Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor grimering en juwele?

Wat sê die Bybel oor grimering en juwele?

Die Bybel se antwoord

 Hoewel die Bybel nie die dra van grimering, juwele of enige ander soort versiering in detail bespreek nie, sê dit nie dat dit verkeerd is nie. Maar in plaas daarvan om te konsentreer op hoe ’n persoon fisies lyk, beklemtoon die Bybel eerder “die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees”.—1 Petrus 3:3, 4.

Fisiese versiering is nie verkeerd nie

  •   Getroue vroue in die Bybel het hulleself versier. Rebekka, wat met Abraham se seun Isak getrou het, het ’n goue neusring, goue armbande en ander duur juwele gedra. Dit was ’n geskenk van haar toekomstige skoonpa (Genesis 24:22, 30, 53). Ester het ook skoonheidsbehandelings en “masserings” aanvaar om haar voor te berei om moontlik die koningin van die Persiese Ryk te word (Ester 2:7, 9, 12). Hierdie behandelings het blykbaar die gebruik van verskillende soorte “skoonheidsmiddele” of “skoonheidsbehandeling” ingesluit.—Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953); Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

  •   Bybelse illustrasies vergelyk juwele met iets positiefs. ’n Persoon wat goeie raad gee, word byvoorbeeld vergelyk met “’n oorring van goud . . . vir die horende oor” (Spreuke 25:12). God het ook die manier waarop hy die nasie van Israel behandel het, vergelyk met ’n man wat sy bruid versier met armbande, oorringe en ’n ketting om haar nek. Hierdie versiering het die nasie “baie, baie mooi” gemaak.—Esegiël 16:11-13.

Wat mense sê oor grimering en juwele

 Wat mense sê: In 1 Petrus 3:3 verduidelik die Bybel dat “haarvlegtery en . . . die omhang van goue sierade” verkeerd is.

 Wat die Bybel sê: In die konteks van hierdie vers beklemtoon die Bybel die waarde van innerlike skoonheid in teenstelling met ’n pragtige voorkoms of versiering (1 Petrus 3:3-6). Hierdie teenstelling word ook op ander plekke in die Bybel gemaak.—1 Samuel 16:7; Spreuke 11:22; 31:30; 1 Timoteus 2:9, 10.

 Wat mense sê: Die feit dat slegte koningin Isebel “haar oë . . . geverf” het of oogskaduwee gebruik het, bewys dat dit verkeerd is om grimering te gebruik.—2 Konings 9:30.

 Wat die Bybel sê: Isebel was veroordeel omdat sy moord gepleeg het en towery beoefen het, nie omdat sy grimering gedra het nie.—2 Konings 9:7, 22, 36, 37.