Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Ons lesers vra . . .

Moet jy aan die Drie-eenheid glo om ’n Christen te wees?

Moet jy aan die Drie-eenheid glo om ’n Christen te wees?

’n Hoërskoolhandboek, World Religions in Denmark, wat in 2007 uitgegee is, het Jehovah se Getuies beskryf as ’n Christelike minderheid wat die Bybel noukeurig volg. Jehovah se Getuies is in werklikheid die derde grootste Christelike godsdiens in Denemarke.

Maar ’n biskop van die Volkskerk in Denemarke het die skrywer se besluit om die Getuies in die handboek in te sluit, skerp gekritiseer. Waarom? “Ek moet nog ’n teoloog ontmoet wat [Jehovah se Getuies] as Christene beskou”, het die biskop gesê. “Hulle glo nie aan die Drie-eenheid, wat die kern van die Christelike godsdiens is, nie.”

Die skrywer van die boek, die godsdienssosioloog Annika Hvithamar, het daarop gewys dat mense, wanneer hulle gevra word waarom hulle hulleself as Christene beskou, amper nooit sê dat dit is omdat hulle glo dat God ’n Drie-eenheid is nie. En ’n afdeling in die handboek met die titel “Is jy ’n Christen?” sê: “Die Drie-eenheidsleer is een van die moeiliker probleme van Christelike teologie.” Dit voeg by: “Dit was nog altyd moeilik om aan ongeskoolde Christene te verduidelik waarom die Christelike God eintlik een god is en nie drie gode nie.”

“Die Drie-eenheidsleer is een van die moeiliker probleme van Christelike teologie”

Wat die Bybel omtrent God en Jesus leer, is duidelik en eenvoudig. Dit is nie moeilik om te verstaan nie. Nie die woord “Drie-eenheid” of die konsep word in God se Woord gevind nie. Die Bybel sê duidelik dat Jesus Christus die eersgebore Seun van God is (Kolossense 1:15). Dit toon ook dat Jesus die “middelaar tussen God en die mense” is (1 Timoteus 2:5). Aangaande die Vader sê die Bybel: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.”—Psalm 83:18.

Jehovah se Getuies glo dat geloof in Jesus noodsaaklik is (Johannes 3:16). Daarom neem hulle Jesus se gebod ernstig op: “Daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Matteus 4:10). Iemand wat daarna streef om Jesus se gebooie te gehoorsaam, kan tog sekerlik ’n Christen genoem word.