Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Besoek aan ’n uitgestrekte wit wildernis

’n Besoek aan ’n uitgestrekte wit wildernis

’n Brief uit Noorweë

’n Besoek aan ’n uitgestrekte wit wildernis

DIT is vroeg een wintersoggend. Ons loer deur die gordyne om te kyk hoe die weer lyk. Hoe opwindend is dit tog om te sien dat die lug helderblou is! Ons gaan drie dae lank preek op Finnmarksvidda—’n groot bergplato noord van die Noordpoolsirkel.

Die winter in Noorweë is koud, en daarom is ons ’n bietjie skrikkerig om na die noordelike wildernis te gaan. Gelukkig reis ons saam met drie van Jehovah se Getuies wat in die gebied woon. Hulle weet wat om te verwag en het ons goeie raad gegee.

Daar is min paaie hier. Die beste manier om mense in afgesonderde plekke te bereik, is met ’n sneeumobiel. Ons pak klere, kos en ekstra brandstof op ons sneeumobiele en slee. ’n Wit bergplato lê so ver as wat die oog kan sien voor ons uitgestrek. Die sneeu skitter soos diamante in die son. Die toneel is asemrowend!

Finnmarksvidda is die tuiste van kariboes, elke, rooikatte, hase, jakkalse, veelvrate en ’n klein beerbevolking. Maar ons is selfs meer opgewonde oor die vooruitsig om die mense te bereik wat in hierdie afgesonderde gebied woon. Ons sien veral daarna uit om Sami’s te ontmoet, wat ’n bestaan maak deur kariboes aan te hou of by berghutte te werk.

Buite die eerste berghut ontmoet ons ’n klompie jongmense wat saam met hulle klas aan langafstandski deelneem. Hulle stop om met ons te gesels en vra wat ons doen. Ons is natuurlik bly om vir hulle te verduidelik. “Alles van die beste met julle Bybelwerk!” sê een van hulle wanneer ons in die pad val. Ons ry oor groot gevriesde mere en oor die wit landskap. Ons hoop om ’n trop kariboes te sien.

Wanneer ons by ’n huisie kom, groet ’n man ons vriendelik. Hy is een van die min permanente bewoners hier. Wanneer hy sien dat ons slee gebreek is, bied hy goedgunstig aan om dit reg te maak. Hy neem sy tyd; die mense hier is rustig. Sy manier van dinge doen, laat ons ook ontspan. Nadat hy ons slee reggemaak het, bedank ons hom en wys ons vir hom ’n paar gedagtes uit die Bybel in verband met waarom God lyding toelaat. Hy luister aandagtig. Voor ons vertrek, neem hy die boek Wat leer die Bybel werklik? en Die Wagtoring en Ontwaak! Hy glimlag en sê: “Dankie dat julle my besoek het.’’

Ná nog ’n paar besoeke begin dit skemer word en kies ons koers na die huisie waar ons gaan oornag. Skielik sien ons ’n jakkals. Die rooi skynsel van sy pels vorm ’n pragtige kontras met die wit sneeu. Die jakkals gaan staan vir ’n oomblik, kyk nuuskierig na ons en loop dan verder. Dit begin sneeu, wat dit vir ons moeilik maak om te sien waar ons ry. Hoe verlig is ons tog wanneer ons uiteindelik die huisie sien! Ons maak ’n vuur in die stoof, en die huisie raak stadigaan warmer. Al is ons moeg ná die lang, stamperige rit op die sneeumobiel, is ons gelukkig.

Die oggend breek veels te vinnig aan. Ons pak weer ons sneeumobiel en ry af na die laagland en dan al langs ’n rivierbedding totdat ons by nog ’n berghut kom. Hier ontmoet ons ’n jong man, en ons praat met hom oor ’n hele paar opbouende gedagtes uit die Bybel. Hy wys ons vriendelik die maklikste manier om weer by die paadjie uit te kom.

Die laaste dag van ons besoek breek aan. Wanneer ons by die Stabbursdalen- Nasionale Park inry, sprei ’n pragtige landskap hom voor ons uit, met sneeubedekte berge wat in die verte in die son glinster. Voor ons verskyn ’n groot trop kariboes! Hulle wei rustig en gebruik hulle groot hoewe om ligeen en mos op te grawe wat deur die sneeu bedek is. ’n Entjie verder sien ons ’n Sami. Hy sit rustig op sy sneeumobiel terwyl hy ’n ogie hou oor sy kariboes. Sy hond pas die trop mooi op en hou hulle bymekaar. Die hond staan vir ’n oomblik stil om in ons rigting te snuffel. Maar dan gaan hy onmiddellik weer voort met sy werk. Ons getuig vir die herder. Hy is vriendelik en luister na ons.

Op pad huis toe dink ons aan al die mense wat ons gedurende ons reis van 300 kilometer ontmoet het. Dit was vir ons ’n voorreg om ’n klein aandeel daaraan te hê om vir mense in hierdie uitgestrekte wit wildernis te getuig.

[Foto-erkenning op bladsy 15]

© Norway Post