Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom belangstel in wonderwerke?

Waarom belangstel in wonderwerke?

Waarom belangstel in wonderwerke?

“Wonderwerke is per definisie in stryd met die beginsels van die wetenskap.”—RICHARD DAWKINS, VOORMALIGE PROFESSOR IN DIE OPENBARE BEGRIP VAN DIE WETENSKAP.

“Om in wonderwerke te glo, is heeltemal redelik. Dit is allesbehalwe ’n verleentheid vir godsdiens, maar eerder aanduidings van God se liefde vir en voortgesette betrokkenheid by die skepping.”—ROBERT A. LARMER, PROFESSOR IN FILOSOFIE.

“GLO jy aan wonderwerke?” Soos die aanhalings hierbo toon, bestaan daar uiteenlopende menings oor die saak. Maar hoe sal jy die vraag beantwoord?

Jy is dalk huiwerig om te sê: “Ja, ek glo daaraan.” Miskien voel jy dat jy daardeur te kenne sal gee dat jy effens bygelowig of oningelig is. Baie ander mense voel ook so.

Aan die ander kant is jy moontlik oortuig dat wonderwerke wel plaasvind. Jy glo dalk aan die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is, soos toe Moses die water van die Rooisee geskei het. Jy glo dalk ook dat wonderwerke in ons dag plaasvind. Trouens, ’n verslag wat onlangs uitgereik is, het aan die lig gebring dat “’n groot deel van die bevolking van die Westerse wêreld—byvoorbeeld, om en by driekwart van diegene in die Verenigde State en 38 persent in Brittanje—nog steeds aan wonderwerke glo” (The Cambridge Companion to Miracles, geredigeer deur Graham H. Twelftree). Boonop is dit nie net Christene wat aan wonderwerke glo nie. Volgens die Britannica Encyclopedia of World Religions is geloof in wonderdadige gebeure “’n kenmerk van feitlik alle godsdienste”.

Of jy behoort dalk tot ’n derde groep, wat sal sê: “Ek weet nie en ek gee ook nie om nie! Wonderwerke gebeur nie in my lewe nie!” Waarom moet jy dan in wonderwerke belangstel?

Stel jou hierdie scenario voor: Jy het ’n ongeneeslike siekte. As jy ’n verslag in ’n gerespekteerde mediese tydskrif lees oor ’n nuwe medisyne wat moontlik jou siekte kan genees, sal dit nie die moeite werd wees om ten minste ’n bietjie tyd en energie daaraan te wy om die feite te ondersoek nie? Die Bybel belowe eweneens dat merkwaardige wonderwerke binnekort sal plaasvind. Dit sal die lewe van elke lewende wese op hierdie planeet raak. Sal dit nie die moeite werd wees om van jou tyd en energie te gebruik om uit te vind of daardie beloftes betroubaar is nie?

Maar voordat ons kyk na wat hierdie beloofde wonderwerke behels, kom ons bespreek eers drie algemene besware wat teen wonderwerke geopper word.

[Venster op bladsy 3]

WAT IS ’N WONDERWERK?

Dit is ’n gebeurtenis wat alle bekende menslike en natuurkragte te bowe gaan en gewoonlik aan die een of ander bonatuurlike mag toegeskryf word.