Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die diereskepping verheerlik Jehovah

Die diereskepping verheerlik Jehovah

Die diereskepping verheerlik Jehovah

JEHOVAH se grootsheid kan duidelik in die diereryk gesien word. God sorg goed vir die diere, net soos hy in mense se behoeftes voorsien (Psalm 145:16). Dit sal beslis verkeerd wees om met die diere se Skepper, en ons s’n, fout te vind! Hoewel die man Job regskape was, het hy “eerder sy eie siel regverdig verklaar . . . as God”. Job moes dus ’n paar lesse leer!—Job 32:2; 33:8-12; 34:5.

Voorbeelde uit die diereskepping het vir Job gewys dat mense nie die reg het om God se weë in twyfel te trek nie. Hoe duidelik is dit tog wanneer ons Jehovah se woorde aan sy kneg Job ondersoek!

Hulle het nie die hulp van mense nodig nie

Job kon nie God se vrae oor die dierelewe beantwoord nie (Job 38:39-41). Dit is duidelik dat Jehovah sonder die hulp van mense vir die leeu en die raaf sorg. Hoewel rawe rondvlieg en kos soek, kry hulle in werklikheid hulle kos van God.—Lukas 12:24.

Job kon nie antwoord toe God hom vrae oor wilde diere gevra het nie (Job 39:1-8). Geen mens kan die bergbokke en die takbokooie beskerm nie. Trouens, dit is moeilik om selfs naby bergbokke te kom! (Psalm 104:18). Dit is weens godgegewe instink dat ’n takbokooi haar in die woud afsonder net voordat sy geboorte gee. Sy sorg goed vir haar kleintjies, maar wanneer hulle ‘sterk word’, ‘gaan hulle weg en keer nie terug nie’. Dan moet hulle vir hulleself sorg.

Die sebra hardloop vry rond, en die woestynvlakte is die wilde-esel se tuiste. Job kon nie die wilde-esel as lasdier gebruik nie. Hy soek na “elke soort groen plant” en deurkruis heuwels vir weiding. Hierdie dier sal nie sy vryheid verruil vir kos wat makliker in dorpe verkry kan word nie. “Die geluide van ’n bekruiper hoor hy nie”, want die wilde-esel hardloop vinnig weg as ’n mens in sy gebied inkom.

God het hierna die wilde bul genoem (Job 39:9-12). Die Engelse argeoloog Austen Layard het oor hom geskryf: “Wanneer daar in ag geneem word hoe dikwels die wilde bul in basreliëfs uitgebeeld word, lyk dit of hy as byna net so ’n gevaarlike en indrukwekkende wilde dier as die leeu beskou is. Die koning word dikwels gesien waar hy teen hom veg, en krygsmanne sit hom te perd en te voet agterna” (Nineveh and Its Remains, 1849, Deel 2, bladsy 326). Maar niemand wat verstandig is, probeer die onbeheerbare wilde bul inspan nie.—Psalm 22:21.

Voëls verheerlik Jehovah

God het Job hierna oor voëls uitgevra (Job 39:13-18). Die ooievaar vlieg hoog met sy kragtige vlerke (Jeremia 8:7). Hoewel die volstruis sy vlerke klap, kan hy nie vlieg nie. Anders as die ooievaar, sit die volstruis nie haar eiers in ’n nes wat in ’n boom gebou is nie (Psalm 104:17). Sy maak ’n holte in die sand en lê haar eiers daarin. Maar hierdie voël los die eiers nie net daar nie. Die eiers word met sand toegegooi en by ’n geskikte temperatuur gehou terwyl die mannetjie sowel as die wyfie hulle oppas.

Dit lyk dalk of die volstruis ‘wysheid vergeet’ wanneer sy ’n roofdier sien wat haar eiers bedreig en sy skynbaar weghardloop. Maar An Encyclopedia of Bible Animals sê: “Dit is ’n tegniek om die aandag af te lei: [volstruise] probeer die aandag trek en klap hulle vlerke om enige dier of mens wat ’n bedreiging inhou, van die eiers af weg te lok.”

In watter opsig ‘lag die volstruis die perd en sy ruiter uit’? The World Book Encyclopedia sê: “Die volstruis kan nie vlieg nie, maar hy is bekend daarvoor dat hy baie vinnig kan hardloop. Hy kan met sy lang bene treë van 15 voet (4,6 meter) gee en teen ’n snelheid van tot 40 myl (64 kilometer) per uur hardloop.”

God gee die perd sterkte

God het Job hierna oor die perd uitgevra (Job 39:19-25). In die ou tyd het krygsmanne op perde gery tydens gevegte, en perde het strydwaens met ’n drywer en moontlik twee soldate daarin getrek. ’n Oorlogsperd kan nie wag vir die stryd nie, en daarom runnik hy en kap hy met sy pote op die grond. Hy is nie verskrik nie en draai nie terug weens ’n swaard nie. Wanneer daar op die horing geblaas word, reageer die oorlogsperd asof hy sê: “Ha!” Hy skiet vorentoe en ‘verslind die grond’. Die oorlogsperd gehoorsaam nietemin sy ruiter.

Die argeoloog Layard het in ’n soortgelyke beskrywing geskryf: “Die Arabiese merrie is so mak soos ’n lam, en net die halter is nodig om haar te lei, maar wanneer sy die stam se oorlogskreet hoor en haar ruiter se flitsende spies sien, gloei haar oë, haar bloedrooi neusgate gaan wyd oop, haar nek is pragtig gekrom en haar stert en maanhare staan regop in die wind.”—Discoveries Among the Ruins of Nineveh and Babylon, 1853, bladsy 330.

Beskou die valk en die arend

Jehovah het sy aandag op sekere ander voëls gevestig (Job 39:26-30). Valke ‘sweef opwaarts en sprei hulle vlerke uit na die wind’. The Guinness Book of Records gee die swerfvalk aan as die vinnigste voël en sê dat hy “rekordsnelhede bereik wanneer hy van groot hoogtes af neerskiet om sy gebied te verdedig of prooi in die lug te vang”. Hierdie voël het al ’n snelheid van 349 kilometer per uur teen ’n daalhoek van 45 grade bereik!

Arende het al teen ’n snelheid van meer as 130 kilometer per uur gevlieg. Job het die vlietende aard van die lewe vergelyk met die snelheid van ’n arend wat na prooi soek (Job 9:25, 26). God gee ons krag om voort te gaan, asof ons op die skynbaar onvermoeibare vlerke van die swewende arend is (Jesaja 40:31). Wanneer die arend vlieg, maak hy van warm lugstrome gebruik wat termieke genoem word. Die voël sirkel in die lugstroom, wat hom al hoe hoër neem. Wanneer die arend ’n sekere hoogte bereik, sweef hy na die volgende warm lugstroom, en so kan hy ure lank met die minste verbruik van energie in die lug bly.

’n Arend ‘bou sy nes hoog’ op ’n onbereikbare hoogte sodat sy kleintjies veilig is. Jehovah laat die arend dit instinktief doen. En met godgegewe gesigsvermoë ‘bly die arend se oë in die verte kyk’. Die vermoë om die fokus van sy oë vinnig te verander, stel die arend in staat om sy prooi of ’n karkas tydens ’n lang duik in die oog te hou. Omdat ’n arend moontlik die karkasse van dooie diere sal eet, kan daar tereg gesê word: “Waar die gesneuweldes is, daar is hy.” Hierdie voël vang klein diertjies en neem hulle na sy kleintjies.

Jehovah dissiplineer Job

God het Job gedissiplineer voordat hy hom nog vrae oor diere gevra het. Hoe het Job gereageer? Hy het hom verneder en gewillig verdere raad aanvaar.—Job 40:1-14.

Op hierdie plek in die geïnspireerde verslag van Job se ondervindinge leer ons ’n baie belangrike les. Dit is: Geen mens kan tereg met die Almagtige foutvind nie. Ons woorde en dade moet ons hemelse Vader behaag. Daarbenewens moet die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit vir ons van die allergrootste belang wees.

Behemot verheerlik God

God het weer die aandag op die diereskepping gevestig en Job uitgevra oor Behemot, wat volgens die algemene beskouing die seekoei is (Job 40:15-24). ’n Uitgegroeide seekoei kan vier tot vyf meter lank wees en tot 3 600 kilogram weeg. Behemot se “krag is in sy heupe”—die spiere van sy rug. Die dik vel van Behemot se maag help hom baie wanneer hy met sy kort bene in rivierbeddings loop en sy maag oor die klippe skuur. ’n Man is beslis nie opgewasse teen Behemot met sy kolossale liggaam, yslike mond en kragtige kake nie.

Behemot klim uit die rivier om aan “groen gras” te smul. Dit lyk of die groenigheid van ’n hele berg nodig is om hom van kos te voorsien! Hy eet elke dag sowat 90-180 kilogram plante. Wanneer Behemot versadig is, lê hy onder lotusbome of in die skaduwee van populiere. As die rivier waarin hy bly, sy walle oorstroom, kan die seekoei sy kop bo die water hou en teen die vloedwaters swem. As Job voor Behemot met sy yslike mond en gevaarlike slagtande te staan sou kom, sou hy nie die moed hê om sy neus met ’n haak te deurboor nie.

Leviatan verheerlik God

Job het hierna omtrent Leviatan gehoor (Job 41:1-34). Die Hebreeuse woord dui op “’n ineengedraaide dier”—blykbaar die krokodil. Kon Job Leviatan ’n speelding vir kinders maak? Beslis nie! Ontmoetings met hierdie dier het herhaaldelik bewys dat hy gevaarlik is. Trouens, as iemand Leviatan sou aanpak, sou die geveg waarskynlik so erg wees dat hy dit nooit weer sal doen nie!

Wanneer Leviatan sy kop met sonop bo die water uitlig, glinster sy oë “soos die strale van die dagbreek”. Leviatan se skubbe is dig gesluit, en daar is benerige plate in sy vel waardeur koeëls nie maklik dring nie, wat nog te sê swaarde en spiese. Skerp skubbe op ’n krokodil se maag laat indrukke op modderbanke wat soos dié van “’n dorswerktuig” lyk. Sy woeste bewegings in die water laat dit soos salf skuim. En weens sy grootte, gepantserde liggaam en wapens—’n dreigende mond en kragtige stert—ken Leviatan geen vrees nie.

Job herroep sy woorde

Job het erken dat hy ‘gepraat het, maar sonder om begrip te hê van dinge wat vir hom te wonderbaar is’ (Job 42:1-3). Hy het God se teregwysing aanvaar, sy woorde herroep en berou getoon. Sy metgeselle is bestraf, maar hy is ryklik geseën.—Job 42:4-17.

Hoe verstandig is dit tog om Job se ondervinding in gedagte te hou! Ons kan beslis nie al die vrae beantwoord wat God hom gevra het nie. Maar ons kan en moet waardering toon vir die groot verskeidenheid skeppingswonders wat Jehovah verheerlik.

[Prent op bladsy 13]

Bergbok

[Prent op bladsy 13]

Raaf

[Prent op bladsy 13]

Leeuwyfie

[Prent op bladsy 14]

Sebra

[Prent op bladsy 14]

Die volstruis loop van haar eiers af weg, maar sy los dit nie net daar nie

[Prent op bladsy 14]

Volstruiseiers

[Prent op bladsy 14, 15]

Swerfvalk

[Erkenning]

Valk: © Joe McDonald/Visuals Unlimited

[Prent op bladsy 15]

Arabiese merrie

[Prent op bladsy 15]

Goudarend

[Prent op bladsy 16]

Behemot is volgens die algemene beskouing die seekoei

[Prent op bladsy 16]

Leviatan is vermoedelik die kragtige krokodil