n Ironie van die geskiedenis is dat hervormers alte dikwels nie met die gevolge van hulle hervormings rekening hou nie.” Beskou ’n paar voorbeelde.

Van die vroeë 1980’s af het die is Europese Gemeenskap landbouhervormings ingevoer wat daarop gemik was om grasland- en heideveldhabitats te bevoordeel. Nuwe landboubeleide het meer as 300 000 hektaar landbougrond in Duitsland en Italië beskikbaar gestel om in grasland omskep te word. Ondanks die goeie voornemens was daar onvoorsiene risiko’s. “Hoewel dit oorspronklik verwelkom is as ’n geleentheid om die ekologiese waarde van sulke gebiede te verhoog”, sê die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram, “kan ‘opsysit’-maatreëls ook negatiewe gevolge hê—wat veroorsaak dat mense tradisionele boerderymetodes laat vaar en ongepaste vorme van bosbou en bosaanplanting beoefen.”

Aangaande pogings om die armes te help, het die Internasionale Fonds vir Landbouontwikkeling gesê: “Alle pogings om die armes deur middel van institusionele hervorming te help, kom voor ’n groot struikelblok te staan. Instellings word gewoonlik gestig en bestuur om die belange van magtige mense te bevorder. . . . ‘Magtige mense’ is geneig om plaaslike instellings vir hulle eie gewin te bestuur.”

Nog ’n voorbeeld is die vrouebeweging, wat die lewe van vroue in die Westerse wêreld verander het deur vir hulle dinge soos stemreg en beter geleenthede vir hoër onderwys en loopbane te verkry. Maar selfs party voorstanders van vrouebevryding erken dat die vrouebeweging sekere probleme opgelos het terwyl dit ander vererger het. Die skrywer Susan van Scoyoc het gevra: “Het ons werklik die lot van vroue verbeter of het ons hulle tot ’n lewende hel verdoem deur te verwag dat vroue gelyk in die werksplek moet wees sonder aanpassings in hulle persoonlike lewe om daarvoor te vergoed?”

Ondoeltreffende hervormings

Party hervormers is daarvan beskuldig dat hulle hervorming bloot ter wille van hervorming nastreef. In ’n bespreking van wat hy ondoeltreffende hervormings noem, het Frederick Hess, wat skoolhervorming bestudeer het, gesê: “Die probleem met die teleurstellende resultate van grootskaalse hervormingspogings is die aard van die hervormingsinisiatief self. Pleks van probleme op te los, het hierdie hervormingspogings aanloklike afleidings geword wat eintlik bygedra het tot” die probleme wat hulle veronderstel was om op te los. Hy sê voorts: “Omdat elke regering geneig is om nuwe hervormings in te voer, word die hele proses elke paar jaar van voor af herhaal.”

Hervormings kan ook uiteindelik ’n ander, soms skadelike, saak bevorder. Die Lebensreform-beweging in Duitsland het gehelp om die teorie van eugenetiek te ontwikkel, die studie van hoe die menseras verbeter kan word deur ouers te kies wat sterker kinders sal voortbring. Radikale het egter hierdie kennis misbruik om die Nasionaal-sosialiste te ondersteun in hulle ideologiese stryd om ’n superras voort te bring.

Selfs vurige ondersteuners van hervorming word soms deur die resultate teleurgestel. Kofi Annan, die VN se sekretaris-generaal, het gesê: “Wat na my mening die frustrerendste is, is dat ons almal weet wat verkeerd is en wat gedoen moet word, maar dikwels is ons hande afgekap. Soms ontvang ’n sekretariaat wat deur die sekretaris-generaal gelei word, ’n mandaat om iets daaromtrent te doen, maar ons ontvang nooit die hulpbronne wat nodig is om die besluite deur te voer nie. Partykeer, wanneer ongelooflike dinge gebeur en ons die gewete van die wêreld wil prikkel, wil niemand betrokke raak nie as gevolg van slegte ondervindinge in die verlede.”

Hervormers kan nie hoop om gewild te word nie, want deur die aandag op hulle saak te vestig, maak hulle die lewe vir ander moeilik. “Die hervormer was nog altyd ’n doring in die vlees”, volgens Jürgen Reulecke, ’n professor van moderne geskiedenis en ’n spesialis op die gebied van hervormers wat in die koerant Die Zeit aangehaal is. Wat meer is, hoewel die meeste hervormers binne die perke van die wet bly en nie geweld gebruik nie, raak party ongeduldig as die vooruitgang stadig is. Onder sulke omstandighede kan ’n hervormingsbeweging militante voortbring wat die perke van die wet oorskry.

Het die wydverspreide hervormings van onlangse jare mense oor die algemeen meer tevrede met die lewe gemaak? Dit lyk nie so nie. In Duitsland toon meningspeilings byvoorbeeld dat die vlak van mense se tevredenheid met die lewe oor die laaste 35 jaar of wat feitlik onveranderd gebly het. Wat van godsdiens? Het godsdienshervormings meer aanbidders gelok? Is aanbidders meer tevrede met godsdiens? Nee, soos gesien kan word uit die feit dat die Westerse wêreld al hoe meer sekulêr word en mense al hoe minder deur gevestigde godsdiens aangetrek word.

Was Jesus Christus ’n hervormer?

Party beweer dalk dat Jesus Christus ’n hervormer was. Is dit waar? Hierdie vraag is belangrik vir enigiemand wat ’n ware kneg van God wil wees, aangesien dit behels dat ’n mens noukeurig in Christus se voetstappe moet volg.—1 Petrus 2:21.

Daar bestaan geen twyfel dat Jesus die vermoë gehad het om hervormings deur te voer nie. As ’n volmaakte man kon hy die weg gebaan het vir omvattende veranderinge en nuwighede. Maar Christus het nie ’n beweging begin om die wêreld van korrupte amptenare of oneerlike sakemanne te bevry nie. Hy het nie straatbetogings teen onregte gelei nie, hoewel hy self die onskuldige slagoffer van ’n verskriklike regsdwaling sou word. Soms het Jesus “geen plek [gehad] om sy kop neer te lê nie”. En tog het hy nie ’n drukgroep begin om die aandag op die behoeftes van die haweloses te vestig nie. “Julle het die armes altyd by julle”, het hy verduidelik toe party hulle kommer oor geld uitgespreek het. Jesus het neutraal gebly wat die konflikte van die wêreld betref.—Matteus 8:20; 20:28; 26:11; Lukas 12:13, 14; Johannes 6:14, 15; 18:36.

Christus het natuurlik nie onverskillig gestaan teenoor probleme soos armoede, korrupsie en ongeregtigheid nie. Trouens, die Bybel toon dat die jammerlike toestand van die mensdom hom baie ontstel het (Markus 1:40, 41; 6:33, 34; 8:1, 2; Lukas 7:13). Maar wat hy aangebied het, was ’n unieke oplossing. Wat Christus in gedagte gehad het, was nie ’n eenvoudige hervorming nie, maar ’n algehele verandering in die manier waarop die mensdom se sake bestuur word. Hierdie verandering sal teweeggebring word deur middel van die hemelse Koninkryk wat die Skepper van die mensdom, Jehovah God, opgerig het en deur Jesus Christus as Koning bestuur word. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Lokteks op bladsy 6]

“’n Ironie van die geskiedenis is dat hervormers alte dikwels nie met die gevolge van hulle hervormings rekening hou nie.”—John W. Gardner

[Lokteks op bladsy 7]

“Wat na my mening die frustrerendste is, is dat ons almal weet wat verkeerd is en wat gedoen moet word, maar dikwels is ons hande afgekap.”—Kofi Annan, sekretaris-generaal van die VN

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

“Ek het my lewe gewaag om die omgewing te beskerm”

Hans het 48 jaar lank op see gewerk, en meer as 35 jaar daarvan was hy ’n skeepskaptein. Teen die einde van sy loopbaan was hy die kaptein van ’n vaartuig wat deur ’n omgewingsorganisasie gebruik is. Hy verduidelik:

“Ek het nog altyd geglo dat die mensdom die omgewing moet respekteer en die natuur met ontsag moet behandel. Toe ek die geleentheid gebied is om die kaptein van ’n omgewingsgroep se skip te wees, het ek die aanbod dus onmiddellik aanvaar. Dit was ons werk om gevare wat die omgewing bedreig het, aan die lig te bring. Sodra ons ’n seeveldtog beplan het, het ons die media betrokke gekry om die publiek se aandag te trek. Ons het uitgevaar en probeer keer dat radioaktiewe afval en giftige stowwe in die see gestort word. In ’n ander veldtog het ons die slagting van robbe en robwelpies probeer beëindig.

“Hierdie werk het moed geverg. Ek het my lewe gewaag om die omgewing te beskerm. Tydens een protesoptrede het ek my aan ’n skip se anker vasgeboei en is ek saam met die anker na die seebodem afgetrek. By ’n ander geleentheid was ek in ’n rubbersnelboot langs ’n groot skip. Iemand het ’n swaar metaaldrom op ons rubberboot gegooi wat die boot vooroor laat slaan het. Ek is ernstig beseer.”

Hans het uiteindelik besef dat, hoewel die bedoelings van die organisasie goed was, hy sy lewe waag terwyl daar ’n skrale kans was om ’n blywende impak op die omgewing te hê (Prediker 1:9). Kort nadat hy bande met die omgewingsgroep verbreek het, het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer en ’n gedoopte Getuie geword. Vandag is hy ’n voltydse bedienaar. “Die Bybel het my gehelp om te besef dat God se Messiaanse Koninkryk die enigste realistiese hoop bied om goed na die omgewing om te sien.”

[Venster/Prent op bladsy 9]

Sy het vir hervorming geveg

Sara (nie haar regte naam nie) is in die middel-1960’s in Asië gebore. Sy was ’n tiener toe ’n revolusie in haar land ’n nuwe regime aan bewind gebring het, wat politieke en maatskaplike hervorming belowe het. Aanvanklik was die burgers van haar land bly oor die verandering, maar binne ’n jaar het die nuwe regering teenstanders begin vervolg, net soos die ou regering gedoen het. Daar was wydverspreide ontnugtering, en Sara het betrokke geraak by georganiseerde teenstand teen die nuwe regering. Sy verduidelik:

“Ons opposisiegroep het vergaderinge gehou, en ons het in die openbaar betoog. Ek was in die strate van die hoofstad besig om plakkate op te plak en strooibiljette uit te deel toe die soldate my in hegtenis geneem het. Uiteindelik het hulle my laat gaan. Ander in ons groep was nie so gelukkig nie. Twee van my vriendinne is in hegtenis geneem en tereggestel. Omdat my lewe in gevaar was, het my vader my aangespoor om die land te verlaat.”

Nadat Sara in Europa aangekom het, het sy die Bybel gestudeer en is sy as een van Jehovah se Getuies gedoop. Vandag is sy ’n voltydse bedienaar. Sara kyk terug op haar ondervinding en sê:

“Ek het gesmag na geregtigheid en ’n oplossing vir ons maatskaplike probleme. Ek het gesien dat die nuwe regering in ons land met dieselfde doelwitte begin het, maar tot sulke uiterstes gegaan het dat dit die doelwitte uit die oog verloor en die bevolking begin onderdruk het. Ek het ook besef dat die protesgroep waaraan ek behoort het, nie die oplossings vir ons land se probleme gehad het nie (Psalm 146:3, 4). Nou weet ek dat die oplossing vir al die mensdom se probleme God se Messiaanse Koninkryk is.”

[Prent op bladsy 7]

Die Berlynse muur het in 1989 geval

[Prent op bladsy 8]

Het godsdienshervormings meer aanbidders gelok?

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Regs bo: U.S. Information Agency photo

[Foto-erkennings op bladsy 7]

Kofi Annan: UN/DPI photo by Evan Schneider (Feb97); agtergrond: WHO/OXFAM