Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 IS DIT ONTWERP?

Die omkrulpunte van swewende voëls se vlerke

Die omkrulpunte van swewende voëls se vlerke

’N STRAALVLIEGTUIG in vlug veroorsaak vinnig warrelende lug by sy vlerkpunte. Hierdie draaikolke veroorsaak lugweerstand, wat brandstofverbruik vermeerder. Dit veroorsaak ook turbulensie vir vliegtuie wat agter hulle vlieg. Vliegtuie wat op dieselfde aanloopbaan vertrek, moet dus genoeg spasie tussen mekaar hê om tyd toe te laat sodat die draaikolke kan verdwyn.

Vliegtuigingenieurs het ’n manier ontdek om hierdie probleme te verminder. Hulle oplossing? Vlerkpunte wat ontwerp is volgens die omkrulvlerkpunte van swewende voëls, soos jakkalsvoëls, arende en ooievaars.

Dink hieraan: Wanneer hierdie groot voëls vlieg, buig die vere op hulle vlerkpunte opwaarts totdat dit amper vertikaal is. Hierdie ontwerp maak dit moontlik dat die maksimum stygkrag met die minimum vlerklengte bereik kan word. Dit verbeter ook werkverrigting. Ingenieurs het vliegtuigvlerke met ’n soortgelyke vorm ontwerp. Toetse wat in ’n windtonnel gedoen is, het getoon dat die aangepaste vlerke, as dit teen presies die regte hoek gekrom is by die punt en reg in lyn is met die lugvloei, die werkverrigting van vliegtuie verbeter—deesdae met tot 10 persent of meer. Die rede? Sulke vlerkpunte verminder lugweerstand deur die grootte van draaikolke te verminder. Wat meer is, vlerkpunte veroorsaak ook ’n soort trekkrag “wat die normale lugweerstand van die vliegtuig in ’n mate teëwerk”, sê die Encyclopedia of Flight.

Op hierdie manier maak sulke vlerkpunte dit vir vliegtuie moontlik om verder te vlieg, ’n groter vrag te vervoer, brandstof te bespaar en korter vlerke te hê—wat ook parkering vergemaklik. In 2010 het lugrederye byvoorbeeld “wêreldwyd [7,6 miljard liter] brandstof bespaar” en tot ’n groot afname in die gasvrystellings van vliegtuie bygedra, sê ’n NASA-persverklaring.

Wat dink jy? Het die omkrulpunte van swewende voëls se vlerke deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?