Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS BYBELBEGINSELS OP ONS TYD VAN TOEPASSING?

Waardes wat nommerpas en tydloos is—Liefde

Waardes wat nommerpas en tydloos is—Liefde

BYBELBEGINSEL: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”Kolossense 3:14.

DIE VOORDELE: Die liefde wat hoofsaaklik in die Bybel gemeld word, is nie romantiese of seksuele liefde nie. Dit is eerder liefde wat op beginsels gebaseer is en gekenmerk word deur eienskappe soos medelye, vergifnis, nederigheid, lojaliteit, goedhartigheid, sagmoedigheid en geduld (Miga 6:8; Kolossense 3:12, 13). Anders as dolle verliefdheid wat gewoonlik met verloop van tyd vervaag, kan liefde vir ewig aanhou groei.

Brenda, wat byna 30 jaar lank getroud is, sê: “Die liefde wat ’n pasgetroude paartjie vir mekaar voel, is niks in vergelyking met die liefde wat ’n mens ondervind namate die huwelik met verloop van tyd groei nie.”

Sam, wat al 12 jaar lank getroud is, het gesê: “Ek en my vrou was nog altyd bly—en selfs verbaas—om te sien hoe doeltreffend en eenvoudig Bybelraad is! Jy pas dit toe, en dinge verloop glad. Maar al wil ek graag sê dat ek dit altyd toepas, was daar wel tye wanneer ek dit nie gedoen het nie, soos wanneer ek oorsensitief, ’n bietjie selfsugtig of moeg was. Op sulke tye vra ek Jehovah om my te help om van enige negatiewe gevoelens ontslae te raak. Dan gee ek my vrou ’n drukkie, en voordat jy dit weet, is dit asof niks onaangenaams gebeur het nie!”

“Die wysheid word deur sy resultate geregverdig”

Jesus Christus het gesê: “Die wysheid word deur sy resultate geregverdig” (Matteus 11:19, voetnote in NW). Daar kan dus gesê word dat die Bybel al die kenmerke van ware wysheid het. Die leringe en waardes daarin werk. Dit is tydloos. Dit strek oor kulturele en nasionale grense. En die diep insig wat dit in die menslike natuur weerspieël, toon dat dit van ’n hoër Bron af kom—ons Skepper, Jehovah God. Maar om by die Bybel se wysheid baat te vind, moet ’n mens dit natuurlik toepas. Daarom nooi die Bybel ons om te “smaak en sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Sal jy hierdie uitnodiging aanvaar?