Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Sedelike waardes wat werklik verrykend is

Sedelike waardes wat werklik verrykend is

Christina kan haar oë nie glo nie! Sy het so pas ’n swart plastieksak gevind met ’n baie groot bedrag geld daarin—meer as wat sy in 20 jaar sal verdien! En sy weet wie dit verloor het. Wat moet sy doen? Wat sou jy gedoen het? Jou antwoord sal toon wat jou beskouing van eerlikheid is en hoe belangrik hierdie sedelike waarde vir jou is.

Wat is waardes? Dit is sedelike of etiese beginsels wat ons as goed en belangrik beskou. Dit kan vergifnis, eerlikheid, vryheid, liefde, respek vir die lewe en selfbeheersing insluit. Ons waardes beïnvloed dus ons gedrag, prioriteite en verhoudings sowel as die sedelike leiding wat ons ons kinders gee. Maar ondanks die feit dat sedelike waardes baie belangrik is, gaan dit agteruit.

DIE AGTERUITGANG VAN WAARDES

In 2008 het navorsers in die Verenigde State ’n onderhoud met honderde jong volwassenes gevoer oor hulle beskouing van sedelike waardes. “Dit is teleurstellend om te sien hoe sleg hulle vaar wanneer hulle oor sedelike kwessies moet dink en praat”, het David Brooks in The New York Times geskryf. Die meeste het gemeen dat verkragting en moord verkeerd is, maar “behalwe in hierdie uiterste gevalle het sedelike waardes glad nie by hulle opgekom nie, nie eers toe dinge soos dronkbestuur, kullery op skool of ontrouheid in ’n verhouding genoem is nie”. Een jong persoon het gesê: “Ek bekommer my nie eintlik oor wat  reg en verkeerd is nie.” Baie het die saak soos volg beskou: ‘As dit reg voel, kan jy dit doen. Volg jou hart.’ Is dit verstandig om so te redeneer?

Hoewel die mensehart tot groot liefde en medelye in staat is, kan dit ook ‘verraderlik en desperaat’ wees (Jeremia 17:9). Hierdie droewige werklikheid word weerspieël in die wêreld se veranderende sedelike waardes—’n neiging wat in die Bybel voorspel is. “In die laaste dae”, het dit lank gelede gesê, “sal mense selfsugtig, gierig, grootpraterig en verwaand” wees, asook “liefdeloos [en] gewelddadig”. En “hulle sal die goeie haat” en “eerder lief wees vir genot as vir God”.—2 Timoteus 3:1-5, Good News Translation.

Hierdie werklikhede moet ons beweeg om twee keer te dink voordat ons ons hart volg! Trouens, die Bybel sê reguit: “Hy wat op sy eie hart vertrou, is dwaas” (Spreuke 28:26). Soos ’n kompas kan ons hart ons slegs in die regte rigting lei as dit reg ingestel is—volgens goeie waardes. Waar kan ons hierdie waardes vind? Baie mense stel vertroue in die Bybel weens die wysheid en reguit raad wat daarin gevind word.

WAARDES WAT ONS KAN VERTROU!

Die Bybel se waardes is spesifiek vir die mensdom bedoel. Beskou net ’n paar eienskappe as voorbeeld—liefde, goedhartigheid, vrygewigheid en eerlikheid.

Liefde vir ander.

“As jy geleer het om lief te hê, sal geluk beslis aan jou deur kom klop”, sê die boek Engineering Happiness—A New Approach for Building a Joyful Life. As mense het ons ongetwyfeld liefde nodig. Daarsonder kan ons nie waarlik gelukkig wees nie.

Wat die Bybel sê: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Dieselfde Bybelskrywer het ook gesê: “As ek . . . geen liefde het nie, is ek niks.”—1 Korintiërs 13:2.

Hierdie liefde is nie romantiese liefde nie en is ook nie op blote sentiment gegrond nie; dit word deur beginsel gerig. Dit is die soort liefde wat ons beweeg om ’n vreemdeling te help wat in die nood is, sonder om eens te dink aan ’n beloning. In 1 Korintiërs 13:4-7 lees ons: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. [Dit] is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, . . . verduur alles.”

Wanneer hierdie liefde in ’n gesin ontbreek, ly almal, veral die kinders. ’n Vrou met die naam Monica het geskryf dat sy as kind fisies, emosioneel en seksueel mishandel is. “Ek het gevoel dat niemand vir my lief is nie en ek het geen hoop gehad nie”, het sy gesê. Toe sy 15 jaar oud was, het sy by haar oupa en ouma gaan bly, wat Jehovah se Getuies is.

“In die twee jaar wat ek by hulle gebly het”, sê Monica, “het hulle my, ’n baie skaam meisie, geleer om uitgaande, liefdevol en besorg oor ander te wees. Hulle het  my gehelp om ’n ordentlike jong vrou te word.” Monica is nou gelukkig getroud en sy, sowel as haar man en drie kinders, betoon liefde aan ander deur hulle van die Bybel se boodskap te vertel.

Iets wat liefde op subtiele wyse ondermyn, is materialisme—die opvatting dat materiële welstand en genot van die grootste belang is. Maar studies toon keer op keer dat mense verbasend min geld nodig het om gelukkig te wees. Trouens, die moontlikheid is groot dat materialistiese mense ongelukkig sal wees, ’n beskouing wat deur die Bybel gestaaf word. Prediker 5:10 sê: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie. Ook dit is nietigheid.” Die Bybel sê ook: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld.”—Hebreërs 13:5.

Goedhartigheid en vrygewigheid.

“Sal dit nie wonderlik wees as jy by ’n winkel kan instap en lewenslange geluk kan koop nie?” Hierdie woorde het verskyn in ’n artikel in die Verenigde State deur The Greater Good Science Center by die Universiteit van Kalifornië, Berkeley. “Die idee is nie so vergesog soos dit klink nie—solank dít wat jy koop, vir iemand anders is.” Wat is die punt? Om te gee, maak ons gelukkiger as om te ontvang.

Wat die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Die beste manier van gee—en die manier wat die meeste seëninge meebring—is dikwels om van onsself te gee, ons tyd en energie. Byvoorbeeld, ’n vrou met die naam Karen het drie vroue—’n ma en haar twee dogters—in ’n motor met ’n oop enjinkap sien sit. Die ma en een van die dogters moes ’n vliegtuig haal; maar hulle kon nie hulle motor aan die gang kry nie, en die huurmotor was laat. Karen het aangebied om hulle na die lughawe te neem, al sou die rit 45 minute duur. Hulle het die aanbod aanvaar. Op pad terug het Karen gesien dat die ander dogter nog steeds in haar motor in die parkeerterrein wag.

“My man is op pad”, het die vrou gesê.

“Ek is baie bly om dit te hoor”, het Karen geantwoord. “Ek is op pad na ons Koninkryksaal, of kerk, om in die tuin te gaan werk.”

“Is jy een van Jehovah se Getuies?” het die vrou gevra.

“Ja”, het Karen gesê, waarna hulle ’n rukkie gesels het.

’n Paar weke later het Karen ’n brief in die pos ontvang. Dit het gedeeltelik gesê: “Ek en my ma het nie jou wonderlike daad vergeet nie. Danksy jou was ons betyds vir ons vlug! My suster het gesê dat jy een van Jehovah se Getuies is, en dit verduidelik alles. Ek en my ma is ook Getuies, maar ek het onbedrywig geword. Ek gaan egter binnekort iets daaromtrent doen!” Karen was baie bly dat sy twee medegelowiges kon help. “Ek het gehuil van vreugde”, het sy gesê.

Die skrywer Charles D. Warner het geskryf: “Een van die pragtige vergoedings  van [die] lewe is dat enigiemand wat ’n ander persoon opreg probeer help, homself ook help.” Dit is die geval omdat God mense nie geskep het om selfsugtig te wees nie, maar om sy kosbare eienskappe te weerspieël.—Genesis 1:27.

Eerlikheid.

Hierdie etiese waarde is noodsaaklik in enige beskaafde samelewing. Oneerlikheid bevorder vrees, wantroue en maatskaplike agteruitgang.

Wat die Bybel sê: “Wie sal ’n gas in [God se] tent wees?” Die antwoord? “Hy wat onberispelik wandel en . . . in sy hart die waarheid spreek” (Psalm 15:1, 2). Ja, soos die ander eienskappe wat ons bespreek het, is ware eerlikheid ’n karaktertrek. Dit hang nie af van omstandighede of gerief nie.

Onthou jy Christina wat die sak geld gevind het? Wel, haar hartsbegeerte was om God te behaag, nie om ryk te word nie. Toe die angstige eienaar van die geld teruggekeer het, het sy dus vir hom gesê dat sy sy geld gevind het. Hy was verbaas oor haar eerlikheid. Haar werkgewer was ook, en daarom het hy Christina later bevorder tot pakhuisbestuurder, ’n pos wat groot eerlikheid vereis. Die woorde in 1 Petrus 3:10 is beslis waar: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, laat hom sy . . . lippe daarvan [weerhou] om bedrog te spreek.”

‘WANDEL IN DIE WEG VAN DIE GOEIES’

Die sedelike waardes wat in die Bybel gevind word, weerspieël ons Skepper se innige liefde vir ons, want hierdie waardes stel ons in staat om “in die weg van die goeies [te] wandel” (Spreuke 2:20; Jesaja 48:17, 18). Wanneer ons hierdie leiding volg, toon ons op ons beurt ons liefde vir God en ontvang ons baie belonings. Trouens, die Bybel belowe: “Hou [God se] weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.”—Psalm 37:34.

Ja, wat ’n wonderlike toekoms wag tog op diegene wat by Bybelstandaarde bly—lewe op ’n vreedsame aarde sonder goddeloosheid! Die waardes wat in die Bybel gevind word, verdien beslis ons aandag.