Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy aan die wonderwerke glo wat in die Bybel opgeteken is?

Kan jy aan die wonderwerke glo wat in die Bybel opgeteken is?

Kan jy aan die wonderwerke glo wat in die Bybel opgeteken is?

AS IEMAND vir jou ’n merkwaardige verhaal vertel, sal die geloofwaardigheid van daardie persoon tog sekerlik bepaal of jy dit sal glo of nie, nie waar nie? Sy geloofwaardigheid sal nie net afhang van hoe hy die verhaal vertel nie, maar ook of hy daarvoor bekend is dat hy die waarheid praat. As hy immers oor die jare nog altyd die waarheid gepraat het en nooit opsetlik vir jou gejok het nie, sal jy goeie rede hê om te glo wat hy jou nou vertel.

Dit is ook waar van die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is. Nie een van ons het gelewe toe daardie gebeure plaasgevind het nie. Maar ons kan vasstel of die Bybel se verhaal geloofwaardig is—of dit die waarheid is. Hoe? Hier is ’n paar faktore wat tot die geloofwaardigheid van Bybelverslae oor wonderwerke bydra.

Baie wonderwerke is in openbare plekke verrig. Soms het duisende, selfs miljoene, dit gesien (Eksodus 14:21-31; 19:16-19). Dit is nie in die geheim verrig waar mense dit nie kon sien nie.

Die wonderwerke is gekenmerk deur eenvoud. Daar was nie spesiale rekwisiete, groot vertoon of ligeffekte nie. In die meeste gevalle het die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is na aanleiding van toevallige ontmoetings en versoeke van mense plaasgevind (Markus 5:25-29; Lukas 7:11-16). In sulke gevalle kon die gebeure nie vooraf beplan gewees het deur die een wat die wonderwerk verrig het nie.

Die beweegrede van diegene wat die wonderwerke verrig het, was nie om roem, glorie en rykdom te verkry nie. Dit was eerder om God te verheerlik (Johannes 11:1-4, 15, 40). Enige poging om sulke wonderdadige vermoëns te gebruik om ryk te word, is veroordeel.—2 Konings 5:15, 16, 20, 25-27; Handelinge 8:18-23.

Die verskeidenheid wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is, toon dat dit nie bloot die werk van mense kon gewees het nie. Byvoorbeeld, die see en wind is tot bedaring gebring, water is in wyn verander, reënval is beheer, siekes is genees en die sig van blindes is herstel. Al hierdie wonderwerke en talle ander toon dat ’n bomenslike mag wat beheer oor alle vorme van materie kan uitoefen, vir hierdie wonderwerke verantwoordelik was.—1 Konings 17:1-7; 18:41-45; Matteus 8:24-27; Lukas 17:11-19; Johannes 2:1-11; 9:1-7.

Teenstanders wat die wonderwerke gesien het, het nie die feit dat dit plaasgevind het, bevraagteken nie. Toe Jesus sy vriend Lasarus opgewek het, het Jesus se godsdiensvyande nie die feit dat Lasarus dood was, bevraagteken nie. Hoe kon hulle? Lasarus was vier dae lank in die graf (Johannes 11:45-48; 12:9-11). Selfs eeue ná Jesus se dood het die skrywers van die Joodse Talmoed nog steeds erken dat Jesus wonderdadige vermoëns gehad het. Hulle het slegs die bron van daardie vermoëns bevraagteken. So ook is Jesus se dissipels, toe hulle voor ’n Joodse hof gebring is, nie gevra “Het julle ’n wonderwerk verrig?” nie. Hulle is eerder gevra: “Deur watter krag of in wie se naam het julle dit gedoen?”—Handelinge 4:1-13.

Kan jy dus glo wat die Bybel vir ons oor wonderwerke sê? Uit wat ons so pas bespreek het, is dit duidelik dat Bybelverslae oor wonderwerke die kenmerke van geloofwaardigheid het. Daar is ook ander redes waarom ons hierdie Bybelverslae kan vertrou. Byvoorbeeld, wanneer die Bybel van ’n gebeurtenis vertel, voorsien dit dikwels die tyd, plek en name van die mense wat betrokke was. Selfs Bybelkritici is verbaas oor die akkuraatheid van die geskiedkundige besonderhede in die Bybel. Honderde Bybelprofesieë is al tot in die fynste besonderheid vervul. Daarbenewens bevat die Bybel baie raad oor hoe om gelukkige menseverhoudings te hê—raad wat mense van alle ouderdomme en agtergronde al gehelp het. Wat menseverhoudings betref, is die raad wat in die Bybel gevind word sonder gelyke.

As jy die Bybel nog nie ten volle vertrou nie, neem gerus die tyd om dit deegliker te ondersoek. Hoe meer jy daarvan leer, hoe meer sal jy dit vertrou (Johannes 17:17). Jy sal besef dat jy kan vertrou wat dit sê oor die wonderwerke wat in die verlede plaasgevind het. Wanneer jy eers daardie verslae glo, sal jy ’n goeie grondslag hê om vertroue te stel in wat die Bybel sê in die nabye toekoms sal gebeur.

[Prent op bladsy 7]

Jesus se teenstanders het nie die feit dat Lasarus dood was, bevraagteken nie