Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Sou dit neerkom op geloofsvermenging as ’n gebou van ’n ander godsdiensgroep gekoop en in ’n Koninkryksaal omskep word?

Oor die algemeen vermy Jehovah se Getuies sulke onderhandelinge met ander godsdienste. Nogtans sou so ’n transaksie nie noodwendig op geloofsvermenging neerkom nie. Dit kan bloot as ’n eenmalige saketransaksie beskou word. Dit is nie asof die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies met ’n ander godsdiensgroep saamwerk om ’n plek van aanbidding te bou wat deur albei groepe gebruik sal word nie.

Wat beskou Jehovah as geloofsvermenging? Dink aan die riglyne wat die apostel Paulus gegee het: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial? Of watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige? En watter ooreenkoms het God se tempel met afgode? . . . ’Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’” (2 Korintiërs 6:14-17). Wat het Paulus met die woorde “gemeenskap” en “deelgenootskap” bedoel?

Dit is duidelik dat die gemeenskap waarvan Paulus praat, aanbidding en geestelike omgang met afgodedienaars en ongelowiges behels. Hy het die Korintiërs gewaarsku dat hulle nie ‘deel moes hê’ aan “die tafel van demone” nie (1 Korintiërs 10:20, 21). Geloofsvermenging beteken dus om saam met ander godsdiensorganisasies te aanbid of geestelik om te gaan (Eksodus 20:5; 23:13; 34:12). Wanneer ’n gebou gekoop word wat deur ’n godsdiensorganisasie gebruik is, is dit bloot om die basiese struktuur te bekom wat nodig is vir ’n Koninkryksaal. Voordat dit as ’n Koninkryksaal gebruik word, word alle relieke van valse godsdiens verwyder. Ná al hierdie veranderinge word dit aan Jehovah toegewy met die uitsluitlike doel om hom daar te aanbid. Daar is geen deelgenootskap of gemeenskap tussen ware en valse aanbidding nie.

Terwyl die besonderhede van die transaksie bespreek word, moet kontak met die ander party tot die minimum beperk word en moet daar streng by die saketransaksie gehou word. Dit sal goed wees as lede van die Christengemeente Paulus se waarskuwing in gedagte hou om nie “saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk [te] kom nie”. Hoewel ons nie verhewe voel bo mense van ander gelowe nie, vermy ons dit om sosiaal met hulle te verkeer of by hulle aanbidding betrek te word. a

Maar kan ’n gemeente ’n gebou huur wat aan ’n godsdiensorganisasie behoort? So ’n reëling sal gewoonlik tot gereelde kontak met daardie organisasie lei, iets wat vermy moet word. Selfs as die gebou vir net een geleentheid gehuur sou word, moet die liggaam van ouer manne die volgende in ag neem: Sal daar enige godsdiensbeelde en -simbole binne of buite die gebou wees? Hoe sal mense in die gemeenskap dit beskou as ons die gebou gebruik? Sal dit iemand in die gemeente laat struikel as dit gebruik word? (Matteus 18:6; 1 Korintiërs 8:7-13). Die ouer manne moet hierdie faktore in ag neem en dan daaroor besluit. Hulle eie gewete en dié van die gemeente oor die algemeen moet ook in aanmerking geneem word wanneer hulle besluit of hulle so ’n gebou sal koop om dit in ’n Koninkryksaal te omskep.

[Voetnoot]

a Vir inligting oor die gepastheid van sakebetrekkinge met organisasies wat nie deur Jehovah goedgekeur word nie, sien Die Wagtoring van 15 April 1999, bladsye 28 en 29.

[Prent op bladsy 27]

Hierdie gebou, wat voorheen ’n sinagoge was, is gekoop en in ’n Koninkryksaal omskep