Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet Christene jaloers wees?

Moet Christene jaloers wees?

Moet Christene jaloers wees?

JALOESIE—is dit ’n eienskap wat Christene moet aankweek? As Christene word ons aangemoedig om ‘liefde na te streef’, en daar word vir ons gesê dat ‘die liefde nie jaloers is nie’ (1 Korintiërs 13:4; 14:1). Aan die ander kant word daar ook vir ons gesê dat “Jehovah . . . ’n jaloerse God [is]” en word ons beveel om “navolgers van God” te word (Eksodus 34:14; Efesiërs 5:1). Waarom die skynbare teenstrydigheid?

Dit is omdat die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel met “jaloesie” vertaal word, ’n wye verskeidenheid betekenisse het. Hulle kan ’n positiewe of ’n negatiewe konnotasie hê, na gelang van hoe die woorde gebruik word. Die Hebreeuse woord wat met “jaloesie” vertaal word, kan byvoorbeeld beteken: “aandrang op uitsluitlike toegewydheid; om geen mededinging te duld nie; ywer; geesdrif; jaloesie [regverdig of sondig]; afguns”. Die ooreenstemmende Griekse woord het ’n soortgelyke betekenis. Hierdie woorde kan verwys na ’n verwronge, verdraaide emosie teenoor ’n vermeende mededinger of iemand wat skynbaar voordele geniet (Spreuke 14:30). Hulle kan ook verwys na ’n positiewe betoning van ’n godgegewe eienskap—die begeerte om ’n geliefde teen leed te beskerm.—2 Korintiërs 11:2.

Die voortreflikste voorbeeld

Jehovah stel die voortreflikste voorbeeld wat gepaste jaloesie betref. Sy beweegredes is suiwer en rein en spruit voort uit die begeerte om sy volk teen geestelike en sedelike verdorwenheid te beskerm. Van sy eertydse volk, waarvan daar figuurlik as Sion gepraat word, het hy gesê: “Ek sal jaloers wees ten opsigte van Sion met groot jaloesie, en met groot woede sal ek jaloers wees ten opsigte van hom” (Sagaria 8:2). Net soos ’n liefdevolle vader altyd gereed is om sy kinders teen leed te beskerm, is Jehovah gereed om sy knegte teen fisiese en geestelike gevare te bewaar.

Jehovah het sy Woord, die Bybel, voorsien om sy volk te beskerm. Dit bevat baie aanmoediging vir hulle om op ’n verstandige wyse te wandel, en dit het baie voorbeelde van diegene wat dit wel gedoen het. In Jesaja 48:17 lees ons: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.” Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat sy jaloesie hom beweeg om vir ons te sorg en oor ons te waak! As hy nie sy jaloesie op hierdie goeie manier betoon het nie, sou allerhande skadelike dinge ons oorkom weens ons onervarenheid. Jehovah se jaloesie is geensins selfsugtig nie.

Wat is dan die verskil tussen goddelike jaloesie en ongepaste jaloesie? Om uit te vind, kom ons kyk na die voorbeelde van Mirjam en Pinehas. Let op wat hulle beweegredes was.

Mirjam en Pinehas

Mirjam was die ouer suster van Moses en Aäron, die leiers van die Israeliete gedurende die Eksodus. Terwyl die Israeliete in die wildernis was, het Mirjam jaloers geraak op haar broer Moses. Die Bybelverslag sê: “En Mirjam en Aäron het teen Moses begin praat weens die Kussitiese vrou wat hy geneem het . . . En hulle het bly sê: ‘Praat Jehovah net deur Moses alleen? Het hy nie ook deur ons gepraat nie?’” Klaarblyklik het Mirjam die voortou geneem in hierdie opstand teen Moses, want Jehovah het Mirjam, en nie Aäron nie, gedissiplineer vir haar oneerbiedige gedrag deur haar met melaatsheid te tref wat ’n week lank geduur het.—Numeri 12:1-15.

Wat het Mirjam beweeg om teen Moses op te staan? Was dit uit besorgdheid oor ware aanbidding en weens ’n begeerte om mede-Israeliete teen leed te beskerm? Klaarblyklik nie. Dit lyk asof Mirjam toegelaat het dat ’n ongepaste begeerte na meer aansien en gesag in haar hart wortelskiet. As ’n profetes in Israel het die volk, veral die vroue, haar baie gerespekteer. Sy het hulle voorgegaan in musiek en sang nadat Israel wonderdadig gered is by die Rooi See. Maar later het Mirjam moontlik uitermate besorg geraak dat die vrou van Moses, wat sy as ’n mededinger beskou het, groter aansien as sy sou geniet. Sy is deur selfsugtige jaloesie beweeg om opstand aan te blaas teen Moses, die een wat deur Jehovah aangestel is.—Eksodus 15:1, 20, 21.

Daarenteen het Pinehas ’n ander beweegrede vir sy optrede gehad. Kort voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, toe hulle op die vlaktes van Moab kamp opgeslaan het, het Moabitiese en Midianitiese vroue baie Israelitiese mans verlei om hulle aan onsedelikheid en afgodediens skuldig te maak. Om die kamp te reinig en Jehovah se brandende toorn te laat wyk, is die regters van Israel beveel om al die manne wat gesondig het, dood te maak. Die Simeonitiese owerste Simri het skaamteloos die Midianitiese vrou Kosbi vir onsedelike doeleindes in die kamp ingebring “voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel”. Pinehas het met beslistheid opgetree. Aangedryf deur jaloesie, of ywer, vir Jehovah se aanbidding en ’n begeerte om die kamp sedelik rein te hou, het hy die hoereerders in hulle tent tereggestel. Hy is geprys vir sy “jaloerse toorn”, deurdat hy ‘hoegenaamd geen mededinging teen Jehovah geduld het nie’. Pinehas se vinnige optrede het die plaag laat ophou waarmee die volk gestraf is en wat reeds die lewens van 24 000 geëis het, en Jehovah het hom beloon met ’n verbond dat die priesterskap tot onbepaalde tyd in sy geslagslyn sou bly.—Numeri 25:4-13; The New English Bible.

Wat was die verskil tussen hierdie twee gevalle waar jaloesie getoon is? Mirjam het uit selfsugtige jaloesie teen haar broer opgetree, terwyl Pinehas geregtigheid laat geskied het op grond van goddelike jaloesie. Daar is tye wanneer ons, soos Pinehas, genoodsaak moet voel om iets te sê of om op te tree ter verdediging van Jehovah se naam, sy aanbidding en sy volk.

Misplaaste jaloesie

Is dit egter moontlik om gevoelens van misplaaste jaloesie te hê? Ja, dit is. Dit was oor die algemeen die geval met die Jode in die eerste eeu. Hulle het die godgegewe Wet en hulle oorleweringe jaloers bewaar. In hulle pogings om die Wet te beskerm, het hulle tallose uitvoerige voorskrifte en beperkings opgestel wat ’n swaar las vir die volk geword het (Matteus 23:4). Omdat hulle nie kon of wou erken dat God nou die Mosaïese Wet vervang het met die werklikheid wat dit voorafgeskadu het nie, het hulle jaloesie hulle verkeerdelik beweeg om met onbeheerste woede teenoor die volgelinge van Jesus Christus op te tree. Die apostel Paulus, wat self vroeër weens misplaaste jaloesie lojaal teenoor die Wet was, het daarop gewys dat mense wat die Wet verdedig, “’n ywer [jaloesie] vir God [gehad] het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie”.—Romeine 10:2; Galasiërs 1:14.

Selfs baie van die Jode wat Christene geword het, het dit moeilik gevind om van hierdie oordrewe ywer vir die Wet ontslae te raak. Ná Paulus se derde sendingreis het hy aan die eerste-eeuse bestuursliggaam verslag gedoen oor die bekering van die nasies. Op daardie stadium was duisende Joodse Christene “almal ywerig vir die Wet” (Handelinge 21:20). Dit was jare nadat die bestuursliggaam beslis het dat die nie-Joodse Christene nie besny hoef te word nie. Kwessies wat met die onderhouding van die Wet verband gehou het, het onenigheid in die gemeente veroorsaak (Handelinge 15:1, 2, 28, 29; Galasiërs 4:9, 10; 5:7-12). Party Joodse Christene het nie ten volle verstaan hoe Jehovah nou met sy volk handel nie en het op hulle eie sienings aangedring en ander gekritiseer.—Kolossense 2:17; Hebreërs 10:1.

Ons moet derhalwe die strik vermy om op jaloerse wyse vas te hou aan ons geliefkoosde idees of handelswyses wat nie geheel en al op God se Woord gegrond is nie. Dit sal verstandig wees as ons die nuwe lig aanvaar wat op die Woord van God gewerp word deur middel van die kanaal wat Jehovah vandag gebruik.

Wees jaloers ten opsigte van Jehovah

Goddelike jaloesie het egter ’n plek in ware aanbidding. Wanneer ons geneig is om uitermate besorg te wees oor ons eie reputasie of regte, help goddelike jaloesie ons om ons aandag op Jehovah gevestig te hou. Dit beweeg ons om na maniere te soek waarop ons die waarheid oor hom bekend kan maak en sy weë en sy volk kan verdedig.

Akiko, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, is afgejak deur ’n huisbewoner wat wanopvattings oor God se wet aangaande bloed gehad het. Akiko het God se Woord taktvol verdedig en selfs die mediese komplikasies en probleme gemeld wat met bloedoortappings gepaardgaan. Haar vurige begeerte om oor Jehovah te praat, het haar beweeg om die gesprek in die rigting te stuur wat sy onderskei het die ware rede vir die vrou se besware was—sy het nie geglo dat ’n Skepper bestaan nie. Akiko het met die huisbewoner geredeneer oor hoe die skepping geloof in ’n Skepper ondersteun. Haar moedige verweer het nie net die vrou se ongegronde vooroordele uit die weg geruim nie, maar ook tot ’n tuisbybelstudie met haar gelei. Vandag is die huisbewoner wat voorheen so kwaai was, ’n lower van Jehovah.

Gepaste jaloesie, of ywer, vir ware aanbidding beweeg ons om wakker te wees en geleenthede aan te gryp om by die werk, op skool, in die winkel en terwyl ons reis, oor ons geloof te praat en dit te verdedig. Midori maak byvoorbeeld ’n punt daarvan om met haar werksmaats oor haar geloof te praat. Een werksmaat wat in haar veertigerjare was, het gesê dat sy niks met Jehovah se Getuies te doen wil hê nie. Later, gedurende ’n ander gesprek, het die vrou genoem dat haar dogter besig was om ’n persoonlikheidsprobleem te ontwikkel. Midori het vir haar die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk a gewys en gevra of sy kan reël dat die boek met die dogter gestudeer word. ’n Studie is begin, maar die ma het nie tydens die bespreking bygesit nie. Midori het besluit om die vrou die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name* te wys. Dit het baie van haar wanindrukke uit die weg geruim. Sy is geraak deur wat sy gesien het en het gesê: “Ek wil soos Jehovah se Getuies wees.” Sy het saam met haar dogter die Bybel begin studeer.

Gepaste jaloesie het ook ’n plek in die Christengemeente. Dit bevorder ’n hartlike gees van liefde en besorgdheid en beweeg ons om ontwrigtende invloede te weerstaan wat ons geestelike broers kan benadeel, soos skadelike skinderpraatjies en afvallige denke. Goddelike jaloesie beweeg ons om die besluite te ondersteun van die ouer manne, wat oortreders soms moet teregwys (1 Korintiërs 5:11-13; 1 Timoteus 5:20). Paulus het oor sy jaloesie ten opsigte van medegelowiges in die Korintiese gemeente geskryf en gesê: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloesie, want ek het julle persoonlik aan een man in die huwelik beloof om julle as ’n kuis maagd voor die Christus te stel” (2 Korintiërs 11:2). Net so beweeg ons jaloesie ons om alles in ons vermoë te doen om die suiwer leer te bewaar, asook die geestelike en sedelike reinheid van almal in die gemeente.

Ja, jaloesie wat voortspruit uit die regte beweegredes—goddelike jaloesie—het ’n heilsame invloed op ander. Dit bring Jehovah se goedkeuring mee en is een van die eienskappe wat vandag in Christene gesien moet word.—Johannes 2:17.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prente op bladsy 29]

Pinehas se optrede was op goddelike jaloesie gegrond

[Prente op bladsy 30]

Vermy die strik van misplaaste jaloesie

[Prente op bladsy 31]

Goddelike jaloesie beweeg ons om met ander oor ons geloof te praat en om ons broederskap te koester