Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het argeoloë gevind wat toon dat Jerigo binne ’n kort tydjie verower is?

Volgens Josua 6:10-15, 20 het die Israelitiese soldate vir ses dae, een keer per dag, om die stad Jerigo geloop. Op die sewende dag het hulle sewe keer om die stad geloop. Toe het God die sterk mure van Jerigo ineen laat stort, en die Israeliete het die stad verower. Het argeoloë enigiets ontdek wat toon dat Jerigo binne ’n kort tydjie verower is, net soos die Bybel sê?

Soms, in die ou tyd, het ’n leërmag ’n stad omsingel sodat hulle dit kon verower. As dit lank geneem het om die stad te verower, sou die mense die meeste van die kos in die stad opgeëet het. Nadat die soldate die stad uiteindelik verower het, sou hulle alles neem wat hulle wou hê, insluitende enige oorblywende kos. Daarom het argeoloë min of geen kos gevind in die ruïnes van stede in Palestina wat so verower is nie. Maar die ruïnes van Jerigo is anders. Die Biblical Archaeology Review sê: “Behalwe erdewerk, is graan die item wat die meeste in die ruïnes gevind is.” Dit voeg by: “Om so ’n oorvloed graan te vind, is baie ongewoon.”

Die Bybel sê dat die Israeliete nie die kos in Jerigo geneem het nie omdat Jehovah hulle verbied het om dit te doen (Josua 6:17, 18). Dit sê ook dat die Israeliete Jerigo in die lente aangeval het, net ná die oes, toe daar baie graan in die stad was (Josua 3:15-17; 5:10). Die feit dat daar nog baie graan in Jerigo was, bevestig dat die stad in ’n kort tydjie verower is, net soos die Bybel sê.