Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Straf God ons?

Straf God ons?

“Hoewel ek jammer voel vir die rampslagoffers, dink ek dat [dit] tembatsoe (goddelike straf) is”, het ’n vername Japannese politikus gesê nadat daardie land in Maart 2011 deur ’n aardbewing van 9,0 op die Richterskaal en ’n tsoenami getref is.

Toe meer as 220 000 mense in Januarie 2010 in die aardbewing in Haïti omgekom het, het ’n bekende TV-evangelis beweer dat dit gebeur het omdat hulle “’n ooreenkoms met die duiwel aangegaan het” en hulle hulle “tot god moes keer”.

“God wil ons afgestompte en onverskillige gewete wakker skud”, het ’n Katolieke priester gesê toe 79 mense in ’n stormloop in Manila, in die Filippyne, gesterf het. ’n Plaaslike koerant het berig dat “een-en-twintig persent van volwassenes glo dat God sy toorn uitgiet deur middel van grondstortings, tifone en ander rampe” wat die land dikwels tref.

DIE opvatting dat God rampe veroorsaak om slegte mense te straf, is niks nuuts nie. In 1755, nadat sowat 60- 000 mense gesterf het in ’n aardbewing, ’n vuur en ’n tsoenami in Lissabon, Portugal, het die beroemde filosoof Voltaire gevra: “Was daar meer verdorwenheid in gevalle Lissabon te kry, as in Parys, waar wellustige genietinge gedy?” Ja, miljoene het al gewonder of God natuurrampe gebruik om mense te straf. Trouens, in baie lande word sulke rampe dade van God genoem.

Met die oog hierop moet ons vra: Gebruik God werklik natuurrampe om mense te straf? Is die menigte rampspoedige gebeure van onlangse tye ’n straf van God?

In hulle haas om God te blameer, verwys party na Bybelverslae waarin God vernietiging deur natuurkragte teweeggebring het (Genesis 7:17-22; 18:20; 19:24, 25; Numeri 16:31-35). Maar ’n ondersoek van hierdie Bybelverslae toon dat daar in elke geval drie belangrike faktore is wat daardie gebeure anders maak. Eerstens, mense is vooraf gewaarsku. Tweedens, in teenstelling met vandag se natuurrampe, wat slegte sowel as goeie mense se lewe eis, was vernietiging deur God selektief. Slegs die verstokte goddeloses of diegene wat geweier het om na waarskuwings te luister, is vernietig. Derdens, God het onskuldige mense ’n uitkomkans gegee.—Genesis 7:1, 23; 19:15-17; Numeri 16:23-27.

Die tallose rampe wat vandag verwoesting in die lewens van miljoene mense saai, lewer geen bewys dat God daarvoor verantwoordelik is nie. Hoe verklaar ’n mens dan die feit dat rampe blykbaar toegeneem het? Hoe kan ons die impak daarvan verminder? En sal rampe ooit iets van die verlede wees? Jy sal die antwoorde in die volgende artikels vind.