Raak georganiseerd
Die bietjie moeite wat dit verg om georganiseerd te raak, kan groot voordele meebring—meer tyd, minder stres en beter punte.
STEL jou voor dat jy by ’n winkel inloop om een item te koop, maar al die handelsware staan deurmekaar op die rakke. Hoe lank sal dit jou neem om te kry waarvoor jy soek? Sal jy dit nie makliker vind as die items netjies op ’n spesifieke plek gepak is en die rye duidelik gemerk is nie? Jy kan jou skoolloopbaan op ’n soortgelyke manier benader. Hoe?
Stel ’n rooster op.
“Eenkeer het ek heeltemal vergeet van my huiswerk—en ek het nie my takies by die huis gedoen nie—omdat ek die hele naweek by ’n vriend gekuier het”, sê die 18-jarige Zachary, van die Verenigde State. “Die Maandag moes ek my onderwysers smeek om my ’n bietjie meer tyd te gee om die werk te doen. Nou maak ek lysies wat my help om te onthou wat ek moet doen.”
Celestine, ’n jong vrou in Papoea-Nieu-Guinee, het ook gevind dat dit nuttig is om dinge neer te skryf. Sy sê oor haar skooldae: “Ek het ’n rooster opgestel vir al my bedrywighede, insluitende huiswerk, eksamen en sosiale geleenthede. Dit het my gehelp om prioriteite te stel en sperdatums te haal.”
Wenk: Maak ’n lys in ’n notaboekie van alles wat jy moet doen, of hou dit op jou selfoon of op ’n ander elektroniese toestel.
Moenie uitstel nie.
Dit is maklik om te sê: “Ek sal dit later doen.” Maar dit is beter om dinge so gou as moontlik te doen—veral jou huiswerk.
Wenk: Maak ’n punt daarvan om jou huiswerk te doen sodra jy by die huis kom, voordat jy die TV aanskakel of enige ander vorm van ontspanning geniet.
Organiseer jou skoolgoed.
Het jy al in die klas gekom en besef dat jy jou notaboek, pen of boeke vergeet het? Jy kan hierdie probleem vermy! Hoe? “Ek het my skooltas altyd vroegtydig gepak”, sê Aoeng Mio Miat, ’n jong man in Mianmar.
Wenk: Hou jou skooltas of rugsak netjies sodat jy dinge makliker kan vind.
Die slotsom: As jy georganiseerd raak, sal jy minder stres hê, want jy sal nie dinge vergeet, laat wees en voel dat jy nooit genoeg tyd het vir ander belangrike dinge nie.
Maak ’n begin! Dink aan een gebied waarop jy meer georganiseerd moet raak. Vra dan een van jou ouers of ’n vriend om saam met jou te probeer dink aan ’n paar maniere waarop jy kan verbeter.