Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

Jehovah haat ongeregtigheid

Jehovah haat ongeregtigheid

‘DIE mens het oor die mens geheers tot sy nadeel’ (Prediker 8:9). Hierdie woorde, wat sowat 3 000 jaar gelede opgeteken is, gee ’n akkurate beskrywing van die wêreld waarin ons lewe. Mense is geneig om mag te misbruik, ongeag wie hulle is of waar hulle woon. Alte dikwels buit hulle die kwesbares en die minderbevoorregtes uit. Hoe voel Jehovah oor sulke ongeregtighede? Ons vind die antwoord in Esegiël 22:6, 7, 31.—Lees.

In sy Wet aan Israel het Jehovah uitdruklik gesê dat diegene in gesagsposisies nooit hulle mag moet misbruik nie. Hy sou die nasie alleenlik seën as die leiers goedhartig en bedagsaam teenoor die geringes en die armes was (Deuteronomium 27:19; 28:15, 45). Maar in Esegiël se dag het owerstes in Jerusalem en Juda hulle aan ernstige magsmisbruik skuldig gemaak. Wat het gebeur?

Die owerstes het hulle ‘arm gebruik om bloed te vergiet’ (vers 6). Die woord “arm” verteenwoordig mag of gesag. ’n Ander vertaling sê dus: “Die vorste van Israel . . . het hulle mag gebruik om bloed te vergiet.” Hoe kan daar geregtigheid wees wanneer leiers, wat veronderstel is om die wet te onderhou en gehoorsaamheid daaraan te bevorder, hulle mag misbruik en onskuldige mense doodmaak?

Hierna kla Esegiël klaarblyklik nie net die leiers aan nie, maar ook diegene wat hulle voorbeeld gevolg het en ongehoorsaam aan Jehovah se Wet was. “Vader en moeder het hulle . . . met veragting behandel”, sê Esegiël (vers 7). Deur die regmatige posisie van ouers te minag, het die volk die grondslag van die nasie—die gesin—ondermyn.—Eksodus 20:12.

Die korrupte volk het die kwesbares onder hulle uitgebuit. Elke onwettige daad het minagting getoon vir die liefdevolle gees agter God se Wet aan Israel. God se Wet het die Israeliete byvoorbeeld beveel om spesiale bedagsaamheid te betoon teenoor die nie-Israeliete wat onder hulle gewoon het (Eksodus 22:21; 23:9; Levitikus 19:33, 34). Maar die volk het “met kullery opgetree” teenoor die inwonende vreemdeling.—Vers 7.

Die volk het ook die weerloses—die “vaderlose seun en weduwee”—mishandel (vers 7). Jehovah is baie besorg oor die behoeftes van diegene wat ’n ouer of ’n huweliksmaat aan die dood afstaan. God het belowe dat hy self oordeel sal voltrek aan diegene wat ’n weerlose kind of weduwee verdruk.—Eksodus 22:22-24.

Op hierdie en ander maniere het die Israeliete in Esegiël se dag God se Wet verbreek en die liefdevolle gees wat daarin beliggaam is, geskend. Wat sou Jehovah doen? “Ek [sal] my veroordeling oor hulle uitstort”, het hy belowe (vers 31). In ooreenstemming met sy woord het hy die Babiloniërs in 607 VHJ toegelaat om Jerusalem te vernietig en sy inwoners gevange te neem.

Esegiël se woorde leer ons twee lesse oor Jehovah en ongeregtigheid: Eerstens, hy haat dit; tweedens, hy het medelye met die onskuldige slagoffers daarvan. God het nie verander nie (Maleagi 3:6). Hy belowe dat hy ongeregtigheid en diegene wat dit bevorder, binnekort sal verwyder (Spreuke 2:21, 22). Leer gerus meer oor die God wat ‘geregtigheid liefhet’ en hoe jy nader aan hom kan kom.—Psalm 37:28.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Augustus:

Esegiël 21-38

[Lokteks op bladsy 27]

Jehovah het uitdruklik gesê dat diegene in gesagsposisies nooit hulle mag moet misbruik nie