Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 114

’n Einde aan alle slegte dinge

’n Einde aan alle slegte dinge

WAT sien jy hier? Ja, ’n leër op wit perde. Maar kyk waar kom hulle vandaan. Die perde kom uit die hemel en galop op die wolke! Is daar regtig perde in die hemel?

Nee, dit is nie regte perde nie. Ons weet dit, want perde kan mos nie op wolke hardloop nie. Maar die Bybel praat tog van perde in die hemel. Weet jy hoekom?

Dit is omdat perde vroeër baie gebruik is wanneer mense oorlog gemaak het. Daarom vertel die Bybel van persone wat uit die hemel op perde ry om te wys dat God oorlog gaan maak teen mense op die aarde. Weet jy wat die plek genoem word waar hierdie oorlog gaan wees? Armageddon. Daardie oorlog gaan alle slegte dinge op die aarde vernietig.

Jesus is die Een wat die leiding gaan neem in die geveg gedurende hierdie oorlog by Armageddon. Onthou, Jesus is die een wat Jehovah gekies het om die koning van Sy regering te wees. Dit is hoekom Jesus ’n kroon op sy kop het. En die swaard wys dat hy al God se vyande gaan doodmaak. Moet ons verbaas wees dat God alle slegte mense gaan vernietig?

Blaai terug na Verhaal 10. Wat sien jy daar? Ja, die groot Vloed wat slegte mense vernietig het. Wie het daardie Vloed gebring? Jehovah God. Kyk nou na Verhaal 15. Wat gebeur daar? Sodom en Gomorʹra word vernietig deur vuur wat Jehovah gestuur het.

Blaai na Verhaal 33. Kyk wat gebeur met die perde en strydwaens van die Egiptenaars. Wie het die water oor hulle laat terugvloei? Jehovah. Hy het dit gedoen om sy volk te beskerm. Kyk na Verhaal 76. Jy sal daar sien dat Jehovah selfs sy eie volk, die Israeliete, laat vernietig het omdat hulle slegte dinge gedoen het.

Ons moet dan nie verbaas wees dat Jehovah sy hemelse leërs gaan stuur om ’n einde aan alle slegte dinge op die aarde te maak nie. Maar dink net wat dit gaan beteken! Blaai om en kyk.