Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lei jou kind op om Jehovah te dien

Lei jou kind op om Jehovah te dien

“Laat die man van die ware God . . . ons onderrig oor wat ons behoort te doen met die kind wat gebore sal word.”—RIGTERS 13:8.

LIEDERE: 88, 120

1. Wat het Manoag gedoen toe hy gehoor het dat hy ’n pa gaan word?

MANOAG en sy vrou was seker dat hulle nooit kinders sou hê nie. Maar eendag het Jehovah se engel vir Manoag se vrou gesê dat sy ’n seuntjie sal hê. Wat ’n wonderlike verrassing! Toe sy vir Manoag die nuus vertel, was hy baie opgewonde. Maar hy het ook ernstig nagedink oor wat Jehovah van hom as ’n pa verwag. Hoe kon hy en sy vrou hulle seuntjie oplei om Jehovah lief te hê en hom te dien, terwyl so baie mense in Israel slegte dinge doen? Manoag het Jehovah gesmeek om sy engel weer na hulle toe te stuur, en gesê: “Laat die man van die ware God wat u so pas gestuur het, asseblief weer na ons toe kom en ons onderrig oor wat ons behoort te doen met die kind wat gebore sal word.”—Rigters 13:1-8.

2. Wat moet jy jou kinders leer, en hoe kan jy dit doen? (Sien ook die venster “ Jou belangrikste Bybelstudies”.)

2 As jy ’n ouer is, sal jy waarskynlik verstaan hoe Manoag gevoel het. Jy het ook die verantwoordelikheid om jou kinders te help om Jehovah te leer ken en lief te kry (Spreuke 1:8). Gedurende julle Gesinsaanbidding kan jy hulle help om van Jehovah en die Bybel te bly leer. Daar word natuurlik meer van jou verwag as om net die Bybel elke week met jou kinders te studeer. (Lees Deuteronomium 6:6-9.) Wat kan jy nog doen om hulle op te lei om Jehovah lief te kry en te dien? In hierdie artikel sal ons Jesus se voorbeeld bespreek. Hoewel hy nie ’n pa was nie, kan jy leer uit die manier waarop hy sy dissipels geleer en opgelei het. Jesus het hulle liefgehad en hy was nederig. Hy het ook insig gehad. Daarom het hy geweet hoe hulle werklik voel en hoe om hulle te help. Kom ons kyk hoe ons Jesus kan navolg.

WEES LIEF VIR JOU KINDERS

3. Hoe het Jesus se dissipels geweet dat hy vir hulle lief was?

3 Jesus het dikwels vir sy dissipels gesê dat hy hulle liefhet. (Lees Johannes 15:9.) Hy het ook baie tyd saam met hulle gespandeer (Markus 6:31, 32; Johannes 2:2; 21:12, 13). Jesus was nie net hulle onderrigter nie; hy was hulle vriend. Daarom het hulle glad nie getwyfel dat hy vir hulle lief was nie. Wat kan jy by Jesus leer?

4. Hoe kan jy vir jou kinders wys dat jy hulle liefhet? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Sê vir jou kinders dat jy hulle liefhet, en wys vir hulle hoe belangrik hulle vir jou is (Spreuke 4:3; Titus 2:4). Samuel, wat in Australië woon, sê: “Toe ek nog baie klein was, het my pa elke aand vir my uit My boek met Bybelverhale gelees. Hy het altyd my vrae beantwoord en my ’n drukkie en ’n nagsoentjie gegee. Hoe verbaas was ek tog om later uit te vind dat my pa nie grootgeword het in ’n gesin waar drukkies en soentjies algemeen was nie! Maar hy het werklik probeer om sy liefde vir my te toon. Daarom het ek baie geheg aan hom geraak en gelukkig en veilig gevoel.” Help jou kinders om ook so te voel deur dikwels vir hulle te sê dat jy hulle liefhet. Omhels en soen hulle. Praat, eet en speel met hulle.

5, 6. (a) Wat het Jesus gedoen omdat hy vir sy dissipels lief was? (b) Hoe moet jy jou kinders dissiplineer?

5 Jesus het gesê: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek” (Openbaring 3:19). * (Sien voetnoot.) Jesus se dissipels het dikwels gestry oor wie onder hulle die grootste is. Hy het die probleem nie geïgnoreer nie, maar hy was geduldig met hulle en het hulle herhaaldelik raad gegee. Hy was altyd liefdevol en het gewag vir die regte tyd en plek om hulle tereg te wys.—Markus 9:33-37.

Kies die regte tyd en plek om jou kinders te dissiplineer, en doen dit op ’n liefdevolle manier

6 Omdat jy vir jou kinders lief is, weet jy dat jy hulle moet dissiplineer. Soms kan jy net vir hulle verduidelik waarom iets reg of verkeerd is. Maar sê nou hulle is nog steeds ongehoorsaam? (Spreuke 22:15). Leer by Jesus. Hou aan om hulle geduldig te dissiplineer deur hulle te lei, tereg te wys en op te lei. Kies die regte tyd en plek om hulle te dissiplineer, en doen dit op ’n liefdevolle manier. Elaine, ’n suster in Suid-Afrika, onthou hoe haar ouers haar gedissiplineer het. Hulle het altyd verduidelik wat hulle van haar verwag. As hulle vir haar gesê het dat sy gestraf sou word as sy ongehoorsaam is, het hulle gedoen wat hulle gesê het. Maar sy sê: “Hulle het my nooit gedissiplineer wanneer hulle kwaad was nie, en hulle het altyd verduidelik waarom hulle my dissiplineer.” Sy het dus altyd geweet dat haar ouers vir haar lief is.

WEES NEDERIG

7, 8. (a) Wat het Jesus se dissipels uit sy gebede geleer? (b) Hoe kan jou gebede jou kinders help om op God te vertrou?

7 Net voordat Jesus in hegtenis geneem en doodgemaak is, het hy sy Vader gesmeek: “Abba, Vader, alles is vir u moontlik; neem hierdie beker van my af weg. Nogtans nie wat ek wil nie, maar wat u wil” (Markus 14:36). * (Sien voetnoot.) Stel jou voor hoe Jesus se dissipels gevoel het toe hulle hom hoor bid het of later van sy gebed uitgevind het. Hulle het gehoor dat hy sy Vader om hulp gevra het, al was hy volmaak. Dit het hulle geleer dat hulle ook nederig moet wees en op Jehovah moet vertrou.

Wanneer jou kinders hoor hoe jy Jehovah vra om jou te help, leer hulle ook om op Jehovah te vertrou

8 Jou kinders kan baie leer uit jou gebede. Jy bid natuurlik nie bloot om jou kinders iets te leer nie. Maar wanneer hulle jou hoor bid, leer hulle om op Jehovah te vertrou. In jou gebede moet jy nie net vra dat Jehovah jou kinders moet help nie; jy moet hom ook vra om jou te help. Ana, wat in Brasilië woon, sê: “Wanneer my ouers probleme ondervind het, soos toe my oupa en ouma siek was, het hulle Jehovah gevra vir die krag om die situasie die hoof te bied en vir die wysheid om goeie besluite te neem. Selfs toe hulle hewige druk ondervind het, het hulle hulle probleme in Jehovah se hande gelaat. Dit het my geleer om op Jehovah te vertrou.” Wanneer jou kinders hoor hoe jy Jehovah vra vir moed om vir iemand te getuig of om jou werkgewer te vra om tyd af te kry om ’n byeenkoms by te woon, sien hulle dat jy op Jehovah vertrou en leer hulle om dieselfde te doen.

9. (a) Hoe het Jesus sy dissipels geleer om nederig en onselfsugtig te wees? (b) Wat sal jou kinders leer as jy nederig en onselfsugtig is?

9 Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle nederig en onselfsugtig moet wees, en hy het ook vir hulle die voorbeeld gestel. (Lees Lukas 22:27.) Sy apostels het gesien dat hy opofferings gemaak het om Jehovah te dien en ander te help, en hulle het geleer om dieselfde te doen. Deur jou voorbeeld kan jy jou kinders dieselfde les leer. Debbie, ’n ma van twee kinders, sê: “Ek voel nooit sleg omdat my man, wat ’n ouer man is, van sy tyd gebruik om die broers en susters te help nie. Ek weet dat ons altyd op my man kan staatmaak wanneer ons gesin hom nodig het” (1 Timoteus 3:4, 5). Watter uitwerking het Debbie en haar man, Pranas, se voorbeeld op hulle gesin gehad? Hy sê dat sy kinders altyd gewillig was om by byeenkomste te help. Hulle was gelukkig, het goeie vriende gemaak en wou by hulle broers en susters wees. Die hele gesin dien Jehovah nou in die voltydse bediening. As jy nederig en onselfsugtig is, leer jy jou kinders om ander gewillig te dien.

TOON INSIG

10. Hoe het Jesus insig getoon toe mense in Galilea hom kom soek het?

10 Jesus het volmaakte insig gehad. Hy het nie net gesien wat mense doen nie, maar hy het ook verstaan waarom hulle dit doen. Hy kon hulle harte lees. Byvoorbeeld, toe mense in Galilea Jesus eenkeer kom soek het, het hy geweet waarom hulle na hom soek (Johannes 6:22-24). Hy het geweet dat hulle eintlik gekom het omdat hulle kos wou hê en nie om deur hom onderrig te word nie (Johannes 2:25). Jesus het geweet hoe hulle werklik voel. En hy het hulle geduldig gehelp en vir hulle verduidelik watter veranderinge hulle moet maak.—Lees Johannes 6:25-27.

Help jou kinders om die bediening te geniet (Sien paragraaf 11)

11. (a) Hoe kan jy uitvind hoe jou kinders oor velddiens voel? (b) Hoe kan jy jou kinders help om velddiens te geniet?

11 Alhoewel jy nie harte kan lees nie, kan jy ook insig hê. Jy kan byvoorbeeld probeer verstaan hoe jou kinders oor velddiens voel. Jy kan jou afvra: ‘Sien hulle net uit na die blaaskansies wat julle gedurende velddiens neem om iets te eet of te drink?’ As jy agterkom dat jou kinders nie van velddiens hou nie, moet jy probeer om dit vir hulle interessanter te maak. Gee hulle klein takies om te doen sodat hulle nuttig kan voel.

12. (a) Waarteen het Jesus sy dissipels gewaarsku? (b) Waarom het Jesus se dissipels sy waarskuwing nodig gehad?

12 Op watter ander maniere het Jesus insig getoon? Hy het geweet dat een fout tot ’n ander kan lei, en selfs tot ernstige sondes. En hy het sy dissipels hierteen gewaarsku. Byvoorbeeld, die dissipels het geweet dat seksuele onsedelikheid verkeerd is. Maar Jesus het hulle gewaarsku teen dinge wat tot onsedelikheid kan lei. Hy het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. . . . As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matteus 5:27-29). Jesus se dissipels was destyds onder Romeinse heerskappy, en Romeinse toneelstukke was vol sekstonele en vuil taal. Jesus se liefdevolle waarskuwing het sy dissipels dus gehelp om enigiets te vermy wat dit vir hulle moeilik sou maak om te doen wat reg is.

13, 14. Hoe kan jy jou kinders teen onsedelike vermaak beskerm?

13 Insig kan ouers help om hulle kinders te beskerm teen dinge wat Jehovah haat. Ongelukkig word selfs klein kindertjies aan pornografie en ander onsedelike dinge blootgestel. Jy moet natuurlik vir jou kinders sê dat dit verkeerd is om na onsedelike dinge te kyk. Maar daar is nog iets wat jy kan doen om hulle te beskerm. Vra jou af: ‘Weet my kinders waarom pornografie so gevaarlik is? Wat kan hulle in die versoeking bring om daarna te kyk? Maak ek dit vir hulle maklik om met my oor enigiets te praat? Sal hulle selfs met my kom praat as hulle in die versoeking kom om na pornografie te kyk?’ Selfs as kinders baie jonk is, kan jy vir hulle sê: “As jy ooit iets op die Internet sien wat jou nuuskierig maak oor seks en jy daarna wil kyk, kom praat asseblief tog met my. Moenie bang of skaam wees om met my te kom praat nie. Ek wil jou help.”

14 Wanneer jy vir jouself vermaak kies, moet jy ook baie versigtig wees en seker maak dat jy ’n goeie voorbeeld vir jou kinders stel. Pranas, wat vroeër gemeld is, sê: “Jy kan praat totdat jy blou is in die gesig, maar jou kinders sal kyk na wat jy doen en jou voorbeeld volg.” As jy altyd goeie, skoon vermaak en leesstof kies, kan jy jou kinders help om dieselfde te doen.—Romeine 2:21-24.

JEHOVAH SAL JULLE HELP

15, 16. (a) Waarom kan julle seker wees dat Jehovah julle sal help om julle kinders op te lei? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

15 Wat het Jehovah gedoen toe Manoag hom gevra het vir hulp om ’n goeie ouer te wees? “Die ware God [het] na die stem van Manoag geluister” (Rigters 13:9). Ouers, Jehovah sal julle gebede ook verhoor. Hy sal julle help om julle kinders op te lei. En hy sal julle help om julle liefde te toon, nederig te wees en insig te hê.

16 Net soos Jehovah julle sal help om julle kinders op te lei terwyl hulle nog jonk is, kan hy julle ook help om hulle op te lei wanneer hulle tieners word. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe Jesus se voorbeeld van liefde, nederigheid en insig julle kan help om julle tiener op te lei om Jehovah te dien.

^ par. 5 Volgens die Bybel sluit dissipline leiding, opleiding, teregwysing en soms selfs straf in. Ouers moet hulle kinders op ’n liefdevolle wyse dissiplineer en hulle moet dit nooit doen wanneer hulle kwaad is nie.

^ par. 7 In Jesus se dag het kinders hulle vader Abba genoem. Hierdie woord het liefde en respek aangedui.—The International Standard Bible Encyclopedia.