Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 110

Timoteus help vir Paulus

Timoteus help vir Paulus

DIE jong man wat jy hier saam met die apostel Paulus sien, is Timoʹteus. Timoʹteus woon saam met sy gesin in Listra. Sy ma se naam is Euniʹce en sy ouma se naam is Loʹïs.

Dit is die derde keer dat Paulus in Listra is. Paulus en Barʹnabas het ’n jaar of wat gelede op ’n predikingsreis vir die eerste keer hierheen gekom. En nou het Paulus saam met sy vriend Silas teruggekom.

Weet jy wat sê Paulus vir Timoʹteus? ‘Wil jy graag saam met my en Silas kom?’ vra hy. ‘Jy sal ons kan help wanneer ons vir mense in ver plekke preek.’

‘Ja’, antwoord Timoʹteus, ‘ek sal graag wil saamgaan.’ Kort daarna gaan Timoʹteus van sy gesin af weg en gaan hy saam met Paulus en Silas. Maar voordat ons van hulle reis leer, kom ons kyk eers wat intussen met Paulus gebeur het. Dit is omtrent 17 jaar nadat Jesus op die pad na Damaskus aan hom verskyn het.

Onthou, Paulus het na Damaskus toe gekom om Jesus se dissipels te vervolg, maar nou is hy self ’n dissipel! Later maak party van Paulus se vyande planne om hom dood te maak, want hulle hou nie van wat hy die mense oor Jesus leer nie. Maar die dissipels help Paulus om te vlug. Hulle sit hom in ’n mandjie en laat hom buite teen die stadsmuur afsak.

Daarna gaan preek Paulus in Antiogiʹë. Dit is hier dat Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem word. Dan word Paulus en Barʹnabas uit Antiogiʹë op ’n predikingsreis na verre lande gestuur. Een van die stede waarheen hulle gaan, is Listra, waar Timoʹteus woon.

Nou, omtrent ’n jaar later, is Paulus op ’n tweede reis terug in Listra. Weet jy waarheen hulle gaan wanneer Timoʹteus saam met Paulus en Silas daar weggaan? Kyk na die kaart en leer ’n paar van die plekke ken.

Hulle gaan eers na Ikoʹnium daar naby, dan na ’n tweede stad met die naam Antiogiʹë. Daarna reis hulle na Troas, en dan na Filipʹpi, Tessaloʹnika en Bereʹa. Sien jy Atene op die kaart? Paulus preek daar. Daarna preek hulle ’n jaar en ’n half in Korinte. Uiteindelik bly hulle vir ’n kort rukkie in Eʹfese. Dan kom hulle per boot terug na Sesareʹa en reis na Antiogiʹë, waar Paulus woon.

So reis Timoʹteus honderde en honderde kilometers om Paulus te help om die “goeie nuus” te verkondig en baie Christengemeentes te stig. Gaan jy, wanneer jy ouer word, soos Timoʹteus ’n getroue kneg van God wees?