Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly gesond

Bly gesond

As jy na jou gesondheid omsien, kan jy beter vaar op skool—en selfs jou lewensgehalte verbeter.

DIT maak beslis sin om na die liggaam wat God jou gegee het, om te sien (Psalm 139:14). Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n motor besit, maar nooit moeite doen om dit in stand te hou nie. Die motor sal vroeër of later gaan staan. Dieselfde kan met jou liggaam gebeur. Watter soort “instandhouding” het jy nodig?

Rus.

As jy nie genoeg slaap kry nie, kan dit jou afgerem laat lyk en jou lusteloos, verward en selfs terneergedruk laat voel. Daarenteen sal genoeg rus jou meer energie gee. Dit kan ook jou fisiese groei versnel, jou breinfunksie verbeter, jou immuunstelsel versterk en jou emosioneel beter laat voel. Beslis baie voordele vir iets wat so min moeite verg!

Wenk: Probeer indien moontlik om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap.

Voeding.

Tieners groei vinnig. Byvoorbeeld, tussen die ouderdom van 10 en 17 verdubbel die meeste seuns se maer liggaamsmassa. Meisies gaan ook deur ’n stadium waartydens hulle vinnig opskiet. ’n Groeiende liggaam het baie voedingstowwe en energie nodig. Maak seker dat jy jou liggaam die nodige voeding gee.

Wenk: Moenie ontbyt oorslaan nie. As jy “brandstof” inneem voordat jy skool toe gaan, kan dit jou help om jou konsentrasie en jou korttermyngeheue te verbeter.

Oefening.

Die Bybel sê: “Oefening is goed vir jou liggaam” (1 Timoteus 4:8, Contemporary English Version). Dit kan jou spiere en gebeente versterk, jou meer stamina gee, jou help om jou gewig te beheer, jou verstandelike vermoëns verbeter, jou immuunstelsel versterk, stres verlig en jou gemoedstemming verbeter. Oefening kan natuurlik ook pret wees, aangesien dit bedrywighede kan insluit wat jy geniet!

Die slotsom: Genoeg slaap, die regte voeding en matige oefening sal jou help om jou “enjin” aan die gang te hou. En dit sal jou weer help om beter op skool te presteer. *

Maak ’n begin! Begin met ’n redelike oefenprogram. Hou ’n maand lank boek van jou slaap- en eetgewoontes, en kyk watter veranderinge jy moet aanbring.

“Nadat ek ’n ent gaan stap het, voel dit of ek meer energie het—selfs as ek moeg was voordat ek gaan stap het.”—Jason, Nieu-Seeland.

“Volgens my het God kos gemaak as brandstof vir ons liggaam, en ek wil die beste brandstof in myne sit!”—Jill, Verenigde State.

“Ek gaan draf drie keer per week, en twee keer per week stap ek of ry ek fiets. Oefening gee my meer energie en verlig stres.”—Grace, Australië.

^ par. 9 Vir meer inligting oor jou gesondheid, sien hoofstuk 10 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, uitgegee deur Jehovah se Getuies.