Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

Die opstanding – ’n Vaste hoop!

Die opstanding – ’n Vaste hoop!

“Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding . . . sal wees.” – HAND. 24:15.

LIED 151 Hy sal roep

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter wonderlike hoop het ware aanbidders?

HOOP is baie belangrik. Party mense hoop om ’n suksesvolle huwelik te hê, om gesonde kinders groot te maak of om van ’n ernstige siekte gesond te raak. Ons as Christene hoop dalk vir dieselfde dinge. Maar ons hoop gaan verder as dit, dit sluit in ons ewige toekoms, asook die toekoms van ons geliefdes wat gesterf het.

2 Die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges sal wees” (Hand. 24:15). Paulus was nie die eerste een wat oor die hoop van ’n opstanding gepraat het nie. Job het ook baie jare vroeër daaroor gepraat. Hy het die vertroue gehad dat God hom sou onthou en hom uit die dood sou opwek. – Job 14:7-10, 12-15.

3. Hoe kan 1 Korintiërs hoofstuk 15 ons help?

3 “Die opstanding van die dooies” is deel van die “fondament”, of “basiese leringe”, wat alle Christene glo (Heb. 6:1, 2). Paulus se bespreking van die opstanding is in 1 Korintiërs hoofstuk 15. Wat hy geskryf het, moes eerste-eeuse Christene sekerlik opgebou het. En daardie hoofstuk kan ons ook opbou en ons hoop versterk dat die opstanding sal gebeur.

4. Hoekom kan ons seker wees dat ons geliefdes wat gesterf het, ’n opstanding sal kry?

4 Die opstanding van Jesus Christus verseker ons dat ons geliefdes wat gesterf het, ’n opstanding sal kry. Dit is deel van “die goeie nuus” wat Paulus aan die Korintiërs verkondig het (1 Kor. 15:1, 2). Hy het gesê dat as ’n Christen nie in die opstanding glo nie, sy geloof niks beteken nie (1 Kor. 15:17). Geloof in die opstanding van Jesus is die rede hoekom ons kan glo dat ander opgewek sal word.

5-6. Wat beteken die woorde in 1 Korintiërs 15:3, 4 vir ons?

5 Vroeër toe Paulus oor die opstanding gepraat het, het hy drie feite genoem: (1) “Christus [het] vir ons sondes gesterf.” (2) Hy is “begrawe”. (3) Hy is “op die derde dag opgewek . . . volgens die Skrif”. – Lees 1 Korintiërs 15:3, 4

6 Wat beteken die feit dat Jesus gesterf het, begrawe is en opgewek is vir ons? Die profeet Jesaja het gesê dat die Messias “uit die land van die lewendes afgesny” sou word en dat hy “’n graf tussen die goddeloses” sou kry. Maar iets anders sou gebeur. Jesaja het ook gesê dat die Messias “die sonde van baie mense” sou dra. Jesus het dit gedoen deur sy lewe as ’n losprys te gee (Jes. 53:8, 9, 12; Matt. 20:28; Rom. 5:8). So die feit dat Jesus gesterf het, begrawe is en opgewek is, gee ons ’n vaste grondslag vir ons hoop. Die hoop dat ons bevry sal word van sonde en die dood en weer saam met ons geliefdes wat gesterf het, sal wees.

BEWYSE VAN BAIE GETUIES

7-8. Wat help Christene om daarvan seker te wees dat Jesus opgewek is?

7 Om in die opstanding te glo, moet ons eers glo dat Jesus opgewek is. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah Jesus uit die dood opgewek het?

8 Daar is baie mense wat Jesus gesien het nadat hy opgewek is en wat ander daarvan vertel het (1 Kor. 15:5-7). Die eerste getuie op Paulus se lys is die apostel Petrus (Sefas). ’n Groep dissipels het bevestig dat Petrus Jesus gesien het nadat hy opgewek is (Luk. 24:33, 34). Daarna het Paulus gesê dat “die Twaalf”, die apostels, Jesus gesien het nadat hy opgewek is. Toe het Christus “aan meer as 500 broers op dieselfde tyd verskyn”, dalk by die vreugdevolle geleentheid in Galilea wat in Matteus 28:16-20 genoem word. Jesus het ook “aan Jakobus verskyn,” heel moontlik Jesus se halfbroer, wat vroeër nie geglo het dat Jesus die Messias is nie (Joh. 7:5). Toe Jakobus Jesus gesien het nadat hy opgewek is, was hy oortuig. Dit is interessant dat baie mense wat Jesus gesien het nadat hy opgewek is, nog gelewe het toe Paulus sy brief in omtrent 55 HJ geskryf het. So enige een wat getwyfel het, kon met hierdie betroubare ooggetuies praat.

9. Wat sê Handelinge 9:3-5 wat wys dat Paulus nog bewyse kon gee dat Jesus opgewek is?

9 Later het Jesus self aan Paulus verskyn (1 Kor. 15:8). Paulus (Saulus) was op pad na Damaskus toe hy die stem van Jesus gehoor het en ’n visioen van hom in die hemel gesien het (Lees Handelinge 9:3-5.) Paulus se ondervinding is nog ’n bewys dat Jesus regtig opgewek is. – Hand. 26:12-15

10. Wat het Paulus gedoen omdat hy geglo het dat Jesus uit die dood opgewek is?

10 Party mense sou veral belanggestel het in wat Paulus gesê het, want voordat Jesus aan hom verskyn het, het Paulus Christene vervolg. Nadat Paulus daarvan oortuig geword het dat Jesus opgewek is, het hy hard gewerk om ander van hierdie waarheid te oortuig. Hy is geslaan, in die tronk gegooi en het skipbreuk gely terwyl hy die waarheid dat Jesus gesterf het, maar weer lewe, verkondig het (1 Kor. 15:9-11; 2 Kor. 11:23-27). Paulus was so seker daarvan dat Jesus uit die dood opgewek is, dat hy bereid was om te sterf terwyl hy hierdie waarheid verdedig het. Die getuienis van die vroeë Christene wat geweet het dat Jesus uit die dood opgewek is, help ons om dit ook te glo, nie waar nie? En versterk dit nie ons geloof in die opstanding nie?

PAULUS HET VERKEERDE IDEES REGGESTEL

11. Hoekom het party in Korinte dalk verkeerde idees oor die opstanding gehad?

11 Party in die Griekse stad Korinte, het verkeerde idees oor die opstanding gehad en het selfs so ver gegaan as om te sê dat “daar geen opstanding van die dooies is nie”. Hoekom? (1 Kor. 15:12). Filosowe in ’n ander Griekse stad, Atene, het gelag oor die idee dat Jesus opgewek is. Sulke denke het dalk party in Korinte beïnvloed (Hand. 17:18, 31, 32). Ander het dalk geglo dat die opstanding figuurlik is. Hulle het dalk gedink dat ’n persoon eers “dood” was in sonde, maar “lewend” geword het as ’n Christen. Wat ook al hulle rede was, omdat hulle nie in die opstanding geglo het nie, het hulle geloof niks beteken nie. As God nie vir Jesus opgewek het nie, is geen losprys betaal nie en is hulle sondes nie vergewe nie. So dié wat nie in die opstanding geglo het nie, het geen ware hoop gehad nie. – 1 Kor. 15:13-19; Heb. 9:12, 14.

12. Hoe het Jesus se opstanding verskil van opstandings wat voor syne gebeur het, volgens 1 Petrus 3:18, 22?

12 Paulus het persoonlik geweet dat “Christus . . . uit die dood opgewek [is]”. Daardie opstanding was beter as die opstandings wat vroeër gebeur het omdat die mense wat opgewek is, weer gesterf het. Paulus het gesê dat Jesus “die eerste een [was] wat opgewek is van dié wat gesterf het”. In watter sin was Jesus eerste? Hy was die eerste een wat as ’n geespersoon opgewek is en die eerste mens wat hemel toe gegaan het. – 1 Kor. 15:20; Hand. 26:23; lees 1 Petrus 3:18, 22.

DIÉ WAT “LEWEND GEMAAK [SAL] WORD”

13. Wat het Paulus gesê is die verskil tussen Adam en Jesus?

13 Hoe kan die dood van een mens lewe moontlik maak vir miljoene mense? Paulus gee ’n logiese antwoord op hierdie vraag. Hy verduidelik die verskil tussen wat met mense gebeur het as gevolg van wat Adam gedoen het, en wat vir ons moontlik is as gevolg van Christus se offerande. Paulus het oor Adam geskryf: “Die dood [het] deur ’n mens gekom.” Toe Adam gesondig het, het hy die dood oor homself en sy nakomelinge gebring. Ons kry nog steeds swaar as gevolg van sy ongehoorsaamheid. Maar omdat God sy Seun opgewek het, het ons ’n wonderlike toekoms! Paulus het geredeneer: “Die opstanding van die dooies [kom] ook deur ’n mens, [Jesus]. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.” – 1 Kor. 15:21, 22.

14. Sal Adam opgewek word? Verduidelik.

14 Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat almal in Adam sterf”? Paulus het aan Adam se nakomelinge gedink, wat sonde en onvolmaaktheid van Adam geërf het, en as gevolg hiervan sterf hulle (Rom. 5:12). Adam is nie onder dié wat “lewend gemaak [sal] word nie”. Christus se losprysoffer dek nie vir Adam nie, want Adam was ’n volmaakte man wat gekies het om ongehoorsaam aan God te wees. Wat met Adam gebeur het, is dieselfde as wat met dié sal gebeur wat deur “die Seun van die mens” as “bokke” geoordeel sal word. Hulle sal “vir ewig afgesny word”. – Matt. 25:31-33, 46; Heb. 5:9.

Jesus is die eerste van baie wat uit die dood tot lewe in die hemel opgewek is (Sien paragraaf 15-16) *

15. Wie is deel van die “almal” wat “lewend gemaak [sal] word”?

15 Let op dat Paulus gesê het dat “almal . . . in die Christus lewend gemaak [sal] word” (1 Kor. 15:22). Paulus se brief was aan gesalfde Christene in Korinte geskryf, wat die hemelse opstanding sou kry. Daardie Christene was “in eenheid met Christus Jesus geheilig . . . en [is] geroep om heiliges te wees”. En Paulus het gepraat van “dié wat in eenheid met Christus gesterf het” (1 Kor. 1:2; 15:18; 2 Kor. 5:17). In ’n ander geïnspireerde brief het Paulus geskryf dat dié wat “met [Jesus] verenig word wanneer [hulle] sterf soos hy gesterf het,” sal “met hom verenig word wanneer [hulle] opgewek word soos hy opgewek is” (Rom. 6:3-5). Jesus is as ’n geespersoon opgewek en het hemel toe gegaan. So dit is wat met almal sal gebeur wat “in eenheid met Christus is,” met ander woorde alle gesalfde Christene.

16. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat Jesus “die eerste een” is?

16 Paulus het geskryf dat Christus “die eerste een [is] wat opgewek is van dié wat gesterf het”. Onthou dat ander, soos Lasarus, opgewek is om weer op die aarde te lewe, maar Jesus was die eerste een wat as ’n geespersoon opgewek is en ewige lewe ontvang het. En deur Jesus “die eerste een” te noem, het Paulus bedoel dat ander wat ná Jesus gesterf het, opgewek sal word tot lewe in die hemel. Die apostels en ander wat “in eenheid met Christus” is, sou uiteindelik opgewek word tot lewe in die hemel net soos Jesus was.

17. Wanneer sou dié wat “in eenheid met Christus” is, hulle hemelse beloning ontvang?

17 Die hemelse opstanding vir persone wat “in eenheid met Christus” is, het nog nie begin toe Paulus aan die Korintiërs geskryf het nie. Paulus het eerder van ’n tyd in die toekoms gepraat: “Elkeen in die regte volgorde: Christus, die een wat eerste opgewek is, en daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid” (1 Kor. 15:23; 1 Tess. 4:15, 16). Vandag lewe ons gedurende daardie voorspelde “teenwoordigheid” van Christus. Ja, die apostels en ander gesalfde Christene wat gesterf het, moes vir daardie teenwoordigheid wag om hulle hemelse beloning te kry en om ‘met [Jesus] verenig te word wanneer hulle opgewek word soos hy opgewek is’.

JY HET ’N VASTE HOOP!

18. (a) Wat wys dat daar ’n ander opstanding ná die hemelse een sal wees? (b) Wat sal volgens 1 Korintiërs 15:24-26 in die hemel gebeur?

18 Maar wat van al die lojale Christene wat nie die hoop het om saam met Christus in die hemel te lewe nie? Hulle het ook ’n opstandingshoop. Die Bybel sê dat Paulus en ander wat hemel toe gaan, “die vroeër opstanding uit die dood . . . ontvang” (Fil. 3:11). Dit wys dat daar nog ’n opstanding daarna sal wees. Dit stem ooreen met wat Job oor sy toekoms gesê het (Job 14:15). “Dié wat aan Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid”, sal saam met Jesus in die hemel wees wanneer hy alle regerings en alle gesag en mag tot ’n einde bring. Selfs “die laaste vyand, die dood,” sal vernietig word. Almal wat tot lewe in die hemel opgewek is, sal nie weer sterf nie. Maar wat van ander? – Lees 1 Korintiërs 15:24-26.

19. Wat kan persone wat die hoop het om op die aarde te lewe, verwag?

19 Paulus se woorde kan hulle hoop gee: “Ek het die hoop . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges sal wees” (Hand. 24:15). Geen onregverdige persoon kan hemel toe gaan nie, so hierdie woorde wys dat daar in die toekoms ’n opstanding op die aarde sal wees.

As ons in die opstanding glo, kan ons uitsien na ’n gelukkige toekoms (Sien paragraaf 20) *

20. Hoe is jou hoop versterk?

20 Daar is geen twyfel dat “daar ’n opstanding . . . sal wees” nie! Persone wat op die aarde opgewek sal word, sal die hoop hê om vir ewig hier te lewe. Jy kan hierdie belofte glo. Hierdie hoop kan jou vertroos wanneer jy dink aan jou geliefdes wat gesterf het. Hulle kan uit die dood opgewek word gedurende die tyd wanneer Christus en ander “1 000 jaar lank . . . as konings regeer” (Op. 20:6). Jy kan ook die vertroue hê dat as jy sou sterf voordat Christus begin om ’n duisend jaar lank te regeer, jy ’n opstanding sal kry. Hierdie “hoop lei nie tot teleurstelling nie” (Rom. 5:5). Dit kan jou nou help om sterk te bly en om vreugde te hê in jou diens aan God. Maar daar is meer wat ons kan leer uit 1 Korintiërs hoofstuk 15, soos die volgende artikel sal wys.

LIED 147 Die belofte van ewige lewe

^ par. 5 Eerste Korintiërs hoofstuk 15 fokus op die opstanding. Hoekom is hierdie lering so belangrik vir ons, en hoekom kan ons glo dat Jesus opgewek is? Hierdie artikel sal hierdie en ander belangrike vrae oor die opstanding bespreek.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENTE: Jesus is die eerste een wat hemel toe gegaan het (Hand. 1:9). Party van sy dissipels wat later saam met hom daar sou wees, is Tomas, Jakobus, Lidia, Johannes, Maria en Paulus.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer het sy geliefde vrou verloor, met wie hy jare lank saam gedien het. Hy glo dat sy opgewek sal word en hy hou aan om Jehovah lojaal te dien.