Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit die geduld van Jehovah en Jesus

Leer uit die geduld van Jehovah en Jesus

“Beskou die geduld van ons Here as redding.”—2 PET. 3:15.

1. Waaroor wonder party getroues?

’N GETROUE suster wat etlike dekades baie uitdagings verduur het, het nederig gevra: “Sal ek die einde sien voordat ek sterf?” Party wat Jehovah al lank dien, wonder ook hieroor. Ons smag na die dag wanneer God alles sal nuut maak en die probleme waarmee ons nou te kampe het, uit die weg sal ruim (Op. 21:5). Hoewel ons oorgenoeg rede het om te glo dat die einde van Satan se stelsel baie naby is, kan dit moeilik wees om geduldig op daardie dag te wag.

2. Watter vrae oor goddelike geduld sal ons bespreek?

2 Maar die Bybel toon dat ons geduld moet hê. Soos God se knegte voor ons, sal ons ontvang wat God belowe het as ons sterk geloof het en geduldig wag op sy tyd om hierdie beloftes te vervul. (Lees Hebreërs 6:11, 12.) Jehovah self is geduldig. Hy kon te eniger tyd ’n einde aan goddeloosheid gemaak het, maar hy wag vir die regte tyd (Rom. 9:20-24). Waarom is hy so geduldig? Hoe is Jesus ’n voorbeeld van goddelike geduld? Watter voordele hou dit vir ons in as ons goddelike geduld aankweek? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons help om geduld aan te kweek en sterk geloof op te bou, al lyk dit miskien vir ons of Jehovah talm.

WAAROM LÊ JEHOVAH GEDULD AAN DIE DAG?

3, 4. (a) Waarom het Jehovah geduld aan die dag gelê met betrekking tot die verwesenliking van sy voorneme met die aarde? (b) Hoe het Jehovah op die opstand in Eden gereageer?

3 Jehovah het goeie rede om geduld aan die dag te lê. Hy oefen weliswaar te alle tye oppergesag oor die heelal uit; maar die opstand in Eden het vrae van universele belang laat ontstaan. Jehovah was geduldig in die wete dat dit tyd sou neem om hierdie vrae ten volle te beantwoord. Omdat hy ’n deeglike kennis van die dade en gesindhede van persone in die hemel en op die aarde het, tree hy beslis in ons belang op.—Heb. 4:13.

4 Dit was Jehovah se voorneme dat die nakomelinge van Adam en Eva die aarde moet vul. Toe Satan Eva verlei het en Adam toe ongehoorsaam was, het God nie sy voorneme laat vaar nie. Hy het nie paniekbevange geraak, oorhaastige besluite geneem of oorreageer en moed opgegee met die mensdom nie. Hy het eerder gedink aan ’n manier om sy voorneme met die mens en die planeet Aarde te verwesenlik (Jes. 55:11). Om sy voorneme te vervul en sy soewereiniteit te regverdig, het Jehovah groot selfbeheersing en geduld aan die dag gelê; hy het selfs duisende jare gewag sodat party aspekte van sy voorneme ten beste verwesenlik kan word.

5. Watter seën word deur Jehovah se geduld moontlik gemaak?

5 Nog ’n rede waarom Jehovah geduldig gewag het, is sodat meer mense die ewige lewe kan hê. Hy is nou besig om voorbereidings te tref om “’n groot menigte” te red (Op. 7:9, 14; 14:6). Jehovah nooi mense deur middel van ons predikingswerk om van sy Koninkryk en sy regverdige standaarde te leer. Die Koninkryksboodskap is die allerbeste nuus vir die mensdom—ja, dit is “goeie nuus” (Matt. 24:14). Elkeen wat deur Jehovah getrek word, word deel van ’n wêreldwye gemeente van opregte vriende wat lief is vir wat reg is (Joh. 6:44-47). Ons liefdevolle God help hierdie mense om sy goedkeuring te verkry. Hy kies ook al lank uit die mensdom toekomstige lede van sy hemelse regering. Wanneer hierdie toegewyde persone hulle hemelse posisie beklee, sal hulle gehoorsame mense help om volmaaktheid en eindelose lewe te verkry. Dit is duidelik dat Jehovah, selfs terwyl hy geduldig wag, stappe doen om sy beloftes te vervul—tot ons voordeel.

6. (a) Hoe het Jehovah in Noag se tyd geduld aan die dag gelê? (b) Hoe lê Jehovah in ons tyd geduld aan die dag?

6 Jehovah is geduldig selfs wanneer hy erg uitgetart word, soos ons kan sien uit die manier waarop hy opgetree het met betrekking tot die goddeloosheid voor die Vloed. Die aarde was destyds vol onsedelikheid en geweld, en Jehovah “het gekrenk gevoel in sy hart” oor die verdorwe toestand van die mens (Gen. 6:2-8). Hy sou nie daardie toestand vir ewig duld nie, en daarom het hy besluit om ’n vloed oor die ongehoorsame mense te bring. Terwyl “die geduld van God in Noag se dae gewag het”, het Jehovah voorbereidings getref om Noag en sy gesin te red (1 Pet. 3:20). Op die gepaste tyd het Jehovah Noag oor hierdie besluit ingelig en vir hom gesê om ’n ark te bou (Gen. 6:14-22). Noag was ook “’n prediker van regverdigheid” en het mense van die naderende vernietiging vertel (2 Pet. 2:5). Jesus het gesê dat ons tyd soortgelyk is aan die dae van Noag. Jehovah het besluit wanneer hy ’n einde aan hierdie goddelose stelsel gaan maak. Geen mens weet op watter “dag en uur” dit sal gebeur nie (Matt. 24:36). Ons het nou die godgegewe werk om mense te waarsku en vir hulle te vertel hoe hulle gered kan word.

7. Is Jehovah traag om sy beloftes te vervul? Verduidelik.

7 Dit is duidelik dat Jehovah se geduld nie beteken dat hy maar net wag dat tyd verloop nie. Nee, ons moet nooit dink dat sy geduld beteken dat hy nie aandag skenk of omgee nie! Maar dit kan natuurlik maklik wees om so te begin dink wanneer ons in hierdie goddelose stelsel ouer word of ly. Ons raak dalk moedeloos of voel dat God traag is om sy beloftes te vervul (Heb. 10:36). Moet nooit vergeet dat hy goeie redes het om geduldig te wees en dat hy intussen die tyd tot voordeel van sy lojale knegte gebruik nie (2 Pet. 2:3; 3:9). Kyk ook hoe Jesus goddelike geduld beoefen het.

HOE HET JESUS ’N GOEIE VOORBEELD VAN GEDULD GESTEL?

8. Onder watter omstandighede het Jesus geduld aan die dag gelê?

8 Jesus doen die wil van God, en hy doen dit al tallose millenniums ywerig. Toe Satan in opstand gekom het, het Jehovah besluit dat sy enigverwekte Seun na die aarde toe sou kom as die Messias. Dink aan wat dit vir Jesus beteken het—hy moes duisende jare lank geduldig wag totdat die tyd aangebreek het. (Lees Galasiërs 4:4.) Hy het nie gedurende al daardie tyd passief gewag nie; hy was eerder besig met die werk wat sy Vader hom gegee het. Toe hy uiteindelik aarde toe gekom het, het hy geweet dat hy deur die toedoen van Satan sou moes sterf, soos voorspel is (Gen. 3:15; Matt. 16:21). Hy het hom geduldig aan God se wil onderwerp, al het dit beteken dat hy verskriklike pyn moes verduur. Hy het die mees verhewe vorm van lojaliteit getoon. Hy het nie op homself en sy posisie gekonsentreer nie, en ons kan daarby baat vind.—Heb. 5:8, 9.

9, 10. (a) Wat doen Jesus terwyl hy geduldig vir Jehovah wag om op te tree? (b) Hoe moet ons Jehovah se tydrooster beskou?

9 Ná sy opstanding het Jesus gesag in die hemel en op die aarde ontvang (Matt. 28:18). Hy gebruik hierdie gesag om Jehovah se voorneme volgens God se tydrooster te volbring. Jesus het tot 1914 geduldig aan God se regterhand gewag dat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak word (Ps. 110:1, 2; Heb. 10:12, 13). Hy sal binnekort optree om ’n einde aan Satan se stelsel te maak. Intussen help Jesus mense geduldig en lei hy hulle na “waters van die lewe”.—Op. 7:17.

10 Sien jy in Jesus se voorbeeld hoe jy Jehovah se tydrooster moet beskou? Jesus was ongetwyfeld gretig om enigiets te doen wat sy Vader van hom vra; hy was nietemin bereid om op God se tyd te wag. Terwyl ons op die einde van Satan se goddelose stelsel wag, het ons almal goddelike geduld nodig en moet ons God nooit vooruitloop of ooit tou opgooi omdat ons moedeloos is nie. Wat kan ons doen om hierdie goddelike geduld aan te kweek?

HOE KWEEK EK GODDELIKE GEDULD AAN?

11. (a) Wat is die verband tussen geloof en geduld? (b) Waarom het ons grondige redes om sterk geloof te hê?

11 Voordat Jesus aarde toe gekom het, het die profete en ander getroue knegte ’n voorbeeld gestel van hoe selfs onvolmaakte mense geduldig kan volhard. Daar was ’n regstreekse verband tussen hulle geloof en hulle geduld. (Lees Jakobus 5:10, 11.) Sou hulle, as hulle nie werklik geglo het wat Jehovah vir hulle gesê het nie—as hulle ’n gebrek aan geloof gehad het—geduldig op die vervulling van sy beloftes gewag het? Hulle het dikwels skrikwekkende of moeilike toetse van geloof verduur, in die vertroue dat God uiteindelik sou doen wat hy belowe het (Heb. 11:13, 35-40). Ons het selfs meer rede om vaste geloof te hê, want Jesus dien nou as die “Vervolmaker van ons geloof” (Heb. 12:2). Hy het profesieë vervul en God se voornemens geopenbaar op ’n wyse wat ons grondige redes gee om geloof te hê.

12. Wat kan ons doen om ons geloof op te bou?

12 Watter praktiese stappe kan ons doen om ons geloof te versterk en so groter geduld aan te kweek? Dit is belangrik dat ons God se raad toepas. Dink byvoorbeeld aan redes waarom jy die Koninkryk eerste in jou lewe moet stel. Kan jy ’n groter poging aanwend om die raad in Matteus 6:33 toe te pas? Dit beteken dalk dat jy meer tyd aan die bediening moet wy of veranderinge in sekere aspekte van jou lewe moet aanbring. Moenie vergeet hoe Jehovah jou pogings tot nou toe geseën het nie. Hy het jou moontlik in staat gestel om ’n nuwe Bybelstudie te hou of jou gehelp om “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, te verkry. (Lees Filippense 4:7.) As jy jou só toespits op voordele wat jy verkry het omdat jy Jehovah se instruksies gevolg het, sal jou waardering vir geduld toeneem.—Ps. 34:8.

13. Hoe kan ons die proses om geloof op te bou en só groter geduld aan te kweek, toelig?

13 Hierdie proses is soortgelyk aan die kringloop in die landbou wanneer ’n boer saad saai, die landerye bewerk en die gewasse oes. Elke keer dat hy oorvloedig oes, bou hy groter vertroue op om die volgende seisoen weer te saai. Hy sal dan natuurlik geduldig vir die oes moet wag, maar dit sal hom nie verhinder om te saai en miskien om selfs meer landerye as die vorige seisoen te besaai nie. Hy vertrou dat hy sal oes. Net so sal ons vertroue in Jehovah toeneem wanneer ons hierdie kringloop herhaal van Jehovah se raad te leer ken, dit te volg en dan die voordele te maai. Ons geloof neem eweneens toe, en dit word makliker om te wag op die seëninge wat ons weet sal kom.—Lees Jakobus 5:7, 8.

14, 15. Hoe moet ons menselyding beskou?

14 Nog ’n manier waarop ons geduld kan aankweek, is deur te dink aan hoe ons die wêreld en ons persoonlike omstandighede moet beskou. Probeer om dieselfde beskouing as Jehovah te hê. Dink byvoorbeeld aan hoe hy menselyding beskou. Dit bedroef hom al lank om mense te sien ly; maar hy is nie deur droefheid oorweldig sodat hy niks goeds kan doen nie. Hy het sy enigverwekte Seun gestuur “om die werke van die Duiwel te verbreek” en al die skade wat Satan die mens berokken het, ongedaan te maak (1 Joh. 3:8). Die lyding is in werklikheid net tydelik, maar God se oplossing is permanent. Ons moet eweneens nie toelaat dat die huidige goddeloosheid van Satan se bewind ons oorweldig of dat ons ongeduldig raak oor wanneer dit sal eindig nie, maar ons moet eerder geloof stel in die onsigbare dinge wat vir ewig sal duur. Jehovah het ’n spesifieke tyd vasgestel wanneer goddeloosheid beëindig sal word, en hy sal presies op tyd optree.—Jes. 46:13; Nah. 1:9.

15 Gedurende hierdie moeilike laaste dae van hierdie stelsel van dinge ondergaan ons dalk groot toetse van ons geloof. Ons moenie met woede reageer as ons ’n slagoffer van geweld word of wanneer ons geliefdes ly nie, maar ons moet eerder vasbeslote wees om volkome op Jehovah te vertrou. Omdat ons onvolmaak is, is dit nie maklik om dít te doen nie. Maar dink aan wat Jesus gedoen het, soos opgeteken is in Matteus 26:39.Lees.

16. Wat moet ons nie doen gedurende die tyd wat oorbly nie?

16 Iets wat kan verhinder dat ons goddelike geduld aan die dag lê, is ’n wag-en-sien-houding. Wat beteken dit? Wel, iemand wat twyfel dat die einde naby is, sal dalk “alternatiewe reëlings” begin tref ingeval dinge nie verloop soos Jehovah gesê het nie. Met ander woorde, hy dink miskien: ‘Ek sal wag en sien of Jehovah werklik sy woord nakom.’ Hy probeer dan moontlik om vir hom ’n naam te maak in hierdie wêreld, om finansiële sekuriteit te soek in plaas van God se Koninkryk eerste te stel of om op hoër onderwys staat te maak om nou ’n gemaklike lewe te verkry. Maar sal dit nie in werklikheid bewys lewer van ’n gebrek aan geloof nie? Onthou, Paulus het ons aangespoor om navolgers te word van die getroues wat “deur geloof en geduld” beloftes van Jehovah ontvang het (Heb. 6:12). Jehovah sal nie toelaat dat hierdie goddelose stelsel enigsins langer bestaan as wat absoluut nodig is volgens sy voorneme nie (Hab. 2:3). Intussen moet ons nie net vormdiens aan Jehovah lewer nie. Ons moet eerder waaksaam bly en ons inspan in die verkondiging van die goeie nuus, wat nou reeds ’n bron van onvergelyklike bevrediging is.—Luk. 21:36.

WATTER SEËNINGE BRING GEDULD MEE?

17, 18. (a) Watter geleentheid met betrekking tot geduld het ons nou? (b) Watter seëninge sal ons ontvang as ons nou geduld aan die dag lê?

17 Hetsy ons God nog net ’n paar maande of al etlike dekades lank dien, ons wil hom vir ewig dien. Geduld help ons om te volhard totdat ons redding verkry, ongeag hoeveel tyd daar nog in hierdie stelsel oor is. Jehovah gee ons nou die geleentheid om te toon dat ons volle vertroue in sy besluite het en om—indien nodig—bereid te wees om ter wille van sy naam kwaad te ly (1 Pet. 4:13, 14). God gee ons ook opleiding wat ons kan help om die geduld te hê wat nodig is vir redding.—1 Pet. 5:10.

18 Jesus het alle gesag in die hemel en op die aarde, en niks kan jou uit sy beskermende sorg wegruk nie—behalwe jy (Joh. 10:28, 29). Dit is glad nie nodig om die toekoms of selfs die dood te vrees nie. Diegene wat geduldig tot die einde toe volhard, sal gered word. Ons moet dus beslis nie toelaat dat die wêreld ons verlei en ons laat ophou om op Jehovah te vertrou nie. Ons moet eerder vasbeslote wees om ons geloof op te bou en die tyd waarin God geduld beoefen, wyslik te gebruik.—Matt. 24:13; lees 2 Petrus 3:17, 18.