Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

“Julle sal lewend word”

“Julle sal lewend word”

ESEGIËL 37:5

HOOFPUNT: Die visioen van die “droë beendere” wat weer lewend word en die groter vervulling daarvan

1-3. Wat het veroorsaak dat die Jode in Babilon hoop verloor het? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)

DIE Jode in Babilon het heeltemal hoop verloor! Vir ongeveer vyf jaar het Esegiël alles gedoen wat hy kon om hulle te waarsku dat Jerusalem vernietig sou word, maar dit het niks gehelp nie. Maak nie saak watter tekens hy uitgebeeld het nie, watter illustrasies hy gebruik het nie of watter boodskappe hy vir hulle gegee het nie, die gevangenes het geweier om te glo dat Jehovah sou toelaat dat Jerusalem vernietig word. Selfs toe hulle gehoor het dat die leërmag van Babilon die stad beleër het, het hulle nog steeds geglo dat die mense van Jerusalem veilig sou wees.

2 Maar nou, twee jaar nadat die beleëring begin het, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, in Babilon aangekom en gesê: “Die stad het geval!” Die gevangenes is verpletter. Hulle kan nie glo wat gebeur het nie: Die stad wat hulle so liefhet, die heilige tempel en hulle pragtige land is alles vernietig! Die hoop wat hulle voorheen gehad het, het nou verander in hopeloosheid. – Eseg. 21:7; 33:21.

3 Maar in hierdie baie moeilike tyd ontvang Esegiël ’n kragtige visioen vol hoop. Wat beteken die visioen vir die gevangenes? Wat beteken die visioen vir God se volk vandag, en hoe help hierdie visioen ons persoonlik? Om die antwoorde te kry, kom ons kyk na wat Jehovah vir Esegiël gesê het.

“Profeteer oor hierdie beendere” en “profeteer vir die wind”

4. Wat het vir Esegiël uitgestaan in die visioen wat hy ontvang het?

4 Lees Esegiël 37:1-10. In ’n visioen word Esegiël in ’n vallei vol beendere neergesit. Om seker te maak dat Esegiël die volle impak van die visioen voel, het Jehovah vir hom gesê om “oral tussen” daardie beendere rond te loop. Terwyl Esegiël in die vallei rondgeloop het, het twee dinge vir hom uitgestaan: Daar was “’n groot aantal beendere”, en “hulle was baie droog”.

5. Watter twee opdragte het Jehovah vir Esegiël gegee, en wat het gebeur nadat Esegiël gedoen het wat Jehovah vir hom gesê het?

5 Toe het Jehovah vir Esegiël twee opdragte gegee wat die begin sou wees van ’n geleidelike herstelling. Die eerste opdrag was: “Profeteer oor hierdie beendere,” en sê vir hulle om ‘lewend te word’ (Eseg. 37:4-6). Net nadat Esegiël geprofeteer het, “was daar ’n geluid, ’n geratel, en die beendere het begin bymekaarkom”. Daarna het “senings en vlees” op die beendere gekom, “en vel het hulle bedek” (Eseg. 37:7, 8). Die tweede opdrag was: “Profeteer vir die wind”, en sê vir die wind om op die liggame te “waai”. Toe Esegiël geprofeteer het, het “asem . . . in hulle ingegaan, en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan, ’n baie, baie groot leërmag”. – Eseg. 37:9, 10.

“Ons het almal uitgedroogde beendere geword, en ons hoop het verdwyn”

6. Wat het Jehovah gesê wat Esegiël gehelp het om die visioen te verstaan?

6 Toe het Jehovah vir Esegiël gesê wat die visioen beteken. Hy het gesê: “Hierdie beendere is die hele huis van Israel.” Nadat die gevangenes gehoor het dat Jerusalem vernietig was, het dit vir hulle gevoel asof hulle dood was. Daarom het hulle gesê: “Ons het almal uitgedroogde beendere geword, en ons hoop het verdwyn. Ons is heeltemal afgesny” (Eseg. 37:11; Jer. 34:20). Toe het Jehovah dit duidelik gemaak dat die visioen van die beendere eintlik vir die Israeliete ’n boodskap vol hoop was.

7. Wat het Jehovah aan Esegiël bekend gemaak volgens Esegiël 37:12-14, en waarvan het dit Sy volk verseker?

7 Lees Esegiël 37:12-14. Deur middel van hierdie visioen het Jehovah die gevangenes verseker dat hy hulle weer lewend sou maak en hulle sou terugneem na hulle land sodat hulle daar kon woon. En Jehovah het hulle weer “my volk” genoem. Daardie woorde moes baie aanmoedigend gewees het vir die moedelose gevangenes! Hoekom kon hulle seker wees dat hierdie herstellingsbelofte waar sou word? Want Jehovah het self daardie belofte gemaak. Hy het gesê: “Ek, Jehovah, [het] gepraat . . . en dit gedoen.”

8. (a) Hoe was “die hele huis van Israel” geestelik dood? (b) Hoe wys Esegiël 37:9 wat die oorsaak van Israel se simboliese dood was? (Sien voetnoot.)

8 Hoe het die eerste gedeelte van hierdie profetiese visioen in die geval van die eertydse nasie Israel waar geword? Israel se simboliese ondergang het alreeds in 740 VHJ begin toe die tienstammeryk geval het en die mense in gevangenskap geneem is. Ongeveer 130 jaar later, toe die mense van Juda ook gevange geneem is, was “die hele huis van Israel” in gevangenskap (Eseg. 37:11). Die hele groep gevangenes was toe in ’n simboliese sin so dood soos die beendere in Esegiël se visioen. * Onthou ook dat Esegiël nie net beendere gesien het nie, maar beendere wat “baie droog” was, wat gewys het dat hulle vir ’n lang tyd geestelik dood was. En dit was so, want die gevangenskap van Israel en Juda was saam meer as 200 jaar lank, vanaf 740 tot 537 VHJ. – Jer. 50:33.

9. Hoe kan die dinge wat met “die Israel van God” gebeur het, vergelyk word met wat die Israeliete ondervind het?

9 Die herstellingsprofesieë oor Israel, soos dié wat Esegiël vertel het, het ’n groter vervulling (Hand. 3:21). Die nasie Israel was “doodgemaak” en was vir ’n lang tyd in ’n simboliese sin dood. Net so was “die Israel van God”, die gemeente van gesalfde Christene, in ’n simboliese sin doodgemaak, en hulle was vir ’n lang tyd in geestelike gevangenskap (Gal. 6:16). Om die waarheid te sê, die gevangenskap van die gemeente van gesalfdes het so lank aangehou dat hulle geestelike toestand vergelyk kon word met beendere wat “baie droog” was (Eseg. 37:2). Soos die vorige hoofstuk verduidelik het, het die gevangenskap van die gemeente van gesalfde Christene in die tweede eeu HJ begin, en dit het honderde jare lank aangehou, net soos Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid gewys het. – Matt. 13:24-30.    

Die ‘baie droë’ beendere wat Esegiël in ’n visioen gesien het, het gewys dat Jehovah se gesalfdes vir ’n baie lang tyd in geestelike gevangenskap sou wees (Sien paragraaf 8, 9)

“Beendere het begin bymekaarkom”

10. (a) Wat het Esegiël voorspel sou met God se volk gebeur volgens Esegiël 37:7, 8? (b) Wat was van die dinge wat die geloof van lojale Jode geleidelik versterk het?

10 Jehovah het voorspel dat sy volk geleidelik lewend sou word (Eseg. 37:7, 8). Wat was van die dinge wat lojale Jode die hoop gegee het dat hulle eendag na Israel sou teruggaan? Een van die dinge wat hulle hoop gegee het, was die profesieë van profete van die verlede. Byvoorbeeld, Jesaja het voorspel dat ’n groep mense, “’n heilige saad”, na Israel sou teruggaan (Jes. 6:13; Job 14:7-9). En die baie herstellingsprofesieë wat Esegiël neergeskryf het, het daardie hoop beslis lewend gehou. Hulle hoop is ook versterk deur lojale manne in Babilon, soos die profeet Daniël. En toe hulle in 539 VHJ sien hoe Babilon val, het dit hulle selfs meer hoop gegee dat hulle sou teruggaan.

11, 12. (a) Hoe is “die Israel van God” geleidelik herstel? (Sien ook die venster “Rein aanbidding word geleidelik herstel”.) (b) Watter vraag ontstaan wanneer ons Esegiël 37:10 lees?

11 Hoe is “die Israel van God”, die gemeente van gesalfde Christene, ook geleidelik herstel? Toe hulle al honderde jare lank in geestelike gevangenskap was, was daar “’n geluid, ’n geratel” toe gelowige mense ware aanbidding begin verdedig het. Byvoorbeeld, in die 1500’s het William Tyndale die Bybel in Engels vertaal. Die godsdiensleiers van die Rooms-Katolieke Kerk was baie kwaad omdat gewone mense toe die Bybel kon lees. Tyndale was doodgemaak. Maar ander moedige mense het aangehou om die Bybel in ander tale te vertaal, en geestelike lig het geleidelik deur die donker wêreld versprei omdat al hoe meer mense die Bybel kon lees.

12 Later, toe Charles T. Russell en ander wat saam met hom gewerk het, Bybelwaarhede ywerig begin bekend maak het, was dit asof “senings en vlees” op die beendere gekom het. Zion’s Watch Tower en ander publikasies het opregte mense gehelp om waarhede in die Bybel te ontdek, wat hulle gemotiveer het om by God se gesalfde aanbidders aan te sluit. In die vroeë 1900’s het “Die Fotodrama van die Skepping” en die boek The Finished Mystery God se gesalfde volk selfs meer ywer gegee. Kort daarna het God se tyd gekom om sy volk “op hulle voete” te laat staan (Eseg. 37:10). Wanneer en hoe het dit gebeur? Ons kan die antwoord kry deur te kyk na wat in eertydse Babilon gebeur het.  

“Hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan”

13. (a) Hoe het die woorde in Esegiël 37:10, 14 vanaf 537 VHJ begin waar word? (b) Watter tekste bewys dat mense van die tienstammeryk na Israel teruggegaan het?

13 Vanaf 537 VHJ het die Jode in Babilon gesien hoe die visioen begin waar word. Hoe? Jehovah het hulle lewend gemaak en hulle “op hulle voete” laat staan deur hulle uit gevangenskap te bevry en hulle na Israel te laat teruggaan. ’n Groep van 42 360 Israeliete en ongeveer 7 000 nie-Jode het Babilon verlaat om Jerusalem en die tempel te gaan herbou en om in Israel te gaan woon (Esra 1:1-4; 2:64, 65; Eseg. 37:14). Toe, omtrent 70 jaar later, het ongeveer 1 750 gevangenes saam met Esra na Jerusalem teruggegaan (Esra 8:1-20). So meer as 44 000 Jode het teruggegaan – hulle was beslis ’n “groot leërmag” (Eseg. 37:10). En God se Woord wys dat mense van die tienstammeryk, wie se voorvaders in die agtste eeu VHJ deur die Assiriërs in gevangenskap geneem is, ook na Israel teruggegaan het om te help om die tempel te herbou. – 1 Kron. 9:3; Esra 6:17; Jer. 33:7; Eseg. 36:10.

14. (a) Hoe help Esegiël 37:24 ons om te weet wanneer die profesie se belangrikste vervulling plaasgevind het? (b) Wat het in 1919 gebeur? (Sien ook die venster “Wat is die verband tussen die ‘droë beendere’ en die ‘twee getuies’?”)

14 Wat was die groter vervulling van hierdie deel van Esegiël se profesie? Soos Jehovah aan Esegiël in ’n ander profesie geopenbaar het, sou die belangrikste vervulling van hierdie herstellingsprofesie plaasvind ’n ruk nadat die Groter Dawid, Jesus Christus, as Koning begin regeer het * (Eseg. 37:24). En in 1919 het Jehovah wel vir sy volk sy heilige gees gegee. Daarom het hulle “lewend geword” en was hulle bevry uit Babilon die Grote (Jes. 66:8). Daarna het Jehovah hulle in hulle “land” laat woon, dit wil sê in die geestelike paradys. Maar hoe het Jehovah se volk van vandag ’n “groot leërmag” geword?

15, 16. (a) Hoe het Jehovah se volk van vandag ’n “groot leërmag” geword? (b) Hoe kan hierdie profesie van Esegiël ons help wanneer ons deur moeilike tye gaan? (Sien die venster “Jehovah kan ons help om weer op te staan”.)

15 Kort nadat Jesus die getroue slaaf in 1919 aangestel het, het God se aanbidders gesien hoe die volgende woorde van die profeet Sagaria begin waar word: “Baie volke en magtige nasies sal kom om Jehovah . . . te dien.” Sagaria het gedien onder die gevangenes wat na Jerusalem teruggegaan het, en hy het die mense wat Jehovah kom dien het, beskryf as “tien manne uit al die tale van die nasies”. Hulle sou die kleed van “’n Jood”, dit wil sê geestelike Israel, vasgryp en sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” – Sag. 8:20-23.

16 Vandag is daar miljoene mense wat “’n baie, baie groot leërmag” vorm. Dit bestaan hoofsaaklik uit geestelike Israel (dit wil sê die gesalfdes wat nog op die aarde is), en dit sluit ook die “tien manne” (dit wil sê die ander skape) in (Eseg. 37:10). Hierdie leërmag word al hoe groter, en as soldate van Christus volg ons ons Koning, Jesus, na die seëninge wat ons binnekort sal ontvang. – Ps. 37:29; Eseg. 37:24; Fil. 2:25; 1 Tess. 4:16, 17.

17. Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

17 Toe rein aanbidding herstel is, het God se volk ’n baie belangrike verantwoordelikheid gekry. Wat was dit? Om die antwoord te kry, moet ons kyk na ’n toewysing wat Esegiël van Jehovah ontvang het nog voordat Jerusalem vernietig was. Ons sal dit in die volgende hoofstuk van hierdie boek bespreek.

^ par. 8 Die beendere wat Esegiël in ’n visioen gesien het, was nie die beendere van mense wat van natuurlike oorsake doodgegaan het nie, maar die beendere van “mense wat doodgemaak is” (Eseg. 37:9). “Die hele huis van Israel” was in ’n simboliese sin doodgemaak toe die mense van die tienstammeryk van Israel en die mense van die tweestammeryk van Juda deur die Assiriërs en die Babiloniërs oorwin en gevangene geneem is.

^ par. 14 Hierdie profesie oor die Messias is in Hoofstuk 8 van hierdie boek bespreek.