Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Wanneer jou kind oor die dood vra

Wanneer jou kind oor die dood vra

DIE UITDAGING

Jou sesjarige vra: “Sal Pappa eendag doodgaan?” Jy is verbaas deur sy vraag en wonder: ‘Is my kind oud genoeg om die antwoord te verstaan? Hoe kan ek met hom oor die dood praat?’ *

WAT JY MOET WEET

Kinders dink wel aan die dood. Party speel selfs speletjies waarin iemand maak asof hy doodgaan. Daarom moet die dood nie as ’n verbode onderwerp beskou word nie, en jy moet enige vrae verwelkom wat jou kind dalk daaroor het. As jy van tyd tot tyd openlik oor die dood praat, sal jy jou kind help om te leer hoe om die dood van ’n geliefde te verwerk.

As jy oor die dood praat, sal dit jou kind nie morbiede gedagtes laat hê nie. Dit sal hom eerder help om sy vrese te verminder. Maar jy sal dalk party misverstande moet regstel. Sommige deskundiges sê byvoorbeeld dat baie kinders onder die ouderdom van ses die dood nie as die einde beskou nie. Wanneer hulle speel, sal ’n kind die een oomblik “dood” wees en die volgende oomblik “lewend” wees.

Maar wanneer kinders ’n bietjie ouer word, begin hulle besef hoe ernstig die dood is—wat daartoe kan lei dat hulle vrae, bekommernisse of selfs vrese het, veral as ’n geliefde gesterf het. Dit is dus baie belangrik dat jy die onderwerp bespreek. ’n Deskundige op die gebied van geestesgesondheid, Marion Haza, sê: “’n Kind sal vrese in verband met die dood ontwikkel as hy voel dat hy nie toegelaat word om by die huis oor hierdie onderwerp te praat nie.”

Jy hoef jou nie baie te bekommer oor wat jy gaan sê nie. Volgens ’n studie wil kinders net “die waarheid op ’n liefdevolle wyse hoor”. Wees verseker dat ’n kind gewoonlik nie ’n vraag sal vra tensy hy gereed is om die antwoord te hoor nie.

WAT JY KAN DOEN

Maak gebruik van geleenthede om oor die dood te praat. As jou kind ’n dooie voël op die sypaadjie sien of as ’n geliefde troeteldier doodgaan, kan jy eenvoudige vrae gebruik om hom aan te moedig om te praat. Jy kan byvoorbeeld vra: “Ly ’n dooie dier? Kry dit koud of is dit honger? Hoe weet jy dat ’n dier of ’n persoon dood is?”—Bybelbeginsel: Prediker 3:1, 7

Moenie die waarheid wegsteek nie. Wanneer ’n vriend of ’n familielid gesterf het, moet jy nie verwarrende versagtende uitdrukkings gebruik soos “Hy het weggegaan” nie. Jou kind sal dalk verkeerdelik tot die slotsom kom dat die afgestorwene binnekort terug huis toe sal kom. Gebruik eerder eenvoudige woorde en wees direk. Jy kan byvoorbeeld sê: “Toe Ouma gesterf het, het haar liggaam ophou werk. Ons kan nie met haar praat nie, maar ons sal haar nooit vergeet nie.”—Bybelbeginsel: Efesiërs 4:25.

Aangesien ’n jong kind dalk kan dink dat die dood aansteeklik is, moet jy hom verseker dat hy veilig is

Stel jou kind gerus. Hy dink dalk dat sy optrede of gedagtes iemand se dood veroorsaak het. Eerder as om net te sê dat hy nie vir die persoon se dood verantwoordelik is nie, kan jy hom vra: “Wat laat jou dink dat dit jou skuld is?” Luister aandagtig sonder om sy gevoelens te verkleineer. En aangesien ’n jong kind dalk kan dink dat die dood aansteeklik is, moet jy hom verseker dat hy veilig is.

Moedig jou kind aan om te praat. Praat vryelik oor geliefdes wat gesterf het, insluitende familielede wat jou kind nog nooit ontmoet het nie. Jy kan gesels oor goeie herinneringe wat julle van ’n tante, ’n oom, ’n ouma of ’n oupa het en snaakse staaltjies vertel. Wanneer jy sulke mense openlik bespreek, help jy jou kind om te verstaan dat hy wel oor hulle kan praat en aan hulle kan dink. Terselfdertyd moet jy nie jou kind dwing om te praat nie. Jy kan altyd weer later oor die onderwerp praat, wanneer jy voel dat die tyd reg is.—Bybelbeginsel: Spreuke 20:5.

Hoofstuk 34 en 35 van die boek Leer by die Groot Onderwyser kan jou kinders help om te sien wat die Bybel oor die dood leer. Kyk onder PUBLIKASIES > BOEKE & BROSJURES

^ par. 4 Hoewel ons na die kind as ’n seun verwys, is die beginsels wat bespreek word, ook op meisies van toepassing.