Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Julle sal “’n koninkryk van priesters” word

Julle sal “’n koninkryk van priesters” word

“Julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word.”—EKS. 19:6.

1, 2. Watter beskerming het die nageslag van die vrou nodig gehad, en waarom?

DIE eerste profesie in die Bybel het groot betekenis in die vervulling van Jehovah se voorneme. Toe die ware God die Edeniese belofte gemaak het, het hy gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou en tussen jou saad en haar saad.” Hoe intens sou hierdie vyandskap wees? “Hy [die saad, oftewel die nageslag, van die vrou] sal jou [Satan se] kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond”, het Jehovah gesê (Gen. 3:15). Die vyandskap tussen die slang en die vrou sou so erg wees dat Satan alles in sy mag sou doen om haar nageslag uit te wis.

2 Dit is te verstane dat die psalmis in gebed tot God oor Sy gekose volk gesê het: “Kyk! u vyande is in beroering; en dié wat u intens haat, het hulle hoof opgehef. Teen u volk voer hulle listig hulle vertroulike gesprekke; en hulle sweer saam teen u verborgenes. Hulle het gesê: ‘Kom en laat ons hulle as ’n nasie uitwis’” (Ps. 83:2-4). Die geslagslyn van die nageslag van die vrou moes beskerm word teen uitwissing en verontreiniging. Om dit te doen, het Jehovah verdere bindende wetlike reëlings getref wat die verwesenliking van sy voorneme sou beskerm.

’N VERBOND WAT DIE NAGESLAG BESKERM

3, 4. (a) Wanneer het die Wetsverbond in werking getree, en wat het die nasie Israel ingestem om te doen? (b) Wat was die doel van die Wetsverbond?

3 Toe die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob tot in die miljoene vermeerder het, het Jehovah hulle tot ’n nasie gevorm—die eertydse nasie Israel. Jehovah het deur middel van Moses ’n unieke nasionale verbond met hulle gesluit deur hulle die Wet te gee, en die nasie Israel het ingestem tot die bepalings van daardie verbond. Die Bybel sê: “[Moses het] die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. Toe het hulle gesê: ‘Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen, en ons sal gehoorsaam wees.’ Toe het Moses die bloed [van die geofferde bulle] geneem en dit op die volk gesprinkel en gesê: ‘Hier is die bloed van die verbond wat Jehovah met julle gesluit het met betrekking tot al hierdie woorde.’”—Eks. 24:3-8.

4 Die Wetsverbond het in 1513 VHJ by die berg Sinai in werking getree. Deur middel van hierdie verbond was die eertydse nasie Israel afgesonder as God se uitverkore nasie. Jehovah het nou ‘hulle Regter, hulle Wetgewer en hulle Koning’ geword (Jes. 33:22). Die geskiedenis van Israel voorsien ’n verslag van wat gebeur wanneer God se regverdige standaarde nagekom word of verontagsaam word. Aangesien die Wet hulle verbied het om met nie-Israeliete te trou en aan valse aanbidding deel te neem, was die doel daarvan om te keer dat Abraham se geslagslyn verontreinig word.—Eks. 20:4-6; 34:12-16.

5. (a) Watter geleentheid het die Wetsverbond vir Israel moontlik gemaak? (b) Waarom het God Israel verwerp?

5 Die Wetsverbond het ook ’n reëling vir ’n priesterdom ingesluit, wat ’n voortrefliker reëling vir die toekoms voorafgeskadu het (Heb. 7:11; 10:1). Trouens, deur middel van hierdie verbond het Israel ’n unieke geleentheid en voorreg gehad om “’n koninkryk van priesters” te word, solank hulle Jehovah se wette gehoorsaam het. (Lees Eksodus 19:5, 6.) Israel was egter nie gehoorsaam nie. In plaas daarvan om groot waarde te heg aan die koms van die Messias, die primêre deel van Abraham se nageslag, het die nasie hom verwerp. Gevolglik het God daardie nasie verwerp.

Israel se ongehoorsaamheid het nie beteken dat die Wetsverbond misluk het nie (Sien paragrawe 3-6)

6. Wat was die doel van die Wet?

6 Israel het nie getrou aan Jehovah gebly nie en dus nie die volle getal voorsien van dié wat ’n koninkryk van priesters moes uitmaak nie, maar dit het nie beteken dat die Wet misluk het nie. Die doel van die Wet was om die nageslag te beskerm en mense na die Messias te lei. Toe die Christus gekom het en geïdentifiseer is, het die Wet sy doel bereik. “Christus is die einde van die Wet”, sê die Bybel (Rom. 10:4). Maar die vraag bly staan: Wie sou dan die geleentheid hê om ’n koninkryk van priesters te word? Jehovah God het nog ’n wetlike kontrak voorsien om ’n nuwe nasie te vorm.

’N NUWE NASIE WORD GEVORM

7. Wat het Jehovah deur Jeremia voorspel aangaande ’n nuwe verbond?

7 Lank voordat die Wetsverbond beëindig is, het Jehovah deur die profeet Jeremia voorspel dat Hy “’n nuwe verbond” met die nasie Israel sou sluit. (Lees Jeremia 31:31-33.) Daardie verbond sou van die Wetsverbond verskil in die sin dat dit vergifnis van sondes moontlik sou maak sonder dat diere geoffer hoef te word. Hoe sou dit moontlik wees?

8, 9. (a) Wat word moontlik gemaak deur Jesus se vergote bloed? (b) Watter nuwe geleentheid is daar vir diegene in die nuwe verbond? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

8 Eeue later het Jesus op 14 Nisan 33 HJ die Here se Aandmaal ingestel. Toe hy van die beker wyn gepraat het, het hy vir sy 11 getroue apostels gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word” (Luk. 22:20). Volgens Matteus se verslag het Jesus die volgende oor die wyn gesê: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes.”—Matt. 26:27, 28.

9 Jesus se vergote bloed bekragtig die nuwe verbond. Hierdie bloed maak ook die vergifnis van sondes eens en vir altyd moontlik. Jesus is nie ’n deelgenoot aan die nuwe verbond nie. Omdat hy sonder sonde is, het hy geen vergifnis nodig nie. Maar God kon die waarde van Jesus se vergote bloed op Adam se nakomelinge toepas. Hy kon ook sekere toegewyde mense “as kinders” aanneem deur hulle met heilige gees te salf. (Lees Romeine 8:14-17.) Hulle sou in sekere sin soos Jesus, die sondelose Seun van God, wees omdat hulle in God se oë sonder sonde is. Hierdie gesalfdes sou “mede-erfgename met Christus” word en die geleentheid hê om “’n koninkryk van priesters” te word. Dit was ’n voorreg wat die nasie Israel onder die Wet kon gehad het. Die apostel Petrus het aangaande die “mede-erfgename met Christus” gesê: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Pet. 2:9). Hoe lewensbelangrik is die nuwe verbond tog! Dit maak dit vir Jesus se dissipels moontlik om die sekondêre deel van Abraham se nageslag te word.

DIE NUWE VERBOND TREE IN WERKING

10. Wanneer het die nuwe verbond in werking getree, en waarom nie vroeër nie?

10 Wanneer het die nuwe verbond in werking getree? Nie toe Jesus tydens sy laaste nag op die aarde daarna verwys het nie. Jesus se bloed moes uitgestort word, en die waarde daarvan moes voor Jehovah in die hemel aangebied word. Wat meer is, die heilige gees moes uitgestort word op diegene wat “mede-erfgename met Christus” sou wees. Die nuwe verbond het dus op Pinkster 33 HJ in werking getree toe Jesus se lojale dissipels met heilige gees gesalf is.

11. Hoe het die nuwe verbond dit moontlik gemaak vir Jode sowel as nie-Jode om deel van geestelike Israel te word, en hoeveel sou in die nuwe verbond wees?

11 Hoewel die vorige Wetsverbond in sekere sin “verouderd” gemaak is toe Jehovah deur Jeremia aangekondig het dat Hy ’n nuwe verbond met Israel sou sluit, het die Wetsverbond eers geëindig toe die nuwe verbond in werking getree het (Heb. 8:13). Toe dit gebeur het, kon God Jode sowel as onbesnede nie-Jode in dieselfde lig beskou, aangesien hulle “besnydenis . . . dié van die hart [is] deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie” (Rom. 2:29). Deur die nuwe verbond met hulle te sluit, het God sy wette ‘in hulle verstand gesit en in hulle hart geskryf’ (Heb. 8:10). Daar sou altesaam 144 000 in die nuwe verbond wees, wat ’n nuwe nasie sou uitmaak—“die Israel van God”, oftewel geestelike Israel.—Gal. 6:16; Op. 14:1, 4.

12. Hoe vergelyk die Wetsverbond met die nuwe verbond?

12 Hoe vergelyk die Wetsverbond met die nuwe verbond? Die Wetsverbond was tussen Jehovah en natuurlike Israel; die nuwe verbond is tussen Jehovah en geestelike Israel. Moses was die middelaar van die vorige verbond; Jesus is die Middelaar van die nuwe een. Die Wetsverbond was deur dierebloed bekragtig; die nuwe verbond is deur die vergote bloed van Jesus bekragtig. Die nasie Israel was deur die Wetsverbond onder Moses georganiseer; diegene in die nuwe verbond word onder Jesus, die Hoof van die gemeente, georganiseer.—Ef. 1:22.

13, 14. (a) Hoe hou die nuwe verbond met die Koninkryk verband? (b) Wat is nodig vir geestelike Israel om saam met Christus in die hemel te kan regeer?

13 Die nuwe verbond hou verband met die Koninkryk in die sin dat dit ’n heilige nasie voortbring wat die voorreg het om konings en priesters in hierdie hemelse Koninkryk te word. Hierdie nasie is die sekondêre deel van Abraham se nageslag (Gal. 3:29). Die nuwe verbond bevestig dus die Abrahamitiese verbond.

14 Daar is nog ’n reëling van die Koninkryk wat vasgestel moet word. Die nuwe verbond bring geestelike Israel voort en voorsien die grondslag vir die lede daarvan om “mede-erfgename met Christus” te word. Maar ’n bindende wetlike reëling is nodig om hulle in staat te stel om by Jesus in sy Koninkryk aan te sluit as konings en priesters in die hemel.

’N VERBOND WAT ANDER IN STAAT STEL OM SAAM MET CHRISTUS TE REGEER

15. Watter persoonlike verbond het Jesus met sy getroue apostels gesluit?

15 Nadat Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy ’n verbond met sy getroue dissipels gesluit, wat dikwels die Koninkryksverbond genoem word. (Lees Lukas 22:28-30.) Anders as die verbonde waar Jehovah een van die deelgenote is, is dit ’n persoonlike verbond tussen Jesus en sy gesalfde volgelinge. Toe Jesus gesê het: “Net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het”, het hy waarskynlik verwys na die verbond wat Jehovah met hom gesluit het om “’n priester vir ewig volgens die wyse van Melgisedek” te wees.—Heb. 5:5, 6.

16. Wat word vir gesalfde Christene moontlik gemaak deur die Koninkryksverbond?

16 Die 11 getroue apostels het ‘altyddeur by Jesus in sy beproewinge gebly’. Die Koninkryksverbond het hulle verseker dat hulle saam met hom in die hemel sal wees en op trone sal sit om as konings te regeer en as priesters te dien. Maar hierdie 11 sou nie die enigstes wees wat hierdie voorreg ontvang nie. Die verheerlikte Jesus het in ’n visioen aan die apostel Johannes verskyn en gesê: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit, net soos ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Op. 3:21). Die Koninkryksverbond word dus met die 144 000 gesalfde Christene gesluit (Op. 5:9, 10; 7:4). Hierdie verbond vorm ’n wetlike grondslag vir hulle om saam met Jesus in die hemel te regeer. Dit is soortgelyk aan ’n bruid uit ’n adellike gesin wat met ’n heersende koning trou en in ’n posisie kom waar sy in sy heerskappy deel. Trouens, die Skrif verwys na gesalfde Christene as “die bruid” van Christus, “’n kuis maagd” wat in die huwelik aan die Christus beloof is.—Op. 19:7, 8; 21:9; 2 Kor. 11:2.

BEHOU VASTE GELOOF IN GOD SE KONINKRYK

17, 18. (a) Gee ’n oorsig van ses verbonde wat ons bespreek het en wat met die Koninkryk verband hou. (b) Waarom kan ons vaste geloof in die Koninkryk hê?

17 Al die verbonde wat ons in hierdie twee artikels bespreek het, hou verband met een of meer belangrike aspekte van die Koninkryk. (Sien die tabel “Hoe God sy voorneme sal verwesenlik”.) Hierdie feit beklemtoon dat die Koninkryksreëling stewig gegrond is op wetlike kontrakte. Ons het dus goeie rede om ons volle vertroue in die Messiaanse Koninkryk te stel as die middel wat God gebruik om sy oorspronklike voorneme vir die aarde en die mensdom te verwesenlik.—Op. 11:15.

Jehovah sal sy voorneme vir die aarde deur middel van die Messiaanse Koninkryk verwesenlik (Sien paragrawe 15-18)

18 Kan daar enige twyfel wees dat die Koninkryk ewige seëninge vir die mensdom sal meebring? Ons kan met volle vertroue ywerig verkondig dat God se Koninkryk die enigste permanente oplossing is vir al die probleme wat die mens ondervind. Mag ons daardie waarheid ywerig aan ander bekend maak!—Matt. 24:14.