Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy “voortdurend ’n feesmaal”?

Het jy “voortdurend ’n feesmaal”?

Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal.”—Spreuke 15:15.

WAT beteken hierdie woorde? Dit verwys na ’n mens se verstandelike en emosionele toestand. “Die geteisterde” tob oor negatiewe dinge—en dit maak sy dae “sleg”, of droewig. In teenstelling hiermee probeer iemand wat “vrolik van hart is”, om op positiewe dinge te konsentreer—’n gesindheid wat innerlike vreugde bevorder sodat hy “voortdurend ’n feesmaal” het.

Ons het almal probleme wat ons van ’n mate van geluk kan beroof. Maar daar is dinge wat ons kan doen om ons te help om ons vreugde gedurende moeilike tye te behou. Kyk wat die Bybel sê.

  • Moenie jou vandag belas met kwellinge oor môre nie. Jesus Christus het gesê: “Moet julle nie oor môre bekommer nie; môre sal genoeg van sy eie bekommernisse hê. Dit is nie nodig om nog probleme te voeg by dié wat saam met elke dag kom nie.”—Matteus 6:34, Good News Translation.

  • Probeer konsentreer op die goeie dinge wat al met jou gebeur het. Trouens, wanneer jy terneergedruk voel, kan jy gerus ’n lys van hierdie goeie dinge maak en daaroor nadink. Moet ook nie tob oor foute of verkeerde dade van die verlede nie. Leer daaruit en gaan voort met jou lewe. Wees soos ’n bestuurder wat vlugtig in sy truspieëltjie kyk, maar sy oë nie heeltyd daarop hou nie. Hou ook in gedagte dat daar “by [God] ware vergifnis” is.—Psalm 130:4.

  • Wanneer jy onder kwellinge gebuk gaan, moet jy iemand in jou vertroue neem wat jou sal kan opbeur. “Angstige besorgdheid” laat ons hart “neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly”, sê Spreuke 12:25. Hierdie “goeie woord” kom dalk van ’n gesinslid of ’n vertroude vriend—iemand wat nie sinies of pessimisties is nie, maar “te alle tye [liefhet]”.—Spreuke 17:17.

Die wyse woorde in die Bybel het baie al gehelp om meer vreugde in die lewe te vind, selfs gedurende moeilike tye. Mag die kosbare woorde daarin jou ook help.