Afrikaans
Kubermisdaad – Wat is die oplossing?
https://cms-imgp.jw-cdn.org/img/p/501100133/univ/art/501100133_univ_sqr_xl.jpg
mrt artikel 142

Kubermisdaad – Wat is die oplossing?

Kubermisdaad – Wat is die oplossing?

 Rekenaars, die internet, elektroniese toestelle en kunsmatige intelligensie (AI) het die moderne lewe heeltemal verander. Maar as gevolg van hierdie tegnologieë is daar ook ’n nuwe soort misdaad: kubermisdaad.

 “Ek het nooit gedink dat ek ’n slagoffer van aanlyn bedrog sou wees nie. Ek het gedink dat dit net iets is wat met ander mense kan gebeur. En ek was nog altyd baie versigtig.” – ’n Slagoffer van aanlyn inkopies-bedrog.

In hierdie artikel

 Wat is kubermisdaad?

 Kubermisdaad is enige onwettige daad wat met elektroniese toestelle, wat dikwels toegang tot die internet het, gepleeg word. Voorbeelde hiervan is diefstal, bedrog, afpersing, teistering of sabotasie. – Sien die venster “ Soorte kubermisdaad”.

 Hoekom is daar soveel soorte kubermisdaad?

 Daar is ’n toename in kubermisdaad omdat mense al hoe meer afhanklik word van tegnologie. Maar die werklike probleem is nie tegnologie nie – dit is mense. Die Bybel het voorspel dat mense in ons dag eienskappe sou hê wat ander kan seermaak. Hier is ’n paar negatiewe eienskappe wat in 2 Timoteus 3:1-4, 13 genoem word wat algemeen is onder kubermisdadigers:

  •   Hulle is “selfsugtig”. Kubermisdadigers gee nie om oor ander nie.

  •   Hulle is “geldgierig”. Elke jaar steel kubermisdadigers miljarde rande van mense en organisasies.

  •   Hulle is “bedrieërs”. Kubermisdadigers maak dikwels asof hulle iemand anders is sodat hulle geld of sensitiewe inligting kan steel.

  •   Hulle is “wreed . . . sonder liefde vir wat goed is”. Kubermisdadigers teiken op ’n wrede manier mense wat finansieel sukkel, of ouer, siek, eensaam of hartseer is. Party teiken noodsaaklike infrastruktuur soos hospitale, lughawens en kragnetwerke.

  •   “Hulle [sê] slegte dinge van mense.” Party kubermisdadigers probeer aspris om ’n ander persoon se reputasie te vernietig.

 Die Bybel sê ook dat “goddelose mense en bedrieërs . . . al hoe slegter [sal] word” (2 Timoteus 3:13). Kubermisdadigers is ’n voorbeeld hiervan. Hulle word al hoe meer en hulle misdade word al hoe erger.

 Die oplossing vir kubermisdaad

 Die Bybel verseker ons dat God die skadelike gevolge van misdaad, insluitende kubermisdaad, raaksien. Dit sê: “Jehovah a is bewus van wat die getroues deurmaak” (Psalm 37:18). Die Bybel belowe ook dat God nie sal toelaat dat hierdie probleme vir ewig aanhou nie. Kyk na wat hy nou besig is om te doen en wat hy binnekort gaan doen.

Vandag help God mense om ’n lewe van kubermisdaad agter te laat

 Nou: God leer miljoene mense deur middel van Bybelbeginsels om op te hou om van ander te steel of hulle te bedrieg en om eerlike, hardwerkende burgers te word (Efesiërs 4:23-25, 28). Hier is net twee voorbeelde daarvan.

 Vincent b het vals boodskappe gestuur en mense mislei om “administrasiefooie” te betaal om pryse te wen wat nie bestaan nie.

 Eendag het een van Jehovah se Getuies aangebied om saam met Vincent oor die Bybel te gesels. Hy het ingestem en het met verloop van tyd besef dat hy sy lewe moet verander. Hy het baie jammer gevoel oor die skade wat hy veroorsaak het, en vandag maak hy geld op ’n eerlike manier. Vincent geniet nou ’n vreedsame lewe met ’n doel. Hy sê:

 “Ek dank Jehovah God vir sy geduld en goedhartigheid. Ek wil nooit teruggaan na waar ek was nie.”


 Ben het voorgegee dat hy ’n aanlyn besigheid was deur vals e-posse te stuur. Hy het verkopers oortuig om vir hom produkte te stuur deur voor te gee dat mense regtig hierdie produkte by hom bestel het. Hy het ook valse romantiese verhoudings met vrouens aanlyn begin. Geleidelik het hulle hom begin vertrou en vir hom geld gestuur.

 Ben het ’n Bybelpublikasie van Jehovah se Getuies tussen boeke gevind wat iemand weggegooi het. Die dinge wat hy gelees het, het hom baie skuldig laat voel oor wat hy gedoen het. Met verloop van tyd het hy sy lewe van misdaad agtergelaat. Ben sê:

 “Eerder as om lewens te verpletter, help ek nou mense om hulle lewens te verbeter. Ek wil hê dat hulle moet vind wat ek gevind het – vriendskap met God en hoop vir die toekoms.”

 Binnekort: Omdat Jehovah God lief is vir die mensdom, belowe hy ’n wêreld sonder misdaad. God sal die manier waarop mense lewe heeltemal verander sodat almal volgens sy standaarde lewe. Dié wat voorheen ander misbruik het, sal leer hoe om eerlik te wees en sal ophou om slegte dinge te doen (Jesaja 11:9). Dié wat weier om te verander, sal nie toegelaat word om in daardie wêreld te bly nie (Spreuke 2:21, 22). Ons kan God se belofte vertrou, want hy is die Almagtige, en niks is vir hom onmoontlik nie. – Matteus 19:26; Openbaring 21:5.

 Hoe om jouself teen kubermisdaad te beskerm

 Vir nou is kubermisdaad ’n realiteit waarmee ons moet lewe. Maar die Bybel gee ons praktiese raad om veilig te bly. Al is dit geskryf voordat ons elektroniese toestelle gehad het, is daar tydlose beginsels daarin.

 “Denkvermoë [sal] oor jou wag hou en insig [sal] jou beskerm.” – Spreuke 2:11.

 “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.

 “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra.” – Spreuke 27:12.

 Hierdie beginsels stem ooreen met die volgende voorstelle van deskundiges in die veld van kuberveiligheid.

  1.  1. Gebruik toegangsleutels, c of gebruik verskillende wagwoorde wat moeilik is om te raai vir elke rekening. Oorweeg dit om ’n app te gebruik wat jy kan vertrou om jou wagwoorde te stoor.

  2.  2. Aktiveer multifaktorverifikasie d wanneer dit ook al moontlik is.

  3.  3. Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om seker te maak dat jy veilig bly wanneer jy jou elektroniese toestel gebruik. Dit sluit in:

    •   Webadresse, e-posadresse en sosialemediarekeninge. Kyk deeglik na die spelling, want misdadigers maak dikwels valse weergawes wat soortgelyk aan die oorspronklike weergawes lyk. Om dit te doen, gebruik hulle dalk letters of nommers wat soos mekaar lyk – byvoorbeeld die nommer nul (0) in plaas van die letter “O”.

    •   Aanhangsels. Maak seker dat die persoon wat dit gestuur het, iemand is wat jy vertrou. Selfs dan moet jy jouself vra: ‘Lyk die boodskap of aanhangsel vreemd?’

    •   Kodes wat geskandeer kan word. Kodes kan mee gepeuter word, soos wanneer iemand die oorspronklike kode bedek met ’n kode wat jou na ’n gevaarlike webwerf toe neem. Moenie ’n kode skandeer wat jy nie vertrou nie.

  4.  4. Pasop vir boodskappe, advertensies en enige soort oproepe wat probeer om druk op jou te plaas om vinnige besluite te maak of wat jou iets belowe wat te goed klink om waar te wees.

  5.  5. Voordat jy persoonlike inligting deel, of dit nou deur teksboodskappe, sosiale media of AI-hulpmiddele is, dink eers aan wie dalk jou inligting sal ontvang en hoe dit gebruik kan word.

  6.  6. As jy nie weet waar ’n toestel, soos ’n USB-stokkie, vandaan gekom het nie, moet dit nie by enige van jou elektroniese toestelle insit nie.

  7.  7. Gebruik betroubare antivirusprogramme of anti-indringerwareprogramme. e

  8.  8. Installeer net apps en sagteware wat jy nodig het en vertrou, en maak seker dat jy die nuutste weergawe het. Aktiveer net noodsaaklike toestemmings vir apps en verwyder enige apps wat onnodig is of wat jy nie vertrou nie. Pasop vir hoërisiko-sagteware en hoërisiko-webwerwe soos dié wat te doen het met dobbelary, onwettige sagteware en pornografie.

  9.  9. Gebruik betroubare en veilige betalingsmetodes, en stel limiete vir transaksies op finansiële apps.

  10.  10. Moenie publieke Wi-Fi vir sensitiewe transaksies gebruik tensy jou konneksie veilig is nie. f

  11.  11. Sluit toestelle, en moet dit nie in die openbaar laat rondlê nie.

  12.  12. Maak seker dat al jou inligting verwyder is g voordat jy jou toestel weggooi of dit vir iemand gee.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”

b Name is verander.

c Toegangsleutels is ’n moderne en veiliger alternatief vir tradisionele wagwoorde. In teenstelling met wagwoorde wat onthou moet word en wat gesteel, geraai of by ingebreek kan word, skep ’n toegangsleutel ’n digitale sleutel wat op jou toestel gestoor word.

d Multifaktorverifikasie vereis ten minste twee verskillende maniere om jou identiteit te bewys, soos ’n wagwoord en ’n vingerafdruk of ’n app wat vir jou ’n tydelike kode stuur.

e Indringerware, of kwaadwillige sagteware, verwys na sagteware wat ontwerp is om rekenaarstelsels of hulle gebruikers skade aan te doen.

f Jy kan jou internetkonneksie veilig maak deur ’n betroubare virtuele privaatnetwerk (VPN) te gebruik.

g Jy kan dit doen deur jou toestel na sy standaardinstellings terug te stel of deur ’n program te gebruik wat al jou inligting permanent uitvee.