Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 44

Ragab help die spioene

Ragab help die spioene

HIERDIE mans is in die moeilikheid. Hulle moet wegkom of hulle gaan doodgemaak word. Hulle is Israelitiese spioene, en die vrou wat hulle help, is Ragab. Ragab woon hier in ’n huis op die muur van die stad Jeʹrigo. Kom ons vind uit hoekom hierdie mans in die moeilikheid is.

Die Israeliete is gereed om oor die Jordaanrivier in die land Kanaän in te gaan. Maar eers stuur Josua twee spioene uit. Hy sê vir hulle: ‘Gaan bekyk die land en die stad Jeʹrigo.’

Wanneer die spioene in Jeʹrigo kom, gaan hulle na Ragab se huis toe. Maar iemand sê vir die koning van Jeʹrigo: ‘Twee Israeliete het vannag hierheen gekom om die land te verken.’ Wanneer hy dit hoor, stuur die koning mans na Ragab toe, en hulle beveel haar: ‘Bring die mans uit wat in jou huis is!’ Maar Ragab het die spioene op haar dak weggesteek. Daarom sê sy: ‘Daar het mans na my huis toe gekom, maar ek weet nie van waar hulle was nie. Hulle het weggegaan net toe dit donker word, voordat die stadspoort toegemaak is. As julle gou maak, kan julle hulle vang!’ Toe het die mans hulle agternagesit.

Wanneer hulle weg is, gaan Ragab gou op na die dak toe. ‘Ek weet dat Jehovah hierdie land aan julle gaan gee’, sê sy vir die spioene. ‘Ons het gehoor hoe hy die Rooi See laat opdroog het toe julle uit Egipte weggegaan het, en hoe julle die konings Sihon en Og doodgemaak het. Ek was goed vir julle, en nou moet julle my asseblief belowe dat julle vir my goed sal wees. Red my pa en my ma en my broers en susters.’

Die spioene belowe dit, maar Ragab moet iets doen. ‘Vat hierdie rooi tou en maak dit in jou venster vas’, sê die spioene, ‘en bring al jou familielede by jou in jou huis bymekaar. En wanneer ons terugkom om Jeʹrigo aan te val, sal ons hierdie tou in jou venster sien en niemand in jou huis doodmaak nie.’ Wanneer die spioene by Josua terugkom, vertel hulle vir hom alles wat gebeur het.